Nuwe skaars fynbosspesie ontdek

Psoralea vanberkelae. Foto: www.ispot.org.za

Psoralea vanberkelae. Foto: www.ispot.org.za

‘n Nuwe skaars fynbosspesie is naby Plettenbergbaai in die Wes-Kaap ontdek.

Chris von Christierson, voorsitter van die Robberg-kuskorridor Grondeienaarsvereniging, sê die fynbos is op ‘n 16km-strook tussen Robberg en Harkerville ontdek.

Die nuwe plant, Psoralea vanberkelae, het ‘n unieke pers-en-wit blom en sal die week vir die eerste keer by die Cape Floral Kingdom-ekspo in Bredasdorp ten toon gestel word.

“Hierdie seldsame spesie is familie van die Fabaceae en is ‘n opwindende vonds. Dit verskans die Robberg-kuskorridor as die tuiste van verskeie ongewone en unieke plantspesies,” het Von Christierson gesê.

Die plant is deur Nicky van Berkel, ‘n lid van Crew, ontdek. Crew monitor skaars plante in die omgewing.

Die ontdekking is deur prof. Charles Stirton van die Universiteit van Kaapstad se departement plantkunde bevestig.

Von Christierson sê die plant het reeds begin blom en sal na verwagting in volle blom wees wanneer dit van Donderdag af by die ekspo op uitstalling is.

Von Christierson sê die Robberg-kuskorridor Grondeienaarsvereniging het versoek dat die gebied waar die Psoralea vanberkelae groei tot ‘n bewaringsgebied te verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

"Huh!" ·

Pragtige blommetjie. Ek wonder hoeveel die mensdom nog nie ontdek het nie.

Elizabeth ·

@Huh, – glo my BAIE spesies. Die probleem wat oral ondervind word is dat elke Jan Rap en sy maat ‘n nuwe ontwikkeling wil begin en hul doen nie vooraf plantstudies en ander EIA’s nie. Hier buite Krugersdorp is ‘n plek genaamd Proteadal waar ‘n fantasties mooie orgidee voorkom (sover ons weet een van die enigste plekke nog oor wat dit voorkom – dit word basies as uitgesterf gesien!)en die wil een of ander @*&&* nou ontwikkel.Dis ‘n lieflike ongerepte stuk grond. Daar is HOPE ander areas waar hul kan ontwikkel maar NEE! Dis ‘n groot geveg en die aansoek is afgekeur deur die regte owerhede, maar soos dit gaan is die kaders van Mogale City (dis nou eintlik Krugersdorp) nie tevrede want hul sou mos kickbacks uit die ontwikkeling kry en hul gaan dit teenstaan. Hooggereghofsake! Hoe ons die geveg gaan wen weet ek nie, ons almal probeer maar.Ek wens mense besef hoe hard botaniste en ander werk om sulke tipe goed vir die nageslag te bewaar. Gaan Google gerus die naam Brachycorythis conica – ek hoop ek het reg gespel en kyk dan op die sanbi webtuiste na die foto’s. Daar wys dit dit het op sowat ek dink 8 plekke voorgekom maar as jy lees is slegs EEN plek oor – dis hier in Proteadal! Dis net erg!

"Huh!" ·

Sjoe, wat ‘n stryd! Dankie vir die skakel. Ek gaan beslis Google, en ek hou duime vas dat julle die saak wen.
Groete.

Elizabeth ·

Jammer die orgidee se naam is Brachycorythis conica – google gerus! Wou naam regstel maar toe is my opmerking klaar geplaas.

"Huh!" ·

Ek het toe op die regte blommetjie afgekom. Baie mooi. Baie dankie vir die skakel.

Elizabeth ·

@Huh! Onthou as iemand jou ooit weer vra om ‘n petisie te onderteken teen ontwikkeling wat kosbare spesies en diere se tuiste sal vernietig – doen dit asb! Dankie! Moenie dat iets feitlik uitsterf voor ons optree nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.