Nuwe vakbondfederasie verwerp voorgestelde minimumloon

geld spaar spaarvarkie pensioen

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Die nuwe vakbondfederasie het dit Woensdag benadruk dat hy die voorgestelde nasionale minimumloon verwerp en gesê hy sal baklei vir nuwe poste en veg teen beperkings van werkers se reg om te staak.

Dit kom nadat die regering, arbeid en ondernemings onlangs ooreengekom het oor die voorgestelde R20 per uur as die nuwe nasionale minimumloon wat vanaf 1 April 2018 in werking tree, soos ooreengekom by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings-en-Arbeidsraad (Nedlac).

Vakbonde wat met die vakbondfederasie Cosatu geaffilieer is, het egter die voorgestelde nasionale minimumloon van R20 per uur aanvaar, of R3 500 per maand.

Die nuwe vakbondfederasie het gesê hy is bereid om die ooreenkoms te onderteken, maar sal begin met ʼn veldtog vir sy eie minimumloon van R4 500 per maand.

“Ons verwerp die regering se voorgestelde R20 per uur. Cosatu, die regering en die werkgewers sê ‘ja’ vir slawelone, ons sê ‘nee’. Maar ‘ja’ vir ʼn behoorlike lewensloon en ʼn einde aan armoede,” het Zwelinzima Vavi, sameroeper van die federasie se stuurkomitee, gesê.

“ʼn Nasionale minimumloon moet doelbewus ongelykheid afbreek, soos wat deur ʼn salarisgaping veroorsaak word. R20 doen dit ongelukkig nie. Onlangse studies het gewys dat ʼn persoon minstens ʼn minimum van R5 400 benodig om slegs te oorleef, en dit sluit nie enige luukshede in nie. Enige bedrag onder dit is eintlik net ʼn belediging.”

Vavi het die media toegespreek voor die federasie se stigtingskongres waar besluite oor kwessies soos die grondwet, leierskap, handelsmerk, kleure en die naam van die federasie bespreek sal word. Hy het gesê die nuwe federasie het ook ʼn artikel 77-aansoek ingedien vir ʼn beskermde maatskaplik-ekonomiese staking om bewusmaking te skep vir die lot van werkers en om die ekonomie te transformeer wat tans slegs vir die ryk minderheid werk.

Die stigtingskongres is geskeduleer vir 21 – 23 April.

“Ongeveer 1 800 afgevaardigdes van 21 vakbonde wat 684 865 lede verteenwoordig, sal die kongres bywoon. Komitees wat die werkloses verteenwoordig, die formele bedryf, burgerlike samelewing, en jeug- en studentebewegings soos #FeesMustFall en #OutsourcingMustFall word ook genooi.”

Die nuwe federasie het sy kritiek uitgespreek oor die hantering van die Sassa-debakel. “Ons eis dat [president] Jacob Zuma en [minister van maatskaplike ontwikkeling] Bathabile Dlamini en die hele kabinet moet bedank na dié verregaande sage.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zahn ·

Ek het nou die hele artikel deur gewroeg, en stem net saam met die laaste sin.

Johan. H. ·

Zahn ,, Stem saam, Alhoewel n mens wil help waar moontlik ,sal daar werksverliese wees,,

jaco ·

Wie werk so n minimumloon uit? Ek skaam my dood om dít vir iemand te betaal? En wat was die minimumloon dan voor hierdie peanuts-loon uitgedink is?

Mickey ·

Net meer mense sonder enige inkomste. Die regering is besig om almal te verarm. Die minimum lone is reeds buite bereik van die gewone mense wat die meeste gebruik maak van huiswerkers.

SARIE VAN HEERDEN ·

Minimumloon is sekerlik nodig vir die werkloses maar oppas dat die gans wat die goue eiers le se nek nie omgedraai word nie. Iemand sonder werk wat NIKS verdien nie kan ‘n minimumloon eis maar as die werkgewer dit NIE kan betaal nie sit hy steeds werkloos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.