Nuwe waarnemende Gautengse DA-leier aangestel

Solly Msimanga (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die Demokratiese Alliansie (DA) se provinsiale uitvoerende komitee in Gauteng het Woensdag Solly Msimanga as die DA se waarnemende provinsiale leier aangewys. Dit volg ná John Moodey vroeër vandag as leier van die DA in Gauteng bedank het.

Msimanga is die DA se koukusleier in Gauteng en ook die voormalige burgemeester van Tshwane. Msimanga het Moodey verlede jaar in die verkiesing van die DA-leier in die wetgewer geklop.

Maroela Media het vroeër berig Moodey het bedank te midde van ʼn interne ondersoek oor die kwessie of hy moontlik betrokke was by ʼn smeerveldtog teen sommige DA-lede.

DA-bronne het by navraag aan Maroela Media bevestig dat die aanvanklike ondersoek deur die party bevind het daar was wel gronde vir die aanklagte. Die ondersoek het ook die punt bereik dat Moodey hom teen die aanklagte moes verweer.

Moodey was die afgelope 16 jaar die DA se provinsiale leier in Gauteng. Die party het onder sy leierskap gegroei, hoewel dit in verlede jaar se verkiesing effe agteruitgeboer het.

Mike Moriarty, die DA se provinsiale voorsitter in Gauteng, sê die DA is oortuig dat die provinsie in goeie hande sal wees onder Msimanga se leierskap en dat hy stabiliteit sal verskaf.

“Msimanga se leierskapsvaardighede sal ʼn positiewe krag in al ons strukture uitoefen tot die provinsiale kongres waartydens die nuwe provinsiale leier verkies sal word,” sê Moriarty.

Moriarty sê die DA bly steeds daartoe verbind om sy steun oor die hele provinsie te vergroot, asook om te verseker dat die party se hoofdoel om die ANC in die verkiesing te klop onder Msimanga se leiding gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AJ

WELKOM Solly Msimanga!

Vat Gauteng weg van die ANC (rampokker) regime in die komende verkiesing!

Janee!

Die DA is soos kos sonder sout….

Wil ook net sê

Met Solly Msimanga aan die stuur van sake, sal Gauteng floreer! Hy beskik inderdaad oor besondere leierskapsvaardighede en het verseker ‘n positiewe energie. Ek vir een hoop van harte dat hierdie bekwame man se waarde sal uitbrei tot hoë hoogtes