Soorte resepte:

Nuwe span beoordelaars vir ‘MasterChef SA’

Die nuwe reeks van MasterChef South Africa spog met drie nuwe beoordelaars. (Foto: Verskaf)

Die vierde seisoen van die immergewilde TV-kosprogram MasterChef South Afrika spog met vier splinternuwe beoordelaars.

Sjefs Zola Nene en Gregory Czarnecki, en kosredakteur Justine Drake is aangewys as die kulinêre meesters wat as beoordelaars gaan optree vir ʼn span nuwe tuiskokke wat meeding vir prysgeld van R1 miljoen en die gesogte titel van MasterChef.

Die nuwe MasterChef-reeks begin Maandag 28 Februarie om 18:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, wanneer 20 deelnemers by die V&A Waterfront, Kaapstad, se Makers Landing sake begin uitkook.

Nene is ʼn gevierde sjef, kosstilis en bekroonde skrywer wie se kosreis in 2007 begin het toe sy by die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch ingeskryf het. Sy het sedertdien groot sukses in die kosbedryf en op TV behaal. Sy is die skrywer van twee gewilde kookboeke. Simply Delicious het in 2017 die lig gesien en Simply Zola ʼn jaar later.

Nene was in 2017 ook ʼn lid van die beoordelaarspaneel van die Great South African Bake Off op BBC Lifestyle.

Czarnecki is in Frankryk gebore. Sy ouers was smulpape en hy was waarskynlik bestem om in die koswêreld te beland. As hoofsjef van The Restaurant in Waterkloof in Pretoria het hy in 2016 Eat Out se gesogte titel van Sjef van die Jaar verower. Hy was ʼn mentor vir die invloedryke S. Pellegrino Young Chef-kompetisie in Afrika en die Midde-Ooste en sy Franse erfenis kan vindingryk en kreatief in sy kos gesien word.

MasterChef South Africa se nuwe beoordelaars is Justine Drake, Zola Nene en Gregory Czarnecki. (Foto: Verskaf)

Justine Drake is ʼn bekende in Suid-Afrikaanse huise waar daar graag groot gekook word en was die eerste redakteur van die Fresh Living-tydskrif. Sy werk al sedert 1988 in die kosmedia en is die skrywer van vyf kookboeke. Drake is ʼn ervare TV-aanbieder en het tydens die Covid-19-pandemie ʼn nuwe reeks, “Just Cook at Home SA with Justine Drake” op YouTube bekend gestel.

Volgens die vervaardigers bring Czarnecki die perspektief van ʼn internasionale sjef na die program, terwyl Nene en Drake vir die plaaslike kundigheid sal sorg.

“Ons is baie opgewonde om een van ons gewildste programme – en taaiste werklikheidskompetisies – ná ʼn afwesigheid weer terug op die kassie te hê. Ons het nog altyd ʼn groot poel tuiskokke gehad om van te kies, maar die pandemie het beslis nóg opgelewer en dit is die ideale tyd vir MasterChef South Africa om ʼn terugkeer te maak,” sê Yolsa Phahle, hoof van algemene vermaak by MultiChoice.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.