Nuwe visumregulasies: Dít is wat Gigaba wil verander

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake (Foto: Cindy Waxa/ANA)

Die departement van binnelandse sake se aankondiging oor die beoogde nuwe visumregulasies vroeër hierdie week word nou as vaag en verwarrend bestempel.

Talle kenners in die toerismebedryf eis nou dat Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, dringend duidelikheid moet verskaf oor veral die onverkorte geboortesertifikaat en toestemmingsbrief van ouers of voogde wat met minderjarige kinders van en na die buiteland wil reis.

“Ek het aanvanklik die departement se voorneme verwelkom om weg te doen met die onverkorte geboortesertifikaat wat buitelandse minderjariges moet vergesel as hulle Suid-Afrika wil besoek. Dit is egter nou duidelik dat binnelandse sake self nie seker is van hul eie standpunt oor hierdie regulasie nie,” het Beverly Schäfer, voorsitter van die Wes-Kaapse regering se staande komitee oor ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou, gesê.

Schäfer het bygevoeg sy sal Gigaba uitnooi om voor die komitee te verskyn om sy departement se standpunt oor die visumregulasies te verduidelik.

“Die bewerings wat nou aan die lig gekom het dat Gigaba strenger visumregulasies vir minderjariges ingestel het uit persoonlike redes, moet waarskynlik ook deeglik verder ondersoek word.”

Maroela Media het berig dat Gigaba die bewering dat hy die land se visumregulasies in 2014 verander het om sy eksvrou te verhoed om met hul kind oorsee te reis, as “absolute onsin” afgemaak.

Intussen het prof. Tembi Tichaawa, die hoof van die skool van toerisme en gasvryheidstudies aan die Universiteit van Johannesburg, gesê die strenger visumregulasies het sedert die instelling daarvan in 2015 tot ʼn verlies van tussen R7 en R10 miljard in die plaaslike toerismebedryf gelei.

Schäfer het soortgelyke verliese in die Wes-Kaapse toerismebedryf beaam. “Statistiek Suid-Afrika het in Junie vanjaar ʼn verslag bekendgestel waarin hulle ʼn afname van buitelandse toerisme uitgelig het en direk toegeskryf het aan die drakoniese visumregulasies van die departement van binnelandse sake.”

Maroela Media het weer na Gigaba se aankondiging op die mediakonferensie in Pretoria op 25 September gaan kyk en die volgende is wat die minister oor die verandering in visumregulasies gesê het:

Argieffoto.

Buitelandse reise met minderjariges:

“Soos pres. Cyril Ramaphosa aangedui het, sal ons die reëls vir minderjarige buitelandse besoekers aan Suid-Afrika verslap sonder om die veiligheid van die minderjariges en die regte van hul ouers in gedrang te bring,” het Gigaba gesê.

Volgens hom sal sy departement voor die einde van Oktober ʼn internasionale reiskennisgewing uitreik nadat hulle met die immigrasie-adviesraad hieroor vergader het.

“Die belangrikste verandering sal wees dat ons nie meer van reisende minderjariges sal vereis om dokumentasie te verskaf wat bewys dat hulle met die toestemming van hul ouers of voogde reis nie. Ons sal egter steeds aanbeveel dat reisigers die dokumentasie byderhand het.”

Gigaba het gesê Suid-Afrikaanse immigrasiebeamptes sal slegs op die dokumentasie in “hoë risiko-situasies” aandring. Die beamptes sal ook nie reisigers toegang tot die land weier as hulle nie dié dokumentasie kan verskaf nie, maar eerder reisigers die geleentheid gee om hul ouers se toestemming te bewys.

“Suid-Afrikaanse minderjariges sal steeds ʼn toestemmingsbrief van hul ouers of voogde moet toon as hulle ons land se grense verlaat.”

Volgens Gigaba sal die verandering betyds ingestel word vir die feestyd wanneer baie mense met hul kinders wil reis.

“Ons sal immigrasiebeamptes in die hersiene regulasies oplei om ʼn gladde inwerkstelling te verseker,” het hy gesê.

Argieffoto

Kwytskelding van visums:

Gigaba het gesê daar word nou met die volgende lande onderhandel om kwytskeldings van visums vir gewone paspoorthouers te verkry:

  • Afrika: Algerië, Egipte, Marokko, Sao Tome & Prinsipe, Tunisië, die Sahrawi Arabiese Demokratiese Republiek en Ghana.
  • Midde-Ooste: Saoedi-Arabië, Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Staat van Palestina, Iran, Libanon, Bahrein, Oman en Koeweit.
  • Oos-Europa: Belarus en Georgië
  • Karibiese Eilande: Kuba

Vereenvoudiging van visumvereistes:

“Ons wil visumvereistes vir lande soos China en Indië vereenvoudig. Dit sal beteken dat toeriste van dié lande hul biometriese toetse eers by hul aankoms in Suid-Afrika hoef te doen. Hulle sal ook die aansoeke vir ʼn visum via ʼn koerier kan doen en die visum sal vir vyf jaar en vir veelvoudige besoeke geldig wees,” het Gigaba gesê.

