Nuwe teeltrop wildehonde vir Mabula

Twee lede van die trop begin die reservaat verken. (Foto: Verskaf)

ʼn Private wildreservaat in Limpopo is ʼn teeltrop wildehonde ryker nadat daar verlede jaar onverwags twee wildehonde by die reservaat opgedaag het en daar noodgedwonge twee tewe vir hulle gevind moes word.

Die groep het weke lank saam tyd in ʼn tydelike skuiling deurgebring voordat hulle onlangs as ʼn trop vrygelaat is.

Die Mabula- private wildreservaat sê in ʼn verklaring die jongste teeltrop is verlede week in die suidelike gedeelte van die reservaat vrygelaat. Die twee reuns en twee tewe is die tweede bestaande teeltrop van Afrika-wildehonde in die Waterberg-omgewing waarvan bewaringsamptenare bewus is.

Die trop is gevorm nadat die reuns verlede jaar natuurlik van hul trop in die noorde van Limpopo op soek na tewe uitgewyk het.

Hulle het 330 km ver gereis voordat hulle in Julie verlede jaar by Mabula geland het.

“Met geen geskikte volwasse tewe in die reservaat beskikbaar nie, is twee tewe in die vrylopende Waterberg-wildehondbevolking vir hervestiging geïdentifiseer,” sê ʼn woordvoerder van die reservaat.

“Die tewe is in Maart, net voordat hulle natuurlik uit hul trop sou beweeg, verskuif om deel te word van die mannetjies se trop.”

Die vier wildehonde het weke lank nodig gehad om aan mekaar en die omgewing gewoond te raak voordat hulle in die reservaat vrygelaat is.

“Die band tussen die honde is uiters sterk gevestig, en hulle beweeg nou as ʼn trop saam in die reservaat rond.”

Met minder as 650 Afrika-wildehonde wat tans in Suid-Afrika oor is, dra die nuwe teeltrop heelwat by tot die langtermynbewaring van dié spesie.

Wouter Pienaar, algemene bestuurder van Extraordinary, die bedryfsmaatskappy van Mabula, het gesê hulle is verheug oor die nuwe trop.

“Die toevoeging van die wildehonde tot die gebied voorspel slegs goeie dinge vir hierdie reservaat se toekoms.”

Die private wildreservaat is nou die naaste reservaat aan Gauteng waar vrylopende Afrika-wildehonde gesien kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.