Nuwe stelsel by Steve Biko laat siekes toustaan

Mense staan al vroegoggend in 'n ry buite die Steve Biko-hospitaal. Foto: Verskaf

Mense staan al vroegoggend in ‘n ry buite die Steve Biko-hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Nuwe stelsel wat onlangs by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria geïmplementeer is met die doel om buitepasiënte se wagtyd te verminder, beteken egter dat pasiënte in die vroeë oggendure sonder toegang tot fasiliteite buite die hospitaal moet wag.

Eldrick Joubert, ʼn 49-jarige diabeet, besoek die afgelope twee jaar maandeliks dié hospitaal om sy medikasie te kry. Hy het gewoonlik 06:00 by die hospitaal opgedaag en kon onmiddellik die hospitaal binnegaan. Joubert sê daar is genoeg sitplek, toiletgeriewe, toegang tot ʼn koffiewinkel en beskutting in die hospitaal.IMG-20140826-WA0005

Die hospitaal se nuwe toegangsbeheerstelsel het dit egter verander. Volgens ʼn brosjure wat by die hospitaal aan pasiënte uitgedeel word, is die doel van die nuwe stelsel om pasiënte se wagtyd te verminder.

Pasiënte word van 06:30 af ʼn unieke nommer toegeken, en moet dan wag tot hul nommer geroep word. Die nuwe elektroniese stelsel se doel is glo om pasiënte binne twee ure te help vandat hulle by die hospitaal aangekom het.

Volgens Joubert was dit egter nie die geval nie. “My totale wagtyd was gewoonlik vier ure binne die hospitaal. Mense wat vroeër as dit kom wag gewoonlik minder,” het hy Dinsdag aan Maroela Media gesê.

“Nou moet almal, al kom hulle hoe vroeg, buite in ʼn ry staan tot die hospitaal se deure om 06:30 oopmaak. Daar word nie spesiale vergunning vir gestremdes en bejaardes gemaak nie, hulle staan saam buite in die lang ry. Bejaarde vroue het voor my gestaan en huil omdat hulle nie so lank kon staan nie.” Volgens Joubert is daar geen sitplek, beskutting of toiletgeriewe vir die mense wat buite in die lang rye moet wag nie.

Hy sê die ry het van die hospitaal se parkeerarea, by die hoofhek uit tot op die sypaadjie langs die besige Steve Bikoweg (Voortrekkerweg) af gestaan.

Joubert sê dit het hom Maandag sowat ses ure geneem om sy medikasie te kry. “Die nuwe stelsel maak nie die wagtyd minder nie, maar dit kan ʼn mens nog hanteer. Wat my wel die meeste pla is dat daar nie voorsiening gemaak word vir die behoeftes van die mense wat nou vir ure lank buite die hospitaal moet staan totdat die deure om 06:30 oopmaak nie.”

Jack Bloom, die koukusleier van die DA in Gauteng se provinsiale wetgewer en voormalige woordvoerder van gesondheid in die provinsie, het by navraag aan Maroela Media gesê dit is onsensitief en onregverdig om van pasiënte te verwag om buite die hospitaal sonder geriewe te wag.

“Ek hoop regtig die stelsel is slegs stadig weens groeipyne,” het hy gesê.

“Dit is wel goed dat ʼn elektroniese stelsel in werking gestel word. Dit is hoogtyd dat beheer en administrasie by hospitale in ʼn digitale rigting beweeg om toestande te verbeter. So kan daar byvoorbeeld voorsiening gemaak word dat pasiënte se leërs nie wegraak nie, of verhoed word dat hulle die verkeerde medikasie ontvang. As die elektroniese toustaanstelsel reg implementeer word sal dit beter gaan, maar dit moet nie ten koste van pasiënte se reg tot die nodige geriewe wees nie, ” het Bloom bygevoeg.

Lees die hospitaal se kommentaar hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

henk ·

net nog ‘n suksesvolle gemors ontwerp en geimplimenteer deur die anc

Theresa ·

Ja nee Henk, ek stem. Maar dit gaan orals so. En orals is alles ‘n gemors en gaan alles ten gronde want hulle kan nie wyer kyk as hul geldsakke en verder as hulle neuse nie.

kleintjie badenhorst ·

Onge-ag van al die pasiente wat siek is, en so lank moet wag, sonder geriewe en goed. Kom die barbaarse goed, en druk voor die eerste mense ook nog in. Baie staan al van 3uur in nag daar, dan gebeur dit. Wat van as dit reen. Dit vat baie langer, as wat dit eers gegaan het. Hoop daar is iemand wat Rekord en Beeld ook more sal uitstuur om te gaan kyk. Baie dankie, byvoorbaat. Klientjie Badenhorst.

ekke ·

Julle sal natuurlik wag..dis Afrika tyd. En as hulle nie die antwoord ken nie sê hulle nog makliker – ons sal terug kom! SA en sy rampe! Grap.

Leonie ·

Snaaks dat dit so woes in Gauteng gaan. My ouers bly in Oudtshoorn en daar is dit 100% beter as hier by ons. Die diens is uitstekend en dit gaan nogal vinnig. Snaaks hoe mense oorsee nie vir mediese fondse betaal nie want die Staat dek dit maar in SA moet mense betaal. Kry mense wat wil werk by hospitale en mense wat die werk reg kan doen. Pateties. Net geld gemors met hulle simpel sisteem!!

SNEL ·

Hoe de hoenders moet n ou mens so lank staan en selfs as jy siek is en nie lekker voel nie. Dis pateties verby. Bou dan n groot oop saal met n dak en sitplekke met toilette en laat hul daar wag tot hul geroep word, of as die finansies vir so iets weer gesteel is, gaan terug na die ou reëlings, wat gewerk het.

Thea Loots ·

Ek laai ook elke maand my man daar af om 6 uur die oggend.Gewoonlik by nege uur dan laat weet hy my hy het kla sy medikasie ontvang.Gister het hy eers 13:00 uur my laat weet hy is nou kla.My man 65 het ook probleme met sy bene en rug kan nie te lank staan nie.Wat die geriewe aan betref,die meeste van daardie mense druk hul medikasie vroeg ,wat van die mense wat waterpille drink waarheen moet hul gaan.

Jakes ·

Dis goed dat daar ‘n digitale stelsel kom, want die bestaande stelsel is horingoud en baie stadig. Maar die idioot wat gedink het almal moet buite staan en wag moet pakslae kry. Magtig man, mense kom juis hospitaal toe omdat hulle siek is. Nou moet hulle buite in die koue staan? Wat as dit reen? Waar moet die ouens wat al 3 uur aankom gaan piepie? Die bestuur moet skaamkry vir sulke onbevoegde en ondeurdagte besluite!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.