Nuwe spesie na SA prof genoem

Prof Nico Smit (Foto: NWU)

Navorsers van die Queensland-museum in Australië en die Prince of Songkhla-universiteit in Thailand het ʼn nuwe skaaldierspesie na prof. Nico Smit, ʼn navorser aan die Universiteit van Noordwes (NWU), genoem.

Smit is deel van die waternavorsingsgroep aan die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die universiteit is die nuwe sirolanied isopod-spesie Metacirolana nicosmiti gedoop. Dié skaaldierspesie is op die koraalriwwe in Fidji ontdek en het baie kenmerkende diamantvormige patrone op sy kop.

Metacirolana nicosmiti (Foto: NWU)

In die Desember 2021-uitgawe van Marine Biology Research, sê drs. Niel Bruce en Eknarin Rodcharoendat dat die naam van die nuwe spesie Smit vereer vir sy bydrae tot die kennis wat beskikbaar is oor die isopode, hoofsaaklik visparasiete, van Suider-Afrika. Dit erken ook sy invloed as ʼn kollega en mentor vir talle jong wetenskaplikes.

“Prof. Smit en sy studente het tot op hede reeds meer as 36 nuwe spesies isopode regoor die wêreld, insluitend Hawaii, die Karibiese Eilande, Afrika, Australië en Indië, beskryf,” sê die universiteit.

Ander bekendes wat ook reeds dierspesies het wat na hulle vernoem is, is die wêreldbekende bioloog sir David Attenborough en Freddy Mercury van Queen-faam.

Altesaam 17 verskillende dierspesies is reeds na Attenborough vernoem. Hy beskou dit as die grootste eer vir enigiemand in die wetenskaplike gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henri ·

Baie geluk professor!

‘n PROFeet word nie in sy eie land geëer nie!

Anna-marie ·

Weet darem nie of ek sal wil hê só lelike ding moet na my vernoem word nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.