Nuwe toetreders bring verandering in bankwese

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se jongste bankkosteverslag is aanlyn banke besig om dié mededingende sektor op sy kop te draai.

“Dit lyk of daar ʼn omwenteling in die bankwese aan die gebeur is aangesien TymeBank en Bank Zero dieselfde dienste as tradisionele banke bied, maar teen ʼn fraksie van die prys,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit.

Hoewel banke op grond van toegevoegde waarde soos beloningsprogramme met mekaar kompeteer, bly koste ʼn bepalende faktor.

Du Buisson kroon die nuwe aanlyn banke, wat suiwer op grond van koste kompeteer, as die algehele wenners wanneer slegs koste in ag geneem word.

“ʼn Lys van 25 transaksies wat by die tradisionele banke tussen R99 en R143 sou kos, kos ʼn skamele R21,50 by TymeBank en R25 by Bank Zero. Selfs al sou dit met die tradisionele banke, dié met takke, se goedkoopste rekeninge vergelyk word, is die tradisionele banke ver agter.”

Bank vir middelklasverbruiker

FNB se FNB Aspire Current-rekening word in die verslag gekroon as die algehele wenner wat die tradisionele banke se rekeninge vir middelklasbankbehoeftes betref. Dié rekening is ʼn bondelrekening met ʼn vaste bedrag wat ʼn reeks gratis transaksies insluit.

“FNB is verreweg die wenner in hierdie kategorie omdat al die transaksies op ons lys almal by die vaste bedrag van R99 ingesluit is.”

Standard Bank se MYMO Plus-rekening behaal die tweede plek, met ʼn bedrag van R129,40.

Wat rekeninge vir gesofistikeerde bankbehoeftes betref, stap FNB ook met die louere weg. Die verslag verwys spesifiek na die FNB Fusion Premier-rekening met ʼn totale koste van R236 vir 30 transaksies.

Absa Premier Banking is in die tweede plek met ʼn totale bedrag van R242,50. Albei hierdie banke bied goeie waarde vir geld aangesien die getal gratis transaksies wat hulle bied, meer is as dié van Nedbank en Standard Bank.

Wat goedkoper rekeninge betref, is Absa en Capitec die goedkoopste, met Absa wat ʼn totale bedrag van R37,10 vir die mandjie van 12 transaksies hef. Capitec, met 80c meer op R37,90, behaal die tweede plek.

Capitec wen wel die 17-transaksiekategorie met ʼn totale bedrag van R42,90. In die tweede plek is FNB se Easy PAYU-rekening, met ʼn totaal van R54,45. Capitec is ook die enigste van die groot vyf banke wat rente op transaksierekeninge aanbied.

Verslag aangepas

Die SNI het sy metodologie vir vanjaar se verslag aangepas om tred te hou met veranderinge in verbruikersgedrag. Daar is ook besluit om die lys van transaksies aan te pas om minder kontanttransaksies in te sluit. Dit is vervang met die stuur van geld na selfoonnommers, sowel as internetoorbetalings wat nou gratis is.

“Te midde van bogemiddelde inflasie, ekonomiese groei wat kwyn en onsekerheid oor die toekoms, het verbruikers wel baie om oor bly te wees met betrekking tot hul keuses van banke. Oor die algemeen bly die bankwese in Suid-Afrika, ten spyte van makro-ekonomiese druk, ongelooflik mededingend op verskeie terreine. Banke begin al hoe meer hulself differensieer op grond van bykomende dienste. Tog vind dit plaas in ʼn omgewing waar hulle steeds mekaar probeer klop wat pryse betref. Die aanlyn banke se toetrede tot die mark bied nog ʼn dinamiese verskuiwing wat die groot banke moet verreken.

“Ek sal verbaas wees as die nuwe banke nie ook oor ʼn paar jaar groot banke is nie,” sê Du Buisson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonnie ·

jou geld moet iewers le, anders moet jy dit maar onder die matras insit.

Herman ·

Nou hoekom word die duurste bank en hulle koste nie ook genoem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.