Nuwe vuurwapenamnestie: ‘Besit jou vuurwapen weer wettig’

Argieffoto

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die nuwe vuurwapenamnestie verwelkom wat Saterdag in werking getree het en tot 31 Januarie sal duur.

Die organisasie beveel nou aan dat vuurwapeneienaars met vervalde vuurwapenlisensies van die amnestietydperk gebruik maak om weer hul vuurwapens wettig te besit.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het gesê die burgerregte-organisasie en sy regspan het gedurende die algehele landwye afsondering druk op die minister van polisie, Bheki Cele, en die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, oor die amnestietydperk toegepas.

“AfriForum was veral bekommerd dat vuurwapeneienaars nie tydens vlak 5 van die algehele landwye afsondering van die amnestie gebruik kon maak nie, aangesien dit volgens afsonderingsregulasies nie as noodsaaklik geag is om polisiestasies vir dié doeleindes te besoek nie.”

Kamfer wys daarop dat ʼn tussentydse hofbevel wat beskerming verleen het aan lisensiehouers in besit van vuurwapens met vervalde lisensies in Julie tersyde gestel is. “Dit beteken duisende mense besit nou ʼn ongelisensieerde vuurwapen wat ʼn misdaad is met ʼn moontlike vonnistydperk van 15 jaar tronkstraf, sou hulle skuldig bevind word.”

Kamfer doen nou ʼn beroep op vuurwapeneienaars met ʼn vervalde “wit” lisensiekaart om die vuurwapens waarvan die lisensie verval het by hul naaste polisiestasie in te dien sodat daar van voor af weer vir die ingehandigde vuurwapen se lisensie aansoek gedoen kan word.

Argieffoto: SAPD

“Ons verstaan dat mense wat hulle in hierdie penarie bevind, huiwerig is om hul vuurwapens aan die polisie te oorhandig en deur die rompslomp te gaan om weer aansoek te doen. Ons moedig hulle egter aan om kundige hulp te bekom en die proses enduit deur te voer sodat hulle in staat sal wees om hulself en hul families binne die raamwerk van die wet te beskerm.”

Maroela Media het vroeër berig die Nasionale Vergadering van die parlement het die nuwe vuurwapenamnestie Donderdagaand goedgekeur.

Tydens die amnestie kan mense wat ongelisensieerde vuurwapens het en daarvan ontslae wil raak sonder om vervolg te word, dit by polisiestasies ingee. Enigiemand anders met ʼn vuurwapen wat hulle nie meer wil hê nie, kan dieselfde doen.

Die polisie moet elke vuurwapen wat ingegee word ballisties toets om te verseker dit is nie in die uitvoering van ʼn misdaad gebruik nie. Die polisie is daarna verplig om die vuurwapens te vernietig.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, het intussen in ʼn verklaring gesê die vorige vuurwapenamnestietydperk, wat ook bedoel was vir ʼn tydperk van ses maande, is deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery.

Tog het die Suid-Afrikaanse Polisiediens 46 714 vuurwapens tussen Desember 2019 en Mei 2020 ontvang.

“Ons glo egter dat daar baie meer vuurwapens daar buite is wat nog ingegee moet word, en ons is vol vertroue dat die reaksie op die vorige amnestie nog groter sou gewees het as dit nie vir die pandemie was nie.”

Volgens Muridili wys die jongste misdaadsyfers daarop dat vuurwapens die voorkeurwapen is in die die meeste gevalle van geweldsmisdaad. “Die vermindering van beskikbare vuurwapens kan die plaag van geweldsmisdaad bestry en voorvalle heelwat verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierreli

Die wapens wat ontvang is beslis nie van die skelms nie. Dis meestal wettige wapens waarvan die lisensies verval het. Hierdie is net ‘n poging om die wets-gehoorsame publiek te ontwapen.

Kallie

Baie van hierdie lisensie probleme is die wapen eienaars se eie skuld omdat hulle nie ag geslaan het op wetgewing nie, as verantwoordelike wapen eienaar is al my lisensies betyds hernu en ek het geen probleme ervaar nie,

JohanR

Wat ek nie kan verstaan Pierreli van hierdie ANC(ek sal hulle nie ‘n regering noem nie) is dat hulle weet dat ons weet dat die nuwe vuurwapenamnestie is net nog ‘n poging om wets-gehoorsame publiek te ontwapen. Soos met Covid-19. Hulle was besig met ander donker goed vir drie maande instede om PPE’s en beddens reg te kry vir die tsunami wat gaan kom. Die Wes-Kaap was die enigste wat reg was, want hulle was nie besig met alle ander nonsens nie. Hier ook maak hulle ons die publiek van SA uit as sotte, en almal 30 percenters. Ons weet… Lees meer »

Kanjynoumeer

Voertuig is n bate.
Jy moet n lisensie hê.
Viurwapen of geweer is jou bate.
Jy moet n lisensie hê.
Gee n stywe boete as lisensie verval om dit te hernu.
Indien jy dit nie wil betaal nie, sit jy met n ongelisensieerde wapen wat jy weet jou in groot moeilikheid gaan beland.
Jy mag die reg hê om vuurwapen of geweer by die polisie in te gee sonder vervolging.

'n Simpelman

So Afriforum ondersteun nou ontwapening.
As daai wapen eers ingegee is, is hy nie meer in jou besit. (ontwapen)
Die wapen kan mos in jou besit bly tot lisensie hernu is.
Wapen is mos met uitreik van eerste lisensie ballisties getoets.

Of mis ek iets.