Nuwe seefront by Hartenbos beplan

Pretpark by Hartenbos Foto: ATKV Hartenbos

Pretpark by Hartenbos Foto: ATKV Hartenbos

Met ’n trotse geskiedenis van 79 jaar is ATKV-Hartenbos gereed om ’n nuwe baadjie aan te trek. Dit kom nadat die ATKV vandeesweek toestemming verkry het om voort te gaan met die planne vir die ontwikkeling van die Hartenbos Seefront.

Na verskeie gesprekke en voorleggings, het die Raad van die Mosselbaai Munisipaliteit die goedkeuring aan die ATKV verleen om voort te gaan met die projek.

Volgens Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, gaan die eerste fase van die ontwikkeling in Julie 2015 begin. “Die ontwikkeling is nie net ʼn aanwins vir die ATKV en sy lede nie, maar ook vir Mosselbaai en die Suid-Kaapse toerismebedryf,” het hy gesê.

Die ontwikkeling sal in vier fases gedoen word waarvan die eerste fase teen November 2015 afgehandel sal wees om te verseker dat vakansiegangers oor die feesseisoen hul welverdiende vakansie kan geniet. In dié eerste fase sien die ontwikkeling as volg daarna uit:
• die Skoffelskuur en Na Donker-kuierplek en restaurant verskuif na langs die Walvissaal;
• die konstruksie van die ablusieblok op die B-kampeerterrein;
• die warmwater-onderdakswembad word opgegradeer en uitgebrei;
• die konstruksie van die eerste gedeelte van die kleinhandelfasiliteite en nuwe pretpark begin; en
• verskeie pad-opgraderings word rondom die terrein voltooi.

Belangstelling onder kleinhandelaars vir vloerspasie in die ontwikkeling is reeds baie groot en onderhandelinge begin nou in alle erns om vir gaste, kopers en die gemeenskap waarde en verskeidenheid te bied.
“’n Nuwe maatskappy is reeds gestig om uitvoering aan die projek te gee en die ATKV sal ’n aandeel van 50% plus een hê,” het Gouws bygevoeg. “Die res sal deur ander aandeelhouers besit word. Alle werk gedurende die ontwikkeling sal deur middel van ‘n deursigtige tenderproses hanteer word. Plaaslike diensverskaffers sal ook aan die prosesse kan deelneem.”

Hy het gesê die ATKV wil ook van die geleentheid gebruik om die volgende inligting aan gaste en besoekers aan die ATKV-Hartenbos Vakansieoord, gedurende die konstruksieperiode asook die 2015 Desember-vakansieseisoen, deur te gee:
• alhoewel die Pretpark slegs gedeeltelik toeganklik sal wees (wipmatte, minigholf en kouewaterswembad) sal daar verskeie alternatiewe vermaak vir jonk en oud aangebied word by die Amfiteater;
• weens konstruksie en die voldoening aan veiligheidsmaatreëls sal sekere parkeerareas nie beskikbaar wees tydens Desember 2015 nie, maar voorsiening vir addisionele parkering sal gemaak word; en
• ter wille van veiligheid sal ongeveer 25 staanplekke op die B-kampeerterrein gedurende konstruksie, sowel as oor Desember 2015 nie beskikbaar wees nie.

Die Hartenbos Seefront se tweede fase skop vroeg in 2016 af vir voltooiing teen Desember 2016, wat insluit die omskepping van die Walvissaal in ‘n meerdoelige sentrum wat onder andere ʼn ysskaatsbaan gedurende die vakansieseisoene sal insluit, konstruksie van verdere kleinhandelwinkels en restaurante asook n splinternuwe water- en pretpark.

Fase drie van die ontwikkeling behels die opgradering van die bestaande strandoordsentrum en fase vier sluit nuwe luukse vakansiebehuising in.

Besoek die ATKV se webwerf en hou ATKV-oorde dop vir kommunikasie oor die vordering met die ontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Peet Schabort ·

Jy kan nou “hond-uit-‘n -bos ” gaan pret maak by “Hart-in-‘n-bos”.

Wally ·

Hartenbos sal nooit weer dieselfde wees nie – moenie die “hart” uit Hartenbos uithaal nie!!!

johan ·

Baja goeie besluit om voort tegaan met projek goed vir besighede

ra ·

Haha…there goes the neighborhood..nou lok julle ongewensde elemente..daar is nie eers parkeerplek vir motors nie…gaan julle mens van voorbaai af inry met busse en aflaai…gaan motors veilig wees so ver van die Hartenbos party zone af??
…dink…julle moet dink…

Lezelda ·

Fantasties! Ons wat hier woon, kan nie wag nie . . . ons is super opgewonde!
Verandering het nog nooit skade berokken nie.

Illa ·

Ai mense, Hartenbos bars miskien Desembers uit sy nate, maar buite seisoen word die teerstrate opgerol. Hier gaan nou weer baie mense van die binneland met blink oë hul goedjies daar bo inpak en baie (indien nie al) hul spaar / aftreegeld indruk in ‘n besigheid in hierdie nuwe kompleks, net om buite seisoen te sien dit is nie lewensvatbaar nie.
Die gesegde hier lei nie verniet: Hoe verlaat jy Mosselbaai / Hartenbos met ‘n miljoen? Jy kom hier aan met 10 miljoen.
Verandering is goed, ja – maar, “if it ain’t broken, why fix it?”

Nico ·

Wat van ‘n kegelbaan? Dit verskaf groot pret waar hele gesin saam kan deelneem.

Bianca ·

Goeie Dag,
Ek sien julle is besig om lekker uit te brei. Ons is n Konstruksie Mpy wat reeds opsoek is na uitbreiding soos die waar ons ook n deel kan uitvoer. As jy dalk vir my meer inligting het op die uitbreiding sal dit waardeur word.
Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.