Nuwe uitvoerende hoof vir weerdiens

Moegamat Ishaam Abader (Foto: Departement van omgewing, bosbou en visserye)

Moegamat Ishaam Abader is as die nuwe uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) aangestel.

Die kabinet het Abader se aanstelling vroeër vandeesweek tydens ’n virtuele vergadering bevestig.

Abader het verlede jaar as waarnemende direkteur-generaal van die departement van omgewing, bosbou en visserye gedien.

Die weerdiens, ’n entiteit van dié departement, het ’n nuwe waarskuwingsdiens ingestel, wat beteken dat waarskuwings nou uitgereik word volgens die moontlike gevolge wat verwag word. Die diens beweeg weg van net die blote voorspelling van weerstoestande.

Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, meen Abader se aanstelling is dus ’n belangrike stap in die regering se plan om die land te lei in die ontwerp van klimaatgunstige infrastruktuur, asook stedelike en landelike ontwikkeling “om te verseker dat veranderende weerpatrone gekoppel aan klimaatverandering nie bydra tot ’n verwoestende verlies aan lewens en eiendom nie”.

Creecy sê Abader, ’n prokureur met ’n meestersgraad in bedryfsadministrasie en wat ook tot die balie toegelaat is, word hoog geag in sy vakgebied.

Abader dien in die provinsiale regeringsfeer sedert hy as staatsadvokaat in 1997 by die staatsdiens aangesluit het. Hy het Creecy se departement in verskillende hoedanighede gedien, waaronder hoof van regsdienste, adjunk-direkteur-generaal van korporatiewe aangeleenthede en adjunk-direkteur-generaal van omgewingsgehalte en beskerming.

Hy het in verskeie direksies gedien, waaronder die Raad vir GeoWetenskap, die SAWD en die Nasionale Kernreguleerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Hoop hy doen die voorspellings reg

Robert

“n advokaat wat weer voorspel… uitstekend…

SomeOne

solank hy net ‘n eerlike persoon is en nie een wat ook help dat geld verdwyn nie

Hennie

Wonderlike kwalifikasies! Maar noem maar net so terloops…..eerlikheid is vandag se tyd die heel beste kwalifikasie! Mog hy baie suksesvol en eerlik wees!! Sterkte!!

Mad Mike die Rhodesiër

Hopelik sal hulle nou beter weer voorspel…