Nuwe uitvoerende raad vir Prasa aangekondig

(Foto: Untu)

Die Passasierspooragentskap (Prasa) het Vrydag sy nuwe uitvoerende raad aangekondig.

Bongisizwe Mpondo, administrateur van Prasa, het vyf nuwe raadslede verwelkom.

“Dit is vandag vir my ʼn plesier om die aanstelling van die vyf nuwe raadslede van hoë kaliber en kundigheid aan te kondig. Hierdie vyf lede se aansoeke het uitgestaan in ʼn baie streng aanstellingsproses,” sê Mpondo.

Nosipho Damasane is as uitvoerende hoof van Prasa Rail aangestel. Sy was die uitvoerende hoof van die Bombela-konsessiemaatskappy wat die Gautrein bedryf. Sy beskik oor 22 jaar lange ervaring in logistiek, hawe- en spoorvrag, passasiersbedrywighede, infrastruktuurontwikkeling en vervoerbeleidsontwikkeling.

Mpondo sê Damasane beskik oor sterk leierseienskappe om die leisels as uitvoerende hoof oor te neem.

Hishaam Emeran is as die nuwe hoof- uitvoerende beampte van Prasa se tegniese afdeling aangestel. Hy is ʼn vervoerspesialis met 25 jaar lange ervaring in vervoerbeplanning, ingenieurswese en bestuur. Hy het tien jaar lank in die privaat vervoersektor en 15 jaar in die openbare vervoersektor gewerk.

“Emeran het ʼn groot passie vir die transformasie van Suid-Afrika se geïntegreerde openbare vervoerstelsel ter ondersteuning van ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling,” het Mpondo vertel.

Neil Roesch is as uitvoerende hoof van die busdiens Autopax, ʼn filiaal van Prasa wat die City to City- en Translux-busdienste bedryf, aangestel. Hy is tans die bedryfsbestuurder by Larimar (Putco). Roesch het 30 jaar lange ondervinding in die busbedryf, met 19 jaar wat hy op ʼn senior of uitvoerende bestuursvlak gedien het. Roesch was deel van veelvuldige projekte in die passasiersvervoerbedryf.

David Mphelo is as die hoofinligtingsbeampte aangestel. Hy was voorheen ʼn onafhanklike konsultant wat gefokus het op digitale transformasie en het jare lange ervaring in die inligting-en-kommunikasietegnologie- (IKT-)sektor. Oor ʼn aantal jare het hy gewerk aan die ontwikkeling en instelling van mededingende markontwikkelingstrategieë om ondernemings te bevorder.

Mphelo se IT-loopbaan strek oor verskeie bedrywe, waaronder bankwese, mynbou, die regering, telekommunikasie, sekuriteit, kleinhandel en petroleum.

Sandile Dlamini is as die groepsekretaris aangestel. Dlamini beskik oor 18 jaar lange ervaring as maatskappysekretaris en het langer as 12 jaar uitvoerende posisies beklee. Hy is in 2000 as ʼn advokaat van die hooggeregshof toegelaat en is ʼn lid van die algemene balieraad van Suid-Afrika.

Dlamini is tans die hoof van regsadviesdienste by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa). Dlamini was vantevore die groepsekretaris by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Hy het ook by die departement van openbare ondernemings, EDI Holdings, Rand Water, Umgeni Water en ander ondernemings in die openbare sektor gewerk.

“Prasa was oor die jare geneig om mense met ʼn gebrek aan die nodige kwalifikasies, ondervinding en vaardighede vir sleutelposisies juis in daardie betrekkings aan te stel. Die nuwe aanstellings is egter ʼn bewys dat Prasa nou ʼn nuwe koers inslaan,” het Mpondo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

En wat gebeur met die vorige uitvoerende raadslede? Niks soos gewoonlik. ANC, maak nie saak wie die nuwe uitvoerende raad is nie. Hulle is maar net nog ANC kaders wat hoe poste kry. Die bevoegtheid sal hulle nog moet bewys.

JohanR ·

En hulle sal almal HOEVEEL betaal word, en die grootte van die BONUSSE sal wees? Lyk my al die kaders in SA kry ‘n kans om by die vark troeg te slurp!

Scalla ·

Nuwe lede wat betaal moet word en nog steeds n ramp, hul werk gaan seker wees om die lokomotiewe wat te hoog is se wiele af te blaas om dit te kan gebruik as daar drywers is wat nie op strike is nie,

Jack ·

Die gedagte is goed en edel maar ek vertrou dat die etiek en integriteit ook bo verdenking is. Tyd sal wel leer.

Sarel ·

Hoekom word die wat fondse wan bestee het nie vervolg nie? Want as hulle praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.