Nuwe voorsitter, ondervoorsitter by NWU-raad

Obakeng Mongale en Bert Sorgdrager (Foto: NWU)

Die raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het Donderdag ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter verkies.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die NWU, is Bert Sorgdrager, ’n gesoute regskundige met meer as 30 jaar ervaring in die privaat sektor, tot die sesde voorsitter van die NWU-raad verkies. Hy is ook al die afgelope vier dekades met die universiteit verbind.

Obakeng Mongale, ’n ervare staatsamptenaar en die huidige superintendent-generaal vir die Noordwes- departement van gesondheid, sal die leisels as ondervoorsitter oorneem.

Die aanstellings volg op die bedanking van die vorige voorsitter, dr. Bismark Tyobeka, wat intussen as hoof en visekanselier van die NWU aangestel is.

Sorgdrager voel trots op voort te gaan om sy alma mater te dien en sê in die verklaring hy beskou dit as ’n voorreg om na die belange van die NWU om te sien.

Sy verbintenis met die universiteit strek terug tot by sy inskrywing in 1977 vir en die voltooiing van sy BJuris- (1979) en LLB-graad (1981) by die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, nou die NWU.

Sorgdrager, tans ’n prokureur by Van Deventer Dlamini Inc, het vroeër as waarnemende voorsitter en ondervoorsitter in die NWU-raad gedien. Hy is sedert 2017 ’n raadslid (uit die geledere van die konvokasie gekies) en is sedert September 2018 ’n lid van die uitvoerende komitee van die NWU-raad.

Sy verbintenis met die NWU sluit in dat hy in verskeie komitees dien en sedert Augustus 2014 ’n lid van die uitvoerende komitee is, asook voorsitter van die NWU-konvokasie sedert April 2018. Hy is ook sedert Augustus 2014 die voorsitter van die NWU Alumnivereniging en sedert 2012 die verteenwoordiger van die Potchefstroomkampus se alumni.

Sorgdrager het die grootste gedeelte van sy loopbaan in die bankwese, veral by Nedbank, deurgebring, waar hy as regsadviseur gedien het, en ook verskillende bestuursposisies in risikobestuur beklee het.

Mongale is ook ’n trotse alumnus van die NWU en het ’n Nagraadse Diploma (PGDip) in Bestuur, en ’n meestersgraad in Bedryfsielkunde. Hy het ’n honneursgraad in Bedryfsielkunde en ’n baccalaureusgraad in Administrasie aan die voormalige universiteit van Bophuthatswana, nou die NWU, verwerf. Hy is ’n Oliver Tambo-genoot (Nagraadse Diploma in Gesondheidsbestuur) aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

Hy studeer tans vir ’n meestersgraad in Filosofie in Konfliktransformasie aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU).

“Ek is geëerd om as ondervoorsitter te dien en daartoe verbind om hierdie noodsaaklike rol in die raad te vervul,” sê Mongale in die NWU se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.