Nuwe Springbokafrigter aangekondig

Jacques Nienaber en Rassie Erasmus. Foto: Twitter.

Jacques Nienaber is Vrydag amptelik as die Springbokke se nuwe afrigter aangekondig.

Rassie Erasmus en Nienaber het ’n unieke verhouding: Hulle was saam by die Cheetahs, Stormers, Munster en die Bokke.

Met kontinuïteit wat die wagwoord vir Suid-Afrikaanse rugby is – veral met die Britse en Ierse Leeus-toer om die draai – was die 47-jarige voormalige fisioterapeut in die binnebaan om die Springbok-afrigtersleisels by Erasmus oor te neem.

Nienaber en sy afrigterspan van Mzwandile Stick, Deon Davids, Felix Jones en Daan Human sal direk aan Erasmus as SA Rugby se direkteur van rugby rapporteer.

Vir diegene wat mor oor die voormalige fisioterapeut se kwansuise gebrek aan ervaring, kyk net na sy rekord as verdedigingsafrigter gedurende die Bokke se Wêreldbeker-veldtog in Japan.

Deon Davids. Foto: Twitter.

In sewe wedstryde het die Suid-Afrikaners net 67 punte afgestaan, terwyl hulle die derde meeste duikslae (818) in die toernooi uitgevoer het.

Hoewel die Springbokke 23 punte in hul openingswedstryd teen die All Blacks afgestaan het, het Nienaber hard gewerk om die Bokke se verdediging op te skerp.

“Daar was sekere aspekte in ons verdedigingsmondering waarmee ons gesukkel het in die kragmeting teen Nieu-Seeland en ons wil graag daarop verbeter. As ek daarin vordering kan sien, sal dit my baie meer vreugde verskaf as blote punte vir/punte teen-statistieke,” het Nienaber direk ná daardie wedstryd gesê.

Die nuwe afrigterspan is reeds in Desember deur SA Rugby goedgekeur.

“Die direkteur van rugby se voorstel is eenparig deur die raad aanvaar – veral met die oog op volgehoue kontinuïteit in die opset,” het SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, gesê.

“Rassie sal as direkteur aanbly, maar dít is ’n goeie geleentheid vir Jacques om nie meer agter die skerms te werk nie, terwyl dit waardevolle toetservaring vir Daan en Deon bied.”

  • Die Bokke se afrigterspan:

Direkteur van rugby: Rassie Erasmus

Hoofafrigter: Jacques Nienaber

Hulpafrigters: Mzwandile Stick, Deon Davids, Felix Jones

Skrumafrigter: Daan Human

  • Die Bokke speel in Julie twee toetse teen Skotland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico

Dit is Nienaber met Rassie wat toutjies trek

PJN

Waar is Proudfoot. Hoekom was hy nie ook in Rassie se scope nie. Nou gaan rIg hy die Rose se voorspelers af. Die Springbokke gaan nog spyt wees oor die duur skuif.

Judge Dredd

Hoop nie ons gaan nou weer nulle probeer verdedig.

johan

Ek wonder hoe groot rugby nog is in Suid afrika?

Dolf

NZ gaan hul rugby opset weer evalueer na die mislukking in Japan. Dit kan die einde van SR beteken. Dan het SA rugby ‘n probleem om ‘n alternatief te vind.