Nuwe vrouemonument onthul

Die nuwe monument “Opstaan” (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Woensdag ’n splinternuwe vrouemonument digby Parys in die Vrystaat onthul ter herdenking van Nasionale Vrouedag en -maand.

Die monument bestaan uit brons en sandsteen en is op die FAK se Udolpho Rivierplaas buitekant Parys opgerig.

Hierdie monument, genaamd “Opstaan”, is opgerig om die Afrikanervroue te herdenk wat die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog oorleef en daarna teruggekeer het na hul plase wat in puin gelê het. Dit is ook ter herinnering aan hoe dié vroue self hand aan die ploeg geslaan en vorentoe gekyk het om hul plase weer te herbou.

Die beeldhouer Jacques Müller het ’n trotse Afrikanervrou met ’n stoere gelaat in brons op die monument uitgebeeld.

“Haar postuur is gedrewe en trots, penregop en grasieus in haar beweging. Agter haar rug word ’n brons ploeg getrek deur ’n gebroke aarde wat deur vier verskillende klippe op ’n sandsteenbasis voorgestel word,” sê hy. Die klippe dien as metafoor vir die gebroke Boererepublieke.

Dr. Danie Langner (liniks) van die FAK en die beeldhouer Jacques Müller (regs) (Foto: Verskaf)

Saam met die Opstaan-monument is ’n herinneringsmuur met die name van sowat 800 vroue en dogters wat die Boereoorlog oorleef het, opgerig.

“Die monument is ’n simbool van geloof en volharding deur die onmenslike tragedie in die Afrikaner se volksgeskiedenis. Sonder hierdie vroue wat uit sak en as opgestaan het, sou ons nie vandag hier gewees het nie,” sê Müller.

’n Herinneringsmuur met die name van die sowat 800 vroue en dogters wat die oorlog oorleef het (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê hierdie monument is vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die kontinuïteit tussen die verlede en die toekoms. “Die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is. Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie,” sê hy.

Georgiana Solomon, ’n Skotse filantroop, opvoeder en kampvegter in Suid-Afrika, beskryf in 1905 die toestand van die Boeregesinne wat sy tydens haar reise op die Transvaalse en Vrystaatse platteland ontmoet het. Sy vertel die aangrypende verhaal van vroue wat hulself in spanne van nege voor ploeë ingespan het om saad in die grond te kry omdat daar geen osse was om die ploeë te trek nie. Sy sê toe sy oor gedeeltes van hierdie geploegde land loop, het dit vir haar gevoel sy betree heilige grond.

Dit is vanjaar presies 120 jaar gelede toe lord Roberts die verskroeideaardebeleid in Pretoria aangekondig het. Die doel van dié beleid was om die Boeremagte se ondersteuningstelsel en infrastruktuur te vernietig. ’n Uitvloeisel hiervan was dat duisende vroue en kinders na konsentrasiekampe gestuur is, waar hulle ontsettende lyding en leed beleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Trotse Boervrou ·

TROTS! Mag hierdie heldinne nooit vergeet word nie. Innige dank aan die FAK.

Adeline ·

‘n goeie daad …. maar nou wonner ek hoeveel vandalisme hierdie beeld ook sal moet verduur in die nabye toekoms deur die voos vrot korrupte anc volgelinge … wonner ernstig

Diets ·

Fantasties. Ek wens my mede Afrikaners wil weer daai trots wys, wat ons voorvaders gehad het. En op hou jammer wees vir alles en almal. Dankie FAK.

Tewis ·

Wonderlik nuus!!! Trots om ń Afrikaner tewees sal beslis daar ń besoek gaan aflê na die lockdown.

Sylvia ·

Pragtige kunswerk,. Ek verstaan die uitbeelding van die troste Afrikaner vrou, maar dit was swaar tye, hulle het definitief gebukkend daardie ploeë getrek en ek kan my indink trane het soms oor hulle wange geloop, maar hulle het nooit moed opgegee nie, of geloof verloor nie, dit is wat hulle redding en sterkte was. Mag dit ‘n aanmoediging wees vir elke vrou wat elke dag haar besonderse stryd stry.

Prikkie ·

Indien daardie vrouens nie uitgemoor is in die Tweede Anglo Boere-oorlog nie, sou ons bevolkingsgetalle vandag aansienlik anders daar uitgesien het.

Psyggie ·

Ai, dit is verblydend om hiervan te lees. FAK doe so voort!

Pierreli ·

Dis ‘n goeie idee en ek stem heeltemaal saam met die oprigting van die monument. Die vroue het die mans onderseun. Maar hoe lank gaan die standbeeld so staande bly voordat daar die een of ander groep weer sê die beeld is rasisties.

Pandora ·

Die idee is pragtig, maar ai, dis darem ‘n baie klein standbeeldjie in vergelyking met al die manlike helde se beelde. Die Bloem vrouemonument het werklik ‘n baie mooi verteenwoordigende standbeeld.

As duiwelsadvokaat wonder ek net: sou dit nie meer werd wees om ‘n gebou op te rig waar hedendaagse vroue kan leer om bemagtig te word nie? Wat leer om so sterk te wees soos ons voorouers wat swaar gely het? Om in die toekoms vaardig te wees om hulleself op te lig en te kan sorg?

Dankie aan die FAK en hul lede wat geldelik belê om die FAK staande te hou om hierdie tipe dinge te doen.

Ou gees ·

Jy het ‘n puik idee beet! Ek sal nie omgee om te help ploeg nie!

Fedup ·

Let’s wait and see what will happen.
Mushroom society is a bit behind.

Mallie ·

Dankie vir die standbeeld. Plaas maar sekuriteit daarom want die Anc, Eff ens. sal dit seker ook weer verniel.

Jaun ·

Goeie dag MM.

Die berig laat dit klink asof slegs 800 vroue en kinders die konsentrasiekampe en die oorlog oorleef het. Dis onwaar. ‘n 100,000 plus (blanke) vroue en kinders het die kampe oorleef. Stel die berig reg asseblief. Dit is valse beriggewing om te verwys na “die name van die sowat 800 vroue en dogters wat die Boereoorlog oorleef het”. Die “die” voor die “sowat” is die fout.

Groete,
J.

Megan Swart ·

Dagsê Jaun
Dankie vir jou boodskap. Dit was inderdaad ‘n fout wat in die FAK se dokumente by ons aangekom het en ons nie raakgesien het nie. Dit dui beslis op ‘n betekenisverskil en ons het die berig gewysig.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Talia ·

Baie dankie FAK. Dit voel soms of ons vergeet van word en sy toe gestoot word. Die kan ons weer trots maak en om te aanhou ploeg voorentoe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.