Nuwe tegnologie kan help in stryd teen stropery

Die toestel word aan die dier vasggemaak om inligting oor sy gedrag te bekom.

Meer as ʼn duisend renosters is volgens die internasionale organisasie Save the Rhino elke jaar tussen 2013 en 2017 in Suid-Afrika gestroop.

Hoewel teenstropingstrategieë bygedra het tot ’n effense afname in stropery, ondervind natuurbewaarders en ander rolspelers steeds ’n tekort aan intydse data oor renostergedrag wat lewensnoodsaaklike inligting oor dreigende stropergevaar kan verskaf, sê dr. SP le Roux, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Le Roux het onlangs sy doktorsgraad in Elektroniese Ingenieurswese aan die universiteit verwerf.

Le Roux, wat passievol is oor natuurbewaring en die gebruik van tegnologie en kunsmatige intelligensie om oplossings vir ons grootste uitdagings te vind, sê hy het gevoel daar bestaan ’n behoefte aan tegnologie wat natuurbewaarders kan help in hul stryd teen renosterstropery.

Hy sê omdat geen teenstropingstrategie op sigself suksesvol kan wees nie, moet ’n verskeidenheid strategieë saamgevoeg word om ’n strategiese voorsprong te verkry.

As sy bydrae tot hierdie stryd, het Le Roux ’n outomatiese gedragsklassifikasiestelsel wat op die dier gedra word ontwikkel om intydse inligting oor renostergedrag te verskaf en sodoende met teenstropingspogings te help.

Le Roux sê die gebruiklike tegnieke vir die klassifikasie van dieregedrag word vanlyn as ’n naprosesseringstap gedoen en verskaf nie intydse dataontleding nie.

“Om intydse ontleding moontlik te maak, moet data per radio-oorseining na ’n seinontvanger gestuur word en hierdie oorseining benodig energie. Weens die bronbeperkings van huidige biotelemetrie-toestelle is gedragstudies tipies van korte duur. Dit wissel van dae tot weke.”

In teenstelling hiermee is die stelsel wat Le Roux ontwikkel het, ’n intydse masjienleermodel ingebed binne-in die mikroverwerker van ’n biotelemetrie-plaatjie wat aan die dier vasgeheg is. Hy het hierdie plaatjies gebruik om inligting oor renosters in ’n private reservaat te bekom.

“Die plaatjie monitor die uitsette van ’n driedimensionele versnellingsmeter (’n instrument wat die versnelling van ’n bewegende of vibrerende liggaam meet), waarna dit die data voorverwerk, kenmerke onttrek en uiteindelik die sensordata in verskillende klasse van gedrag, soos byvoorbeeld staan, loop, hardloop, wei of lê, klassifiseer voordat dit die resultaat na ’n ontvangstoestel stuur.

“Die stelsel bepaal ook die dier se ligging deur middel van ’n globale navigasiestelsel (GPS) en wanneer dit met die gedragsinligting gekombineer word, word waardevolle insigte oor die dier se gedrag en waar die dier hierdie gedrag toon, verkry.

“Wanneer dit aan ’n renoster gekoppel word, verskaf die stelsel elke 6,5 sekondes bygewerkte inligting oor waar die renoster homself bevind en of dit staan, loop of lê.”

Le Roux sê dat die insameling van sulke inligting oor lang tydperke die geleentheid vir die skets van tydgekoppelde hittekaarte van dieregedrag skep, byvoorbeeld oor waar hulle graag slaap, staan of loop.

“Dit sal ons in staat stel om buitengewone of abnormale gedrag te bespeur deur vrae soos ‘waarom lê die renoster langer as gewoonlik – is dit beseer?’, of ‘hoekom loop dit skielik in ’n ongewone rigting, of hoekom hardloop die dier skielik?’

“’n Renoster se gedrag is ’n sleutelaanwyser van sy stresvlakke en intydse inligtingbywerkings kan as ’n vroeë waarskuwing van stropers dien.”

Le Roux sê die biotelemetrie-plaatjies wat hy in sy navorsing gebruik het, is ’n verbetering op die vorige plaatjies danksy die gebruik van masjienleer om die groot hoeveelhede rou sensordata te verwerk en uiteindelik weg te gooi en dan net die dier se gedragtoestand en GPS-ligging te stuur.

“Die plaatjies het ’n verbeterde battery-leeftyd en gebruik ook 14 keer minder energie as gewone tegnieke, wat langtermynaanwending moontlik maak. Dit maak die ononderbroke versending van waarskynlik intydse gedrag moontlik, wat sodoende ’n uitgebreide vlak van inligting en onmiddellikheid verskaf.”

Volgens Le Roux is die biotelemetrie-plaatjies wat hulle tans gebruik, klein en liggewig omdat dit aan die dier wat hulle wil dophou, vasgeheg moet kan word sonder om die dier seer te maak of ongemak te veroorsaak.

“Gevolglik moet die toestel deur ’n klein batterytjie aangedryf word wat die gebruik van ultra-laekrag-mikrokontroles noodsaak, wat beperkte verwerkingskrag en geheue het.”

Hy sê dat dit problematies kan wees wanneer navorsing oor dieregedrag oor lang tydperke gedoen word.

Le Roux glo sy gedragsklassifikasiestelsel kan waardevolle inligting aan natuurbewaarders, gedragsekoloë en selfs boere verskaf.

“Die tegniek kan ook aangewend word vir algemene ingebedde masjienleer-toepassings wat in slimfone, slimhorlosies en sensors binne die internet van dinge gebruik word,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarie ·

Duisend per jaar net in SA! Dis verskriklik. Hoeveel renosters kan daar nog oor wees?

Gaitsigubib ·

Om eerlik te wees Sarie lyk renoster getalle in SA beter as ooit en daarvoor moet jy die wildteler en SA jagter bedank. A.g.v die onwettige stroop van hierdie diere is daar wel n groot probleem veral in die Kruger park. As hulle die “oes” van renosterhorings wettig sal die getalle renosters in privaat besit toeneem en dis reeds duidelik dat boere hul wild beter oppas as wat in ons parke die geval is. Die rede waarom renoster getalle in die res van Afrika so treurig lyk is natuurlik omdat hulle geen wildboere daar het nie.

Cherokee ·

Daar is ‘n manier om stropery kompleet te staak. Oorlog moet verklaar word teen stropers, menende dat geeneen in hegtenis geneem moet word nie. Daar behoort spesifieke weermag-afdelings gebruik te word daarvoor (of wildbewaarders) en hulle moet net gejag word. Dìt sal ‘n vinnige einde bring aan die stroping van ons pragdiere.

Kobie Welgemoed ·

As die oortreder op die plek geskiet was, was daar nie die probleem nie. Mense is geld mal en kom niks oor nie.

Cherokee ·

Wat ook ‘n faktor mag wees, is dat media bloot vertel van die stropery maar uiters min (indien enige) dekking verleen aan strafsake teen stropers en vonnisse wat gevel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.