Nuwe verwikkelinge in Clover-moordsaak

Terence Tegg (Foto: Facebook)

Nóg ’n verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Terence Tegg en die aanranding van JJ Cassanga tydens die Clover-stakings vroeër vanjaar in Johannesburg.

Dit bring die aantal beskuldigdes in die saak op vier te staan.

Twee van die beskuldiges is verlede maand borgtog geweier. Die derde se borgtogaansoek sou na verwagting Donderdag in die landdroshof in Tembisa aangehoor word.

Dit gaan egter nie meer kan gebeur nie weens die jongste verwikkelinge in die saak, sê Ischke van Eeden, mediaskakelbeampte by die burgerregteorganisasie AfriForum.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan die polisie, Tegg se verloofde, Michelle Bebbington, en die Cassanga-familie by in hierdie saak.

Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle op 17 Februarie vir Tegg, ’n oud-Recce, en Cassanga by ʼn Clover-aanleg in Johannesburg met klippe bestook het.

Tegg en Cassanga was veiligheidswagte wat deur Clover aangestel is om sy aanleg in Johannesburg te beskerm ten tyde van die betogings. Tegg is op die toneel dood verklaar terwyl Cassanga in die hospitaal opgeneem is. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer die derde verdagte se borgtogaansoek nou aangehoor sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charl ·

Sluit die gemors vir áltyd toe en laat geregtigheid asb. seëvier !!

Swerwer ·

Kan nie glo dat borgtog oorweeg word nie. Die skuldiges moet met klippe bestook word dat hul voel wat hul aan ander doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.