Nuwe vakbond in platinumgordel beoog

Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn Nuwe vakbond wat sal fokus op die beskerming van mynwerkers se regte is besig om in die Rustenburg-platinumgordel in Noordwes vorm aan te neem.

Tshepo Mekgoe, een van die stigterslede van die Badirammogo Workers Union, het gesê die vakbond sal oor ʼn breë spektrum funksioneer, hoewel die grootste fokus op mynwese sal wees.

“Niemand gaan ons keer nie. Ons gaan hierdie vakbond voor die einde van die jaar op die been bring. Ons is besig om hom by die departement van arbeid te registreer en sodra ons ʼn sertifikaat ontvang het, sal ons die vakbond van stapel stuur,” het Mekgoe gesê.

Mekgoe het 14 jaar ervaring in mynwese en het voorheen vir die National Union of Mineworkers (NUM) gewerk voordat hy hom by die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) aangesluit het. Volgens Mekgoe is daar talle ontevrede Amcu- en NUM-lede wat belangstel om by die nuwe vakbond aan te sluit.

“Daar is goed wat ek nie nou al kan sê nie, maar ʼn aantal werkers sal by ons aansluit,” het hy gesê. Hy het gesê hy glo die ondergang van NUM was omdat die vakbond geen mededinging gehad het nie. “Dieselfde ding gebeur nou met Amcu; hy het geen kompetisie nie.”

Amcu het in 2012 bo die NUM uitgetroon as die dominante vakbond in die platinumgordel. Amcu het reeds in 2011 by Lonmin begin lede werf, maar het veral ná die 2012 staking waartydens 44 mense dood is, gewild geword. Onder hulle was 34 mynwerkers wat op 16 Augustus 2012 dood is in die omstrede Marikana-voorval toe polisiebeamptes op mynwerkers geskiet het.

Amcu het die vyf maande lange staking in die platinumgordel gelei. In hierdie tyd is ʼn ander vakbond op die been gebring, die Workers Association Union (WAU), wat werkers aangemoedig het om terug te keer werk toe.

Die nuwe Badirammogo Workers Union het belowe dat hy die landskap van die mynwese sal verander tot voordeel van plaaslike gemeenskappe en werkers in die platinumgordel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.