Nuwe slaagstandaard vir wiskunde skokkend

wiskunde-03

Argieffoto.

Kenners het vandeesweek hul skok uitgespreek oor die besluit van die departement van basiese onderwys om die slaagsyfer vir wiskunde in gr. 7 tot 9 aan te pas tot net 20%.

Hoofde het verlede Vrydag ʼn departementele omsendbrief ontvang wat verklaar leerders wat hul jaar druip omdat hulle nie 40% vir wiskunde behaal het nie, nou steeds die jaar kan slaag, solank hulle minstens 20% vir dié vak behaal het en al hul ander vakke geslaag het.

Die meeste kenners is dit eens hierdie besluit van die onderwysdepartement is ʼn verdere verlaging van onderwysstandaarde onder politieke druk en dat dit die verkeerde boodskap aan leerders stuur.

“Dit druis in teen globale onderwysbeginsels. Kinders kan nou sukses behaal deur minder te werk. In die gr. 7 tot 9 seniorfase is dit juis krities belangrik om leerders te leer van deursettingsvermoë en skouer aan die wiel te sit om ʼn beter loopbaan na skool te verseker,” het Hugo Vermeulen, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers van Helpende Hand gesê.

Jacques du Plessis, ʼn dosent in wiskunde-onderrig aan die Universiteit van die Witwatersrand, meen die besluit is skokkend. “Dit is verskriklik, want ons sit reeds met eerstejaarstudente wat nie eens weet hoe om breuke bymekaar te tel nie. Dit beteken in effek dat kinders kan vorder terwyl hulle nie eens 80% van hul werk verstaan nie. Ek dink die departement doen hierdie kinders ʼn vreeslike onreg aan.”

Du Plessis meen die wiskundekurrikulum is reeds oorvereenvoudig. “Dit is nie uitdagend genoeg nie en toets ook nie meer kinders se kritiese denkvermoë oor hoe om syfers te gebruik nie. ʼn Kind kan wiskunde slaag, of ʼn onderskeiding behaal, deur net die laaste agt jaar se vraestelle te bestudeer, want dan sal hulle presies weet watter soort vrae hulle in die eindeksamenvraestelle kan verwag.”

Hy beveel aan dat die departement eerder onderwysers moet help om wiskunde as vak beter oor te dra aan leerlinge, as om die slaagsyfer afwaarts aan te pas.

Vermeulen sê die konsep om ʼn kind kwyt te skeld vir ʼn vak soos wiskunde, is nie ʼn nuwe beginsel nie, maar dat dit in die verlede gewoonlik gedoen is vir ʼn leerling wat net 2% kort om te slaag. “Daar is ook nie net suiwer na punte gekyk nie. Al die omstandighede is in ag geneem, soos die leerling se skoolbywoning, probleme by die huis, die kind se gesindheid en of die kind trauma gedurende die jaar ervaar het.”

Volgens Vermeulen word die waarde van goeie opvoedingstandaarde by die venster uitgegooi ter wille van ʼn beter nasionale slaagsyfer. “Die onderwysdepartement moet jaarliks met ʼn rooi gesig verslag lewer daaroor dat minder as 50% van kinders, wat in gr. 1 ingeskryf is, 12 jaar later matriek slaag. Dit is maar net nog ʼn manier op die syfers beter te laat lyk.”

Marius Botha, ʼn onderwyskonsultant, meen dit mag dalk ook ʼn poging wees om ʼn hoër slaagsyfer in gr. 9 te bekom, sodat die kinders voel hulle kan die skool verlaat. “Hulle is dus nie meer die verantwoordelikheid van die onderwysdepartement nie, omdat hulle nie meer skoolpligtig is nie. Wie gaan verantwoordelikheid vir hierdie kinders neem? Hulle het ʼn slaagsertifikaat, maar wat is dit werd en waarheen gaan hulle met so ʼn slaagsertifikaat?”

Jaco Deacon, adjunk-uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê die besluit sê baie oor wat die departement van hulle eie opvoeders se vermoë dink om leerders wiskunde te leer. “Dit is ’n hartseer dag dat daar so aanpassing moet wees en dui op ernstige probleme met die kwaliteit van die stelsel, opvoeder en leerders. Die probleem het ’n lang aanloop en die verlaging van die wiskunde is eenvoudig om meer leerders te laat slaag omdat die stelsel hulle in die steek laat. Die antwoord is nie net om standaard te verlaag nie, maar om  ook alternatiewe te skep soos vaardigheidskole waar kinders ’n  ambag kan aanleer en na skool self ’n inkomste kan skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

94 Kommentare

jongste oudste gewildste
Buks

Tot ek sal nou wiskunde maklik kan slaag….heee haaaaa

Lienkie

20% SKOKKEND!!!!

Varkie

Wel as jy 9 vakke het en van elke een te minste n uur se huiswerk kry dan sien ek nie regtig hoe mens moet by hou nie, ek het self gesukkel met dit toe ek op skool was, en ek het nie eers sport gedoen nie, die periode is 40 min lank, maar die eerse 15-20 word gespandeer om die huiswerk van vorige dag te merk, en dan redineer die kinders nog oor die antwoorde en dan die laaste 15min word gebruik om nuwe werk te verduidelik en huiswerk te gee ? Dit was elke dag so.. en as… Lees meer »

Diana Moolman

En more word daar ‘n bohaai op geskop omdat mense nie kwalifiseer vir poste nie!!

Cassie

Dit is sekerlik ‘n grap? Dit kan tog nie waar wees nie?