Hy het bygevoeg die reëlings behoort reeds teen Oktober ingestel te word. “Ons het op dieselfde manier reisbeperkings vir sekere kategorieë van besoekers van ander lande soos Nigerië, Kenia en Uganda, vergemaklik.”

Langtermynvisum vir veelvoudige besoeke:

Gigaba het gesê sy departement het ook reeds langtermynvisums vir veelvoudige besoeke vir gereelde reisigers ingestel.

Gereelde, betroubare reisigers na Suid-Afrika kan aansoek doen vir ʼn driejaar-visum vir veelvoudige besoeke.

Sakelui en akademici van Afrika kan aansoek doen om ʼn soortgelyke visum te kry wat vir tien jaar geldig is.

Brics-visum:

Sakelui van die Brics-lande wat ʼn visum benodig (tans is dit China en Indië) sal binne vyf dae ná hul aansoek ʼn tienjaar-visum kan kry.

Hulle hoef nie persoonlik vir ʼn visum aansoek te doen nie en kan van koerierdienste hiervoor gebruik maak.

Oorsig: essensiële vaardighede

Gigaba het onderneem dat sy departement saam met ander departemente, akademici, sakeondernemings en georganiseerde arbeid sal vergader om teen April 2019 die lys van essensiële vaardighede te hersien.

“Om essensiële vaardighede te behou, kan buitelandse studente wat aan Suid-Afrikaanse tersiêre instellings in essensiële vaardighede gestudeer het, aansoek doen vir permanente verblyf sodra hulle gegradueer het.

“Die studente wat nie vir permanente verblyf aansoek wil doen nie, sal ʼn visum vir essensiële vaardighede ontvang.”

e-visum

Gigaba het gesê die e-visum se ontwikkeling is in ʼn gevorderde stadium en sal teen April 2019 in Nieu-Seeland in werking gestel word. Sodra probleme in die proeftydperk van die e-visum se instelling uitgestryk is, sal dit ook in ander lande gebruik word.

e-hekke

“Ons sal teen 2019 e-hekke by die internasionale lughawens OR Tambo, Kaapstad en King Shaka instel.

“Dit sal beteken die terugkeer van Suid-Afrikaanse burgers, sowel as sekere kategorieë van vertroude reisigers, sal elektronies verwerk word en immigrasiebeamptes se kapasiteit kan op ander plekke by die lughawens aangewend word.”

Biometriese bewegingsbeheerstelsels by lughawens, grensposte en hawens:

Gigaba het gesê Suid-Afrika is besig om ʼn nuwe biometriese bewegingsbeheerstelsel te finaliseer wat by die internasionale lughawens Kaapstad en Lanseria getoets sal word.

“Ons het reeds ʼn toetslopie vir ʼn biometriese vasleggingstelsel suksesvol by die internasionale lughawens OR Tambo, King Shaka, Lanseria en Kaapstad voltooi.

“ ʼn Soortgelyke stelsel is by ses van die besigste grensposte ingestel wat Beitbrug, Lebombo, Ficksburgbrug, Maserubrug, Oshoek en Kopfontein insluit.”

Gigaba het gesê alhoewel die stelsel se instelling nie direk verband hou met visumregulasies nie, ontvang sy departement gereeld klagtes oor lang toue by dié grensposte, en hulle wil dit op hierdie wyse probeer oplos.

Hy het gesê sy departement wil binnekort soortgelyke biometriese stelsels ook by die hawens van die land instel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nelia van Zyl ·

Mnr. Gigaba, u en u dept. moet asb bykom. U reëlings met geboortesertifikate vir minderjarige kinders het meegebring dat my kinders wat in die buiteland woon vanaf Mei tot Julie vanjaar in SA gestrand was a.g.v. u dept se totale onbekwaamheid wat organisasie en administrasie betref. My seun moes terug vir sy werk en sy gesin hier agterlaat. En later weer terugkom om sake te finaliseer en sy vrou by te staan. Alles teen groot onkoste. Kan ek net noem dat die buitelandse diplomatieke dienste openlik lag vir hierdie sirkus! Ag nee, kry iemand om u dept by te staan of van hulp te wees.

jean ·

Wonder of enige departement in die land weet wat hul doen……alles met groot fanfare uitgestippel maar niemand vang die “stippel” nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.