Nuwe stelsels wil bedreigings op see bekamp

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

deur Alec Basson van die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie, Universiteit Stellenbosch

Kuslande in Afrika kry toenemend met talle bedreigings op see, soos seerowery, onwettige visvangpraktyke en die besoedeling van seelewe, te doen. En hulle het nie altyd die kapasiteit en vermoë om hierdie gevare betyds raak te sien en hul maritieme jurisdiksiegebiede te beskerm nie.

“Kuslande word gekortwiek deur ʼn gebrek aan intelligensie om bedreigings op te spoor en te evalueer, ʼn baie groot jurisdiksiegebied, ʼn beperkte hoeveelheid maritieme hulpbronne vir wetstoepassing, ʼn groot hoeveelheid en verskeidenheid van potensiële gevare en teenstrydige doelstellings van hoe hulpbronne vir maritieme wetstoepassing aangewend behoort te word.”

Só sê dr. Alexandre Colmant, ʼn data-ontleder van Kaapstad, wat onlangs sy doktorsgraad in bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Sy studieleier was prof. Jan van Vuuren van die US se Departement Bedryfsingenieurswese.

Colmant het as deel van sy doktorale studie ʼn gedeeltelik ge-outomatiseerde besluitsteunstelsel ontwikkel wat kan bydra tot die doeltreffende toewysing van hulpbronne soos patrollie- en militêre skepe en gewapende helikopters vir maritieme wetstoepassing om potensiële bedreigings betyds te ondersoek. Dit kan ook help keer dat baie mense en/of organisasies wegkom met onwettige aktiwiteite op see.

“Aangesien die aantal potensiële bedreigings op see oorweldigend kan wees en die besluitnemingsproses gewoonlik kompleks is, kan die kwaliteit van besluite rakende die toewysing van hulpbronne aansienlik verbeter word deur maritieme operateurs van gerekenariseerde ondersteuning te voorsien.”

Colmant het beginsels van wiskundige modellering en vier hoë-vlak tegnieke gebruik om die besluitsteunstelsel in twee realistiese, maar gesimuleerde maritieme wetstoepassingscenario’s van wisselende kompleksiteit onder verskillende berekeningstye te toets.

“Daar is bevind dat, gegewe die kompleksiteit van die scenario’s en die hoeveelheid berekeningstyd, sekere soektegnieke beter is as ander om ʼn stel hoë-kwaliteit alternatiewe van alle haalbare oplossings te vind wat menslike operateurs tydens die komplekse besluitnemingsproses kan gebruik.”

Colmant sê dit is slegs met behulp van gerekenariseerde ondersteuning moontlik om op ʼn gegewe tydstip effektief en vinnig deur die baie alternatiewe te sif ten einde die een wat die meeste deur operateurs verkies word te identifiseer.

“My besluitsteunstelsel sal moontlik maritieme wetstoepassingsagentskappe help om operasies op see meer effektief uit te voer. Dit sal die koers waarteen bedreigings geneutraliseer word verhoog en daartoe bydra dat meer potensieel gevaarlike aktiwiteite ondersoek word. Verder sal dit laer bedryfskoste en ʼn hoër vlak van konsensus onder die verskillende maritieme besluitnemingsliggame tot gevolg hê.”

“Operateurs sal moontlik die stelsel as riglyn kan gebruik om hul besluite te bekragtig en/of te regverdig veral wanneer daar baie onsekerheid is rakende die waargeneemde maritieme scenario.”

Colmant sê die gebruik van die stelsel in ʼn werklike situasie kan moontlik ook operateurs se stresvlakke, wat tipies met die neem van moeilike besluite geassosieer word, verminder.

Hy wys egter daarop dat hoewel die stelsel intyds baie makliker as menslike operateurs kan bepaal wat die waarskynlikheid is dat ʼn gegewe voorwerp of aktiwiteit op see dalk ʼn moontlike bedreiging inhou, dit nie ʼn refleksie op die bevoegdheid van menslike operateurs sou wees nie.

“Hoewel daar minder op mense gesteun mag word om belangrike besluite rakende potensiële gevare op see te neem, beteken dit nie dat menslike operateurs oorbodig en sonder “werk sal sit nie. Trouens, dit is belangrik dat die gekombineerde kundigheid van hierdie operateurs saam met die besluitsteunstelsel gebruik word.”

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

Colmant sê navorsing het getoon dat in ontwikkelende kuslande besluite oor hoe maritieme wetstoepassing rakende moontlike bedreigings op see moet geskied dikwels uitsluitlik deur mense geneem word sonder die gebruik van ge-outomatiseerde besluitsteunstelsels.

“Hierdie besluite word gewoonlik geneem deur een of meer individue wat op intuïsie en ervaring in maritieme wetstoepassing staatmaak. Sulke besluite is nie die uitvloeisel van ʼn ge-outomatiseerde, analitiese proses nie.”

Colmant meen menslike operateurs sou die besluitsteunstelsel kon gebruik om die verskeidenheid opsies vir besluitneming tot hul beskikking te identifiseer en te beperk nog voordat die soek- algoritmes in werking gestel word.

“Dit sal baie berekeningstyd spaar en ook die waarskynlikheid dat goeie alternatiewe gevind kan word verhoog.”

Colmant sê die besluitsteunstelsel moet nog verfyn word en meer navorsing is nodig om die sterkpunte aan belanghebbers uit te wys en sekere maniere te vind om dit te verbeter of te verander.

“Die stelsel moet nog getoets word teen ʼn groep menslike operateurs wat uitsluitlik op hul ervaring in die veld staatmaak.”

Wat die moontlike toekomstige gebruik van sy stelsel betref, sê Colmant hy bly in verbinding met die Instituut vir Maritieme Tegnologie in Simonstad, en het ook sy bevindinge met Krygkor in Pretoria gedeel.

Colmant voeg by dat hy steeds deeltyds navorsing wil doen en sy bevindinge in akademiese tydskrifte wil publiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

marous ·

Die monitering en opsporing is ‘n vulletjie …. dit word reeds deur privaat persone KOSTELOOS aan die regering gerapporteer. Die probleem is die onbevoegdheid en onbereidwillendheid deur die owerheid om op te tree . Geen gevolge vir oortreders nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.