Nuwe speaker Donderdag midde hewige teenstand gekies

Die ANC, met sy meerderheid in die parlement, het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voorheen minister van verdediging, as nuwe speaker benoem. (Argieffoto: GCIS)

ʼn Nuwe speaker sal na verwagting Donderdag vir die Nasionale Vergadering aangewys word.

ʼn Spesiale sitting van die Nasionale Vergadering (NV) begin om 11:00 om ʼn opvolger vir Thandi Modise te kies nadat sy onlangs as die nuwe minister van verdediging en militêre veterane aangewys is. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, wat deur Modise vervang is, is deur ANC-LP’s vir die pos van speaker benoem.

Die hoofregter of ʼn aangewese regter moet as voorsittende beampte dien tydens die verkiesing van die speaker. Waarnemende hoofregter Raymond Zondo het regter-president John Hlophe hiervoor aangewys.

Die spesiale sitting sal in twee afsonderlike lokale in die NV-gebou plaasvind in die lig van Covid-19-voorskrifte. Met die aanvang van die verrigtinge sal Hlophe die sitting open en dan benoemings vir die pos van speaker aanvaar. As daar meer as een nominasie is, sal Hlophe versoek dat die stemproses by wyse van ʼn geheime stemming plaasvind.

‘Mapisa-Nqakula nie geskik as speaker’

Die DA het intussen gesê Mapisa-Nqakula is nie geskik om as speaker van die Nasionale Vergadering te dien nie.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, meen ANC-LP’s se benoeming van Mapisa-Nqakula vir dié pos maak ʼn bespotting van die parlement en Grondwet.

“Terwyl die ANC probeer om ʼn wonderlike weergawe van Mapisa-Nqakula se ampstermyn in die regering te gee, is die werklikheid dat daar niks is om te vier nie. Sy is nie geskik om die parlement te lei nie, aangesien sy nie die beginsels van aanspreeklikheid en deursigtigheid aanvaar wat nodig is om die instelling te lei nie. Hierdie benoeming is slegs ʼn voorbeeld van die ANC wat ʼn onderpresterende minister herwin.”

Volgens Mazzone is daar talle voorbeelde van waar Mapisa-Nqakula glo haar posisie van mag misbruik en etiese standaarde verontagsaam het vir haar eie politieke en persoonlike gewin.

“Hoe kan die ANC ʼn persoon benoem en ondersteun wie se rekord een is van minagting van die beginsels wat die parlement wil handhaaf en bevorder? Die DA sal nie die benoeming van Mapisa-Nqakula ondersteun nie.”

EFF sal nie deel van stemproses wees

Die EFF het aangekondig dat hy nie aan Donderdag se stemproses vir ʼn nuwe speaker sal deelneem nie. Volgens die party sal hy nie pres. Cyril Ramaphosa se “skending van die skeiding van magte onderskryf nie”.

Die EFF het gesê Ramaphosa het tydens sy kabinetskommeling aangekondig dat Mapisa-Nqakula se herontplooiing binnekort aangekondig sal word. “Dit beteken Ramaphosa het self die speaker van die parlement, Modise, verwyder en haar deur ʼn voormalige minister van verdediging vervang.” Die party meen dié stap ondermyn die gees van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie.

Nog teenkanting teen Mapisa-Nqakula as speaker

ʼn Prokureursbrief is aan Lechesa Tsenoli, waarnemende speaker, gestuur in ʼn poging om te probeer keer dat Mapisa-Nqakula as nuwe speaker gekies word. Dit is deur twee politieke ontleders en die New Nation Movement namens ʼn “toenemende aantal individue” gestuur en daar word aangevoer dat Mapisa-Nqakula nie vir die pos van speaker geskik is nie.

Volgens die brief is Ramaphosa se verwydering van Mapisa-Nqakula as minister van verdediging aanvanklik verwelkom. Die standpunt is gehuldig dat sy verwyder word weens “haar lang geskiedenis van bewerings van korrupsie en wanbestuur rakende die misbruik van staatsgeld- en fasiliteite en nepotisme”.

Daar word geëis dat Mapisa-Nqakula se verkiesing tot speaker verhoed moet word, andersins kan regstappe volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johnny

“te midde van” hewige teenstand.
MM – as ‘n Afrikaanse blad, verwag ons dat julle taalstandaarde hoër as dié moet wees.

koos10

Sy en haar tjommies het mos Zim toe gevlieg tydens die lock down. Het sy al die geld terug betaal?
Sy stel ook die ANC voor die land, ner soos haar base.

Persheks Adri

Vervang een slegte kader met ‘n volgende slegte kader! Sy moet al in ouetehuis wees!

Lindi

Is regter John Hlope nie onder verdenking vir bedrog nie?

gatgogga

Daar sien ons weer kader ontplooiing:
Ramaphosa vertrou Mapisa-Nqakula, en
Zondo vertrou Hlophe.