Nuwe uitdaging vir kleuter met onverklaarbare toestand

Klein Lukas Etzebeth (Foto: Verskaf)

Die driejarige Lukas Etzebeth van Roodepoort in Gauteng word nou deur ’n nuwe uitdaging in die gesig gestaar – dié blondekop seuntjie skree die afgelope tyd van pyn wanneer sy beenspalke aangetrek moet word.

Lukas is van dié spalke afhanklik aangesien sy bene spasties is en nie kan buig nie.

Janine Etzebeth, Lukas se ma, het Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê dat Lukas se huidige paar spalke hom verskriklik seer maak en dat sy voete bloedrooi is wanneer hy dit dra.

Lukas se fisioterapie moes gevolglik noodgedwonge gestaak word totdat hulle ’n nuwe paar spalke vir hom kan maak.“Hy moet dit so gou as moontlik kry,” sê Etzebeth.

Etzebeth verduidelik dat dokters gedurende dié prosedure gips aan Lukas se bene sal sit waarna hulle dit sal afsny en ’n afdruk daarvan sal maak. Dié proses neem sowat ’n week. Sy verduidelik dat sy vorige paar spalke hul gesin sowat ’n jaar en ’n half gelede R16 000 uit die sak gejaag het. “Ons weet nie wat dit nou gaan kos nie, maar ons wil net die beste vir ons kind hê. Al kos dit wat.”

Lukas se huidige paar spalke maak hom verskriklik seer. (Foto: Verskaf)

Dit is ook weer tyd dat Lukas botox-inspuitings in sy bene moet ontvang. Dít is ’n uitdaging op sy eie aangesien die dokter wat die vorige inspuitings toegedien het sedertdien emigreer het.

Hierdie prosedure het die eerste keer vrugte afgewerp en Lukas in staat gestel om teen iets te  leun sonder om te val.

Etzebeth sê die gesin het tot dusver nie juis finansiële steun ontvang nie. “Alles staan stil op die oomblik,” vertel sy.

Maroela Media het vroeër berig oor Lukas wat al meer mediese prosedures en toetse in sy kort lewe ondergaan het as wat die meeste mense in ’n leeftyd doen – en steeds het sy ouers geen antwoorde oor wat met presies met hul seuntjie fout is nie. Lukas is op die ouderdom van drie maande met bloeding en vog op die brein gediagnoseer. Binne die eerste jaar nadat hy siek geword het, is hy al om verskeie redes – van longontsteking tot varkgriep en virale infeksies –  in die hospitaal opgeneem.

Sedertdien wend Lukas se ouers hulle van die een dokter na die ander op soek na ’n moontlike verklaring vir hul kind se toestand. Derduisende rande se bloedtoetse kon nog geen verklaring oplewer nie en medikasie vir epilepsie wat vir hom voorgeskryf is, het ook niks gehelp nie.

Besoek gerus dié Facebook-hulpblad vir inligting oor Lukas se vordering of om ’n finansiële bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lelie ·

Hoe kan ek ‘n finansiele bydrae maak? Van die os op die jas, is Lukas op ‘n goeie vitamine aanvulling en ‘n gesonde volvet en olie dieet? Kry hy Ambrotose?

Gesiggie ·

Wat n pragtigge seuntjie.. hy verdien nie die eina. Mamma nader Good Morning Angels … Glo my jy sal n Engel kry wat vir klein Lukas sal help, hy verdien net die beste

Maretha ·

My hart gaan so uit na die ouers. Ek wonder of hulle swaar metaal vlakke in die lyfie getoets het? Ek hoop werklik hulle kry antwoorde!

Elizabeth ·

Was die ouers al by a neuroloog en dien wel soek weer na een.

Jesus leef ·

Gaan na die Courts of Heaven- daar is n blad op facebook.. dis wat ek sou doen as dit my kind was..

Elsa ·

Wat van ‘n goeie homeopaat? Homeopate is gewoonlik baie goed met diagnoses en kan dalk ‘n diagnose maak van wat die toestand veroorsaak het en sodoende saam met mediese dokters werk om die regte behandeling te vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.