Nuwe stelsel vir toeken van ID-nommers oorweeg

(Argieffoto)

Die departement van binnelandse sake sê hy oorweeg verskeie opsies om moontlik die bestaande 11-syfer-ID-nommer te vervang. Dit sluit in die toekenning van ʼn lukrake nommer.

Die voorgestelde veranderings aan die manier waarop ID-nommers toegeken word, is onlangs in die Staatskoerant afgekondig.

Volgens die departement is lukrake nommers die voorkeurkeuse vir die toekenning van ID-nommers, veral omdat dit privaatheid en sekuriteit verbeter. In hierdie stadium word kodes in Suid-Afrika gebruik om ID-nommers toe te ken.

Lukrake nommers gee egter geen persoonlike inligting weg nie. Gekodeerde nommers maak dit makliker vir bedrieërs om ʼn ID-nommer te raai gegrond op die moontlike kombinasies uit dit wat hulle reeds van iemand weet. Gekodeerde nommers kan byvoorbeeld inligting oor ʼn persoon se nasionaliteit, blyplek of geslag bekend maak – alles inligting wat met die verloop van tyd kan verander.

Die departement sê daar is verskeie gapings in bestaande beleid: Die voortgesette gebruik van die groen ID-boeke verhoog die kans op identiteitsdiefstal, papiergeboortesertifikate kan op geen manier aan ʼn spesifieke kind gekoppel word nie en verhoog die kans op bedrog, daar kan eers op 16-jarige ouderdom vir ʼn ID aansoek gedoen word – en biometriese data oor ʼn persoon word dan vir die eerste keer eers ingesamel – ʼn situasie wat deur misdadigers uitgebuit word.

In die huidige stelsel kan ID-nommer boonop gedupliseer word.

Die departement sê verskeie kwesbare groepe sukkel ook om ingevolge die bestaande beleid die stelsel te gebruik. Dit sluit in nie-binêre mense, diegene wie se geboortes nie tydig geregistreer is nie, kinders van buitelanders wat in Suid-Afrika gebore is, verlate kinders van wie geen inligting oor hul ouers bekend is nie, kinders van tieners wat nie iemand het om die geboorte namens hulle te registreer nie, kinders van asielsoekers, armes, landelike inwoners en bejaardes.

Ingevolge die voorgestelde beleid moet die bevolkingsregister ook voorsiening maak vir ʼn kategorie wat nie manlik of vroulik is nie. “Dit is ʼn geslagskategorie wat voorsiening maak vir biologiese mans met vroulike genderidentiteit, of die uitdrukking van biologiese vroue met ʼn manlike genderidentiteit of uitdrukking in die identiteitstelsel,” lui die dokument.

In hierdie stadium is die sewende syfer van ʼn Suid-Afrikaanse ID-nommer ʼn aanduiding van of iemand manlik of vroulik is – 0 tot 4 is vir vroue en 5 tot 9 word vir mans gebruik – maar dit is ʼn omstrede kwessie vir mense wat nie as een of die ander geslag identifiseer nie.

Die departement stel voor dat hierdie syfer met byvoorbeeld ʼn “x” vervang word.

Die direkte en indirekte koste verbonde aan die verkryging van ʼn ID dra verder by tot uitdagings.

Die departement sê dit is in hierdie stadium moontlik vir enigiemand wat nog nie aansoek gedoen het vir ʼn ID nie, om enigiemand anders wat ook nog nie aansoek daarvoor gedoen het nie, se inligting te gebruik omdat geen biometriese data vasgevang is nie.

Die departement sê hy het tans ook geen manier om te bevestig dat die geboortesertifikaat wat voorgelê word wanneer iemand aansoek vir ʼn ID doen, werklik aan die persoon behoort nie. Enige kind kan dus ʼn ander kind se identiteit opeis. Dit gebeur volgens die departement in gevalle waar oorlede kinders se geboortesertifikate aan buitelanders verkoop word en die sterfte nie by die departement geregistreer word nie.

Die departement wil dié probleme uitskakel deur kinders se biometriese data by geboorte vas te vang wanneer die geboorte geregistreer word, sodat daar tydens latere interaksie met die departement en alle instellings juistheid is oor die data.

Die voorstelle is in hierdie stadium oop vir insette deur die publiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.