Nuwe tegnologie kan boetebessies help

ANPR-kameras vergemaklik verkeersbeamptes se werk (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

ʼn Mobiele geoutomatiseerde nommerplaatherkenning (ANPR)-stelsel sal verkeersbeamptes in Stad Kaapstad se wetstoepassingspligte vergemaklik.

JP Smith, burgemeesterslid vir veiligheid en sekuriteit, sê handtoestelle is reeds in gebruik. Dit verbind met ʼn toepassing wat beamptes help om vinnig boetes uit te reik en die inligting elektronies te versamel. Die toestelle kan ʼn nommerplaat of voertuiglisensieskyfie skandeer en dadelik die status van die voertuig wys en of daar enige uitstaande boetes is vir ʼn betrokke nommerplaat.

Beamptes het ook toegang tot ANPR-tegnologie in sommige van hul voertuie en hulle kan, terwyl hulle rondry, nommerplate van voertuie rondom hulle skandeer.

“Hierdie ANPR-toegeruste voertuie beteken minder motors hoef voorgekeer te word en beamptes kan slegs fokus op voertuie wat deur die stelsel gemerk word,” het Smith bygevoeg. “Die tegnologie identifiseer ook gekloonde of duplikaat nommerplate, uitstaande lasbriewe en uitstaande dagvaardings.”

Smith sê talle motoriste het al die ongelukkige ervaring en administratiewe nagmerrie deurgemaak wanneer iemand anders dieselfde nommerplaat as jy gebruik en boetes versamel of misdaad pleeg.

Die verkeersdiens het die afgelope twee maande 445 klagtes ontvang oor duplikaat nommerplate. Altesaam 203 van dié sake is reeds afgehandel, maar 242 sake word nog ondersoek.

“Die ANPR-tegnologie help ons om te sien of die nommerplaat by die voertuig pas. As dit nie pas nie, kan beamptes die motoris voorkeer, die voertuig na die verkeersdepartement begelei en die omstandighede ondersoek om te bepaal of dit per ongeluk plaasgevind het of deel is van ʼn misdaad.”

Die verkeersdiens teken weekliks duisende oortredings aan. Vir die periode 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2021 het beamptes:

  • 1 930 persone in hegtenis geneem vir dronkbestuur en roekelose of nalatige bestuur
  • 6 688 openbare vervoer-voertuie geskut
  • 3 043 selfone gekonfiskeer
  • 2,6 miljoen oortredings aangeteken.

“Ongelukkig word baie van dié boetes nie betaal nie weens verskeie redes. Dit lei tot ʼn groot getal lasbriewe wat vir inhegtenisneming uitgereik word. Tegnologie soos die ANPR-kameras kan maklik gebruik word om oortreders op te spoor. Ons het ʼn kultuur van nie-betaling en minagting van die wet en orde. Om mense aanspreeklik te hou vir hul optrede is een manier om beter gedrag op paaie te verseker en lewens te red,” het Smith bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet ·

Nog meer kans om bribes te vat by mense deur verkeersbeamptes!!!!!!

Anoniem ·

Plaas hulle is meer sigbaar op die pad en vat die taxidrywers vas wat soos hooligans ry.

Wielspore ·

Implementeer eerder nuwe tegnologie om voertuig registrasie, voertuig lisensie hernuwing en bestuurders lisensie afsprake en hernuwing te doen.

pompies ·

Ja waar die DA in beheer is word die belasting betaler ook maar goed gemelk vir allerhande foefies.

VaalDonkie ·

Ja ne. Elke “goeie idee” kos geld. Kyk, ek bly lekker hier in die Kaap en ek sal nie elders verhuis as ek kon kies nie. MAAR jy betaal jou alie af aan sekere goed. En jou salaris is minder en behuising kos meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.