Nuwe waarnemende hoof vir Transnet

Argieffoto

Tau Morwe, ʼn voormalige senior bestuurder by Transnet, is as dié maatskappy se waarnemende groep- uitvoerende hoof en lid van die Transnet-raad vir ʼn tydperk van ses maande aangestel.

Morwe sal vanaf 1 November tot 30 April volgende jaar in dié posisie waarneem.

Morwe se aanstelling kom nadat Siyabonga Gama twee weke gelede as uitvoerende hoof van Transnet afgedank is weens bewerings van ernstige oortredings rakende finansiële, verkrygings- en fidusiêre verpligtinge. Twee regsfirmas het Gama betrek by bewerings dat verkrygingsreëls oortree is in ʼn R54 miljard‑kontrak om 1 064 nuwe lokomotiewe vir die maatskappy aan te koop.

Gama het hom intussen na die Arbeidshof gewend om sy afdanking te betwis.

Morwe het in 1997 by die staatsbeheerde vrag- en spoormaatskappy aangesluit en was 17 jaar lank in diens van die maatskappy