Nuwe voorsitter vir Moyane-verhoor aangestel

Tom Moyane (Foto: ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa het besluit om ʼn nuwe voorsittende beampte aan te stel in die tugverhoor teen Tom Moyane, die geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

“Die besluit volg ná mnr. Moyane besware geopper het oor regter Kate O’Regan, wat aanvanklik as voorsittende beampte aangestel is, se bande met Corruption Watch, waarvan sy ʼn raadslid is,” het Khusela Diko, die president se woordvoerder, gesê.

“Terwyl die president seker is dat regter O’Regan die saak objektief sou beoordeel, het hy nogtans besluit dit is belangrik om enige moontlike opvatting van vooroordeel te verwyder.”

Die president het O’Regan bedank wat haar vir dié openbare diens beskikbaar gestel het.

Ramaphosa het Azhar Bham SC as die nuwe voorsittende beampte vir die dissiplinêre ondersoek aangestel.

Moyane is in Mei geskors nadat hy geweier het om te voldoen aan die president se versoek om te bedank. Ramaphosa se kantoor het in daardie stadium aangedui dissiplinêre stappe sal volg “om die geloofwaardigheid van die inkomstediens te herstel”.

Die dissiplinêre ondersoek hou verband met beweerde onsuksesvolle leierskap en organisatoriese foute.

Die presidensie het vroeër gesê aanklagte is vroeg in Mei teen Moyane aanhangig gemaak en hou verband met beweerde wangedrag in oortreding van sy pligte en verantwoordelikhede kragtens die Wet op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die SAID se gedragskode.

Die presidensie het gesê ʼn kommissie van ondersoek sal ook van stapel gestuur word om administratiewe belastingkwessies soos BTW-terugbetalings en inkomstetekorte oor die afgelope twee boekjare te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mrs H ·

Shaim, arme Kate O’Regan was toe TE WIT! Ons werk weer op Kwotas en nie Meriete nie. Skaam julle sies, dis so n afkykerigge houding.

Johann ·

Lekker man… lekker. Jy hou nie van wie jou moet blootstel vir wie en wat jy is nie, en moan daaroor by jou pel CR…. en TADDAAAAA…. jy kry jou sin.

Alida ·

En van wanneer af kies n krimineel wie sy verhoor moet waarneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.