Nuwe variant dalk al in meeste provinsies

Die B.1.1.529-variant van die koronavirus is waarskynlik al in meeste van die provinsies in Suid-Afrika aanwesig. (Foto bloot ter illustrasie: JAM STA ROSA / AFP)

Die departement van gesondheid het Donderdag bevestig dat die “kommerwekkende” B.1.1.529-variant van die koronavirus waarskynlik al in die meeste van die provinsies in Suid-Afrika aanwesig is.

Dit is ook deur verskeie wetenskaplikes tydens ʼn nuuskonferensie beaam.

Dr. Richard Lessells, spesialis in oordraagbare siektes, verduidelik dat die nuwe variant oor die afgelope twee weke in die meeste van die nuwe Covid-19-gevalle in veral Gauteng opgespoor is.

Dit is egter nog onduidelik of dié variant dalk die vierde Covid-19-golf in Suid-Afrika sal dryf.

“Die styging in nuwe gevalle met die aanwesigheid van dié variant was sover die skerpste in Gauteng. Ons is egter bekommerd dat dit ook al in ander provinsies kan wees.”

Maroela Media het vroeër berig die nuwe variant is onlangs eerste in Botswana opgemerk en later in Suid-Afrika. Een geval is in Hongkong in China aangemeld – glo by ʼn persoon wat van Suid-Afrika gereis het.

Prof. Tulio de Oliveira, ʼn bio-informatikus en direkteur van die genomika-waarnemingslaboratorium, Krisp, sê dit is egter onmoontlik om te bepaal waar die nuwe variant ontstaan het. Daar is ook vrese dat dié variant die liggaam se verdediging teen die virus kan ontduik.

Volgens die departement sal ʼn Griekse naam vir die nuwe variant waarskynlik teen Vrydag bekendgemaak word.

Die B.1.1.529-variant het volgens wetenskaplike minstens 32 mutasies, waar die Beta- en Delta-variante onderskeidelik drie en twee gehad het.

Lessells sê hoewel die meeste van die mutasies in die nuwe variant nie ʼn vreemde verskynsel vir wetenskaplikes is nie, daar wel onbekende mutasies is wat hulle nog nie verstaan nie.

Daar sal oor die volgende paar dae in samewerking met die departement, wetenskaplikes, private laboratoriums soos Lancet en medici gewerk en beraadslaag word om onder meer te bepaal wat die impak van die mutasies op die gedrag van die virus is.

(Argieffoto: Unsplash)

Volgens Lessells moet die oordraagbaarheid van die B.1.1.529-variant nou vasgestel word, asook die diagnostiek, risiko vir herbesmetting, die impak op entstowwe en die erns van siektes weens besmetting onder ingeëntes én oningeëntes.

“Daar is baie van hierdie variant wat ons nog nie verstaan nie. Ons moet nou data vergelyk en bestudeer.”

Hy sê die B.1.1.529-variant kan gelukkig met polimerasekettingreaksie-toetse (PCR), ’n vinnige antigeentoets, nagespeur word, wat dit moontlik maak om vinniger te reageer.

“Ons sal hierdie tyd moet benut om die gesondheidstelsel voor te berei. Ons hoop egter steeds dat die nuwe variant nie so ernstig sal wees nie.

“Intussen moet mense groot byeenkomste vermy waar die virus maklik kan versprei.”

Verspreiding na ander provinsies onvermydelik

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, sê dit is onwaarskynlik dat die hoë aantal nuwe infeksies net tot Gauteng beperk sal wees, aangesien baie mense in en uit dié provinsie beweeg.

Hy sê die nuwe variant bied ook opnuut uitdagings vir die hervatting van aktiwiteite en sosiale geleenthede.

“Hierdie is ʼn groot uitdaging. Daar sal oor die volgende paar dae beraadslaag word oor wat die impak van die nuwe variant en infeksiestygings op reise sowel as die ekonomie sal wees.

“Dit is nog te vroeg om optrede te bepaal.”

Die minister sê almal het verwag die vierde golf sal Suid-Afrika eers laat in Desember of selfs in die nuwe jaar tref, maar dat dit moontlik heelwat vroeër kan wees.

Phaahla, sowel as die wetenskaplikes op die paneel, het gesê die Covid-19-entstof is in dié stadium steeds die beste wapen teen hierdie “onsigbare vyand”.

Hy het mense opnuut aangemoedig om hulle te laat inent en veral ʼn beroep op jong mense gedoen – onder wie hoë getalle van nuwe infeksies opgemerk is.

Dr. Nicholas Crisp, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, sê daar is tans 16 miljoen entstofdosisse in Suid-Afrika beskikbaar en dat nóg 2,5 miljoen dosisse binnekort verwag word.

“Ons het tans baie meer kapasiteit om in te ent vergeleke met die aantal mense wat opdaag om die entstof te ontvang.”

Die regering doen intussen ook ’n beroep op Suid-Afrikaners om alle nie-farmaseutiese Covid-19-regulasies na te kom en sosiale afstand te behou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lubbe

Hier gaan ons weer op die riool lys gesit word.

Theo

Help my gou reg want dinge is deurmekaar vir my… in n ander berig is daar gesê dat die verhoging in nuwe gevalle toegeskryf word aan al die vorige antigeentoetse wat nou in die statistieke bygevoeg moet word, maar in hierdie berig is die toename in gevalle nou weens die “nuwe variant”… wat is dit nou? Die toevoeging van antigeen toetse in die statistieke of die nuwe variant…? Of…. n bangmaak storie sodat hulle ons weer kan inperk Desember…?

wim

Ek kan nie voorspel wat met die Covid trajek gaan gebeur nie.

Ek kan wel voorspel dat die hele wereld weer besluite op paniekstasie gaan neem waar persoonlike welsyn, verhoudings, geestesgesondheid, onderwys, spanning, oordrewe tyd wat kinders voor skerms spandeer ens ens geen rol gaan speel nie.

In die ou dae het dokters na newe-effekte gekyk as hul iets voorgeskryf het. Inperking het klaarblyklik geen newe effekte nie. Ek ontken nie Covid-19 nie, maar persoonlike welsyn gaan oor meer as net dit.

Adriaan

Die sg “4de golf” is voorspel en net mooi op die regte tyd word n nuwe variant “ontdek” …

Johanncb

Ek kan nie anders nie as om met Wim saam te stem! Is nodelose paniek wéér ons voorland? Is daar maatskappye en individue wat finansieel hieruit gaan baat?