Nuwe SAUK-hoofde aangestel

SABC2-nuus (Foto: SAUK)

Die raad van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het dié naweek bekend gemaak dat hy ʼn nuwe groep- uitvoerende hoof en ʼn hoof- finansiële beampte aangestel het as deel van sy pogings om stabiliteit by die uitsaaier te bewerkstelling.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die raad, sê Madoda Mxakwe sal vanaf 1 Julie as die groep se uitvoerende hoof dien terwyl Yolande van Biljon vanaf 25 Junie as die finansiële hoof sake oorneem.

Mxakwe word glo aangestel weens die spektrum vaardighede en kundigheid wat hy in die verlede in uitvoerende posisies in onder meer kommunikasie en openbare belange opgedoen het. Hy is glo veral geslyp in besigheidstranformasies en het in ʼn senior posisie vir Nestlé in onder meer Mosambiek, Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho gewerk. Hy het ʼn meestersgraad aan die University of Sussex in die Verenigde Koninkryk behaal.

Van Biljon was voorheen in diens van Denel Dynamics waar sy ook die finansiële hoof was. Sy is ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester wat ook ʼn meestersgraad in rekeningkunde verwerf het.

“Hierdie aanstellings bevestig ons verbintenis om die beste vaardighede na die maatskappy te lok en dié vaardighede te behou om sodoende die SAUK na hoër hoogtes te neem. Die aanstellings het ook ten doel om die ontwikkelende uitsaai-omgewing te monitor wat teweeg gebring is deur tegnologie en veranderende mediaverbruikerspatrone.”

Mxakwe sê dié aanstellings sal glo verder daartoe bydra om die uitsaaier se posisie as ʼn geloofwaardige en betroubare diensverskaffer van openbare dienste te vestig.

Die aanstellings kom kort nadat die SAUK ook ʼn nuwe hoof van interne oudit, ʼn groep- uitvoerende hoof vir menslike hulpbronne en ʼn groep- uitvoerende hoof vir nuus en aktuele sake aangestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.