‘Nuwe verwikkelinge’ rakende Supra-kwessie

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

ʼn Mediakonferensie Woensdagoggend waar Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, sy bedanking sou bevestig, is onbepaald uitgestel.

Mahumapelo se kantoor het in ʼn verklaring gesê die uitstel is weens “nuwe verwikkelinge”. “Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak is deur hierdie onbepaalde uitstel,” het Brian Setswambung, Mahumapelo se woordvoerder, in ʼn vroegoggend-verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig Mahumapelo het Dinsdagaand aan die SAUK gesê hy sal teen Woensdagmiddag die voormalige premier van Noordwes wees. Ure vroeër het Mahumapelo in sy provinsiale begrotingsrede bevestig hy sal voor Vrydag “ʼn brief aan die speaker van die wetgewer skryf”.

Hoewel hy nie uitgebrei het oor wat die inhoud van die brief sal behels nie, word daar wyd verwag dat dit sy amptelike bedanking sal wees ná weke lange volgehoue druk uit alle oorde vir sy bedanking.

Betogers het weke lank aan gewelddadige protesoptredes deelgeneem om te eis dat Mahumapelo sy tasse pak. Inwoners beskuldig die premier van korrupsie wat hulle meen die rede is vir die swak toestand waarin die provinsie verkeer. Op talle plekke is daar ʼn ooglopende gebrek aan basiese dienste soos water en sanitasie. Betogers is ook ontevrede oor die provinsiale regering se onvermoë om werkskepping in die provinsie aan te moedig.

Mahumapelo het verwarrende kriptiese boodskappe in sy begrotingsrede gegee. “In sommige kritieke gevalle in ons lewe word daar op ons as lid van die mensdom ʼn beroep gedoen om die essensie van die afwesigheid van teenwoordigheid te skep. Dit is daarom dat ek binne die konteks van hierdie essensie van afwesigheid van teenwoordigheid en in volle ooreenstemming met die Grondwet vir die speaker sal skryf met hierdie onderneming voor Vrydag vandeesweek,” het hy gesê.

Laat Dinsdagaand het die ANC gesê hy aanvaar Mahumapelo se besluit om vrywillig van sy amp afstand te doen, maar nou blyk daar weer onsekerheid te wees of Mahumapelo werklik sy bedanking gaan deurvoer.

Joe McGluwa, die DA se provinsiale leier in Noordwes, het Dinsdagaand gesê die party hou voet by stuk dat Mahumapelo se oortredings nie net oorgesien kan word omdat hy bedank het nie. “Hy moet nog steeds aanspreeklik gehou word vir die ineenstorting van Noordwes.”

Mahumapelo (49) het op 21 Mei 2014 die vyfde premier van Noordwes geword. Hy het Thandi Modise opgevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

snoefie ·

zuma het hom mooi geleer. hy gaan nie vrywilliglik loop nie.

JM ·

Tipies van die top bestuur, wag tot op die laaste minuut dan verander hy sy storie. Ek kan nie sien waarom cr hom nie afdank nie want hy is die rede vir die geweld en betogings in Noordwes

ne ·

Sit te lekker in die stoel – hoekom sal hy wil bedank? Seker eers by die Zuptas gehoor wat hom te doen staan.

Ella ·

So hartseer as wat dit is: hy is in beheer van die situasie en hy gaan dinge op SY tyd doen. Intussen, brand maar af, roof en plunder, hy gee nie om nie.

Werner ·

Ons kan nou seker regmaak vir rondte no 2 van die geweldadige betogings

schalk ·

Dalk net dalk het hy fluitjie geblaas op iemand wat nie daarvan hou nie……

jaco ·

hulle weet dat dieselfde betogers wat nou alles afbreek en afbrand, in die volgende verkiesing maar net weer ANC sal stem. Dis amper oral die-patroon waar betogings voorkom. Dis asof ‘n sinsitêre “mag” hierdie mense wat so teen die ANC se foute betoog, vasklou en keer om vir enige ander party te stem.

John ·

Ja, ons het haar verwikkelinge gesien op die kassie… vir ‘n baie lang tyd… en die nommertjies om verdere verwikkelinge oor die kwessie te aanskou, is so te se op hande…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.