Nuwe SAUK-hoë: Twitter gons, minister swyg

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van kommunikasie, het Maandag kennis van berigte dat Chris Maroleng, die groephoof van MTN se besigheidsaangeleenthede, binnekort as die nuwe operasionele hoof van die SAUK aangestel gaan word, ontken.

“Die minister wil graag die media inlig dat alle afsprake met die operasionele hoof, die hoof- uitvoerende beampte en die hoof- finansiële beampte van staatsentiteite deur kabinetskanale gereël word. Daarom word die uitslag en besonderhede van die ontmoetings deur die kabinet gemaak,” het Kubayi-Ngubane in ʼn verklaring gesê.

“Dit is die minister se verantwoordelikheid om enige aanstelling van uitvoerende beamptes by staatsentiteite aan die departement van kommunikasie deur kabinetsprosesse voor te lê. Hiervolgens dra die minister geen kennis van enige amptelike aanstelling van ʼn operasionele hoof by die SAUK nie.”

Die Sunday World het berig dat Maroleng voortaan dié posisie by die SAUK gaan beklee en die omstrede Hlaudi Motsoeneng vervang wat verlede jaar afgedank is. Bessie Tugwana, die voormalige groepshoof vir sport by die SAUK, het die afgelope paar maande in dié posisie waargeneem.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het gesê hulle is nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Maroleng was ook nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie. Talle van sy Twitter-volgelinge onder wie Rob Shuter, hoof van MTN, en Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het hom egter op Twitter gelukgewens met sy nuwe aanstelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.