Nuwe selfoon-app om Covid-19-kontakte op te spoor

So lyk die nuwe app. Dit kan van Woensdag afgelaai word.

Die departement van gesondheid stel ʼn kragtige nuwe selfoon-app bekend wat mense anoniem inlig as hulle moontlik met ʼn Covid-19-pasiënt in aanraking gekom het.

Die departement het tot dusver spanne uitgestuur om fisiek opsporings in verskillende gesondheidsdistrikte te doen. Gevolglik is die WhatsApp-gegronde CovidConnect-diens bekend gestel wat mense toelaat om ander anoniem in kennis te stel as die stelsel hulle vra om dit te doen.

Die app sal die bestaande metodes versterk as ʼn manier om ander dadelik in te lig dat iemand met wie hulle in aanraking was, positief vir Covid-19 getoets het.

Volgens die departement is die app gegrond op die blootstellingskennisgewings wat deur Apple en Google ontwikkel is en mense in staat stel om hul selfone te gebruik om kontakte op te spoor. Die app beskerm gebruikers se privaatheid en versamel nie enige inligting wat ʼn gebruiker kan identifiseer of sy of haar ligging bekend maak nie.

Deur gebruik te maak van Bluetooth stuur die Covid Alert SA-app ʼn lukrake kode uit wat deur ander gebruikers se fone opgetel word wanneer die twee naby mekaar kom. Dié unieke identifiseerder verander gereeld en kan nie gekoppel word aan die identiteit van enige gebruiker nie. Mettertyd bou elke gebruiker ʼn geskiedenis op van diegene met wie hulle in aanraking was.

Die departement sê wanneer ʼn gebruiker positief toets vir die virus, word hulle gevra om die diagnose op die app aan te meld. Sodra dít gedoen word, word alle ander gebruikers met wie hulle die afgelope 14 dae in aanraking gekom het, dadelik in kennis gestel van die blootstelling en word leiding gegee oor wat volgende gedoen moet word.

In geen stadium van die proses word die identiteit van enige gebruiker bekend gemaak nie.

Opsporings-apps wat Bluetooth gebruik beteken veel meer kontakte kan veel vinniger opgespoor word. Dit sluit vreemdelinge in wat jy nie eens herken of kan identifiseer nie.

“Wêreldwye ondervinding het die gevaar van ʼn oplewing [van die virus] gewys sodra beperkings op sosiale en ekonomiese bedrywighede opgehef word. Hoewel die trajek van die epidemie in Suid-Afrika nou gestabiliseer het, bly so ʼn oplewing ʼn werklike en huidige gevaar in ons land,” het dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, gesê.

Volgens Buthelezi help die app om die verspreiding van die virus te onderdruk en nuwe uitbrekings te voorkom deur tydrowende opsporings te systap. Die tegnologie beteken ook die tydperk tussen blootstelling aan die virus en iemand wat daaroor ingelig word, word beduidend verkort. Op dié manier kan iemand vinniger in isolasie gaan of getoets word.

Gaurang Tanna, wat die app se ontwikkelingspan gelei het, sê die app word al hoe doeltreffender hoe meer mense dit gebruik.

“Ons vra dat almal die app aflaai en dat diegene wat positief getoets is hul diagnose aanmeld sodat hul kontakte ingelig kan word. Die app is ontwerp om die uitwerking op die gesondheidsorgstelsel te verminder en lewens te red, terwyl mense se privaatheid beskerm word.

“Vir elke 100 infeksies wat ons deur die gebruik van hierdie tegnologie kan verhoed, voorkom ons tussen 15 en 20 hospitaalopnames en red twee lewens.”

Volgens die departement is die app teen geen koste vir homself nie danksy ʼn vennootskap tussen ontwikkelaars by Discovery Health, Apple en Google ontwikkel. Verskeie ander maatskappye in die private sektor het ook tot die ontwikkeling van die app bygedra.

Regter Kate O’Regan, wat die regering se gebruik van tegnologie in Covid-19-opsporing monitor, het die gebruik van die app goedgekeur.

Die Covid Alert SA-app kan van Woensdag afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

So n app in Suid Afrika sal nie veel help nie want slegs ongeveer 20 miljoen of 33% van Suid Afrika se populasie het slim fone. En dan is daar mense soos ek wat alergies is vir selfone en dit nie orals saam met hul vat nie.

Star ·

Ons is nou oor die Corona dingetjie!!! Stel nie belang in leuens nie.

Persheks Adri ·

Die regering het klaar daai app op google gesit SONDER om ons te vra! Nee dankie hou verby. Julle mag NIE op ons fone iets sit sonder toestemming NIE!

#TSEK ANC tsek!!!

Vlooitjie ·

En so begin dit…stadig stelselmatig onder die dekmantel van Covid word dinge in plek gesit om net nog méér beheer oor ons te kry. Ek trust geen tracking van enige aard nie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.