Nuwe speaker moet dringend verkies word

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering. (AFP).

ʼn Nuwe speaker vir die Nasionale Vergadering sal dringend verkies moet word nadat Nosiviwe Mapisa-Nqakula Woensdagaand bedank het, het die DA Donderdag gesê.

Haar bedanking volg ʼn dag nadat die hooggeregshof in Pretoria haar dringende aansoek om haar inhegtenisneming te verhoed van die hand gewys het. Mapisa-Nqakula het Donderdagoggend by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion aangemeld en verskyn vandag vir die eerste keer in die hof.

Sy word daarvan beskuldig dat sy gedurende haar tyd as minister van verdediging en militêre veterane omkoopgeld van R2,3 miljoen in die vorm van sogenaamde geskenkpakkies van ʼn diensverskaffer van die weermag aanvaar het.

Volgens die reëls van die Nasionale Vergadering en ingevolge die Grondwet moet ʼn nuwe speaker verkies word sodra dié posisie vakant word.

Die DA sê hy sal aan die sekretaris van die parlement, Xolile George, skryf om die wiel aan die rol te kry.

Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, sê die huidige parlement is tot 21 Mei by magte om sy belangrike take uit te voer, en dat daar nie nou slapgelê mag word nie.

“Daar is steeds uitstaande sake van die Nasionale Vergadering wat afgehandel moet word.

“Hoewel ʼn verkiesing wink, kan ons nie nou onverantwoordelik met die voorskrifte van die Grondwet en reëls van die Nasionale Vergadering omgaan nie. Ons besluite en optrede skep bepaalde presedente en [reëls en voorskrifte] moet dus tot in die fynste besonderhede nagekom word. Dit kan eenvoudig nie gerieflikheidsonthalwe geïgnoreer word nie.”

ʼn Bedanking uit die parlement beteken ook nie dat ʼn voormalige amptenaar nie nog steeds vir beweerde misdrywe aanspreeklik gehou kan word nie.

In die lig hiervan eis die party ook antwoorde op ander ondersoeke waarby die voormalige speaker betrek word.

Gwarube sê die DA sal die parlement se komitee oor magte en voorregte en die Nasionale Raad van Provinsies se staande komitee druk vir antwoorde rakende hul ondersoeke na Mapisa-Nqakula en Amos Masondo, die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, wat met die destydse salarisverhogingskandaal van die sekretaris van die parlement verband hou.

“Tot vandag toe is die Nasionale Vergadering niks wyser oor hoe ʼn 70% salarisverhoging deur twee uitvoerende magte goedgekeur is nie. Die saak moet steeds ondersoek en afgehandel word.”

George se salaris is destyds glo met 70% verhoog sonder om politieke partye in te lig. Die salaris is aanvanklik vir R2,6 miljoen per jaar geadverteer, terwyl George vroeër meer as R5 miljoen verdien het as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging, aldus Bulletin.co.za.

Gwarube sê Mapisa-Nqakula is ondanks haar bedanking steeds verantwoordbaar in ondersoeke waarin sy ʼn “persoon van belang” is.

Indien sy aan skuldig bevind word aan enige oortredings gedurende haar onderskeie rolle in die kabinet en parlement, kan sy vervolg word, selfs as ʼn “gewone” lid van die publiek, sê Gwarube.

Verder is Masondo ook steeds in sy pos en moet sy aandeel in die betrokke salarisskandaal ook ondersoek word.

“Die parlement moet die vertroue van die mense van Suid-Afrika verdien, en om dit te doen moet ons ʼn kultuur van verantwoordbaarheid kweek. Daarom kan ons geen sake onafgehandel laat nie. Geen steen mag onaangeraak bly nie.

“Die parlement behoort aan die mense van Suid-Afrika en nie aan politici nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n R5 miljoen salaris vir ‘n staatamptenaar by ‘n organisasie wat niks bereik nie? Geen wonder die land het misluk nie.

Papsak ·

R 5 miljoen selaris nie wonder land is bankrot nie hulle doen niks en pay daai bedrag maak dit minder !!!!!!

Yvonne ·

Uit dir ANC geledere kan ek nie dink dat daar iemand is wat waarlik vir die pos waardig is nie…my beskeie mening

Martie ·

Ek sal graag hierdie kabinet ministers se CVs wil sien. En dan sal ek dit eers laat ondersoek want in my dienstyd in die staatsdiens was daar honderde vervalste sertifikate en grade. Maar glo my vir elke werk wat jy aansoek doen MOET jy ‘n diploma of graad hê al was jy ook vloere. En hulle bring dit, vals of nie en word aangestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.