Nuwe uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo bevestig

(Argiefoto: Morné van Rooyen)

Daar is wéér ʼn uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo, het die departement van landbou, bosbou en visserye Dinsdag bevestig.

Die departement het gesê die plaas in die Molemole-distrik in dié provinsie is reeds onder kwarantyn geplaas. Dit is geleë in ʼn voormalige bek-en-klouseervryesone.

Daar word nou toetse gedoen om te probeer vasstel wat die waarskynlike oorsprong van die virus is.

“Kliniese ondersoeke van diere op die plaas word gedoen om die voorkoms van die siekte daar te probeer bepaal. Maatreëls is ook ingestel om die direkte of indirekte kontak tussen die verskillende troppe diere op die plaas te voorkom,” het Reggie Ngcobo, departementele woordvoerder, gesê.

Bek-en-klouseer is ʼn hoogs aansteeklike virus wat beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoefdiere raak. Die siekte raak nie mense nie en die departement sê dit is veilig om produkte van dié gesplete hoefdiere, soos melk en vleis, te eet.

“Boere landwyd word gewaarsku om bio-veiligheidsmaatreëls te handhaaf. Hulle mag nie nuwe diere in hul troppe inbring nie en moet die beweging van troppe na ander plase beperk. Enige vermoede dat diere die siekte opgedoen het, moet ook dadelik by die staatsveearts aangemeld word,” het Ngcobo gesê.

Die jongste uitbreking is slegte nuus vir ʼn bedryf wat steeds probeer herstel ná die vorige uitbreking van die siekte in die Vhembe-distrik in Februarie vanjaar. Die land was gevolglik sy bek-en-klouseervrye status kwyt – met verreikende gevolge.

ʼn Uitvoerverbod het dele van die wild- en vleisbedryf bykans lamgelê en die wolprys het skerp gedaal.

In Mei vanjaar het die departement verklaar dat dáárdie uitbreking amptelik onder beheer is.

Die landbouorganisasie TLU SA het in September die regering skerp gekap nadat Suid-Afrika egter nié die Wêreld Dieregesondheidsorganisasie (OIE) kon oortuig om die land as bek-en-klouseervry te verklaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Diertjies ·

Sjoe die arme diere kry dit ook van alle kante. Kan beslis nie meer ‘n vreugde wees om ‘n dier te wees op hierdie aarbol nie.

Ellisras ·

Sjoe. Ons boere kry dit ook van alle kante. Droogte en dit ook nog.
Kry asb die boere en plaas werkers jammer, ons is die wat die spit moet afbyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.