Nuwe vervolgingshoofde vir Mpumalanga, Noord-Kaap

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag aangekondig dat hy direkteure van openbare vervolging (DOV) vir die Noord-Kaap en Mpumalanga se afdelings van die hooggeregshof aangestel het.

Dit het ten doel om die staat se vermoë om misdaad te bekamp, te versterk.

Volgens die presidensie sal adv. Nkebe Rebecca Kanyane vanaf 1 April aan die hoof staan van vervolgings in Mpumalanga, terwyl Livingstone Sakata vervolgings in die Noord-Kaap gaan dryf.

Hierdie aanstellings volg nadat Ramaphosa vroeër vandeesmaand DOV’s vir die Vrystaat, Noordwes en die Wes-Kaap aangestel het. Tot onlangs was vyf van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se DOV-poste deur waarnemende aanstellings beklee.

Kanyane het vir die afgelope 20 jaar as ʼn prokureur, aanklaer en ondersoeker gewerk en het reeds 10 jaar by die NVG se eenheid vir gespesialiseerde handelsmisdaad deurgebring. Sy het haar van staatsadvokaat tot adjunkdirekteur van openbare vervolging opgewerk.

Sy dien sedert 2017 as spesialisondersoeker in groep‑ finansiële misdade, forensies en sekuriteit by Nedbank.

Die inkomende DOV vir die Noord-Kaap is ʼn prokureur met ervaring in die private en openbare sektor. Hy dien sedert 2020 as waarnemende direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap.

Sakata het reeds in 1999 ʼn senior adjunkdirekteur van openbare vervolging geword en is in 2003 aangestel in die Oos-Kaapse DOV-kantoor om die eenheid vir georganiseerde misdaad te koördineer.

Ramaphosa het Kanyane en Sakata sterkte in hul nuwe rolle toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

So, daai twee mense moet meer vermag as wat duisende bestaande wetstoepassers nie kan doen nie.

Nie Verbaas ·

Alle voorspoed. Met n korrupte en onbevoegde polisiemag? En steeds slaap Ramaphosa voort met Cele wat langs hom snork.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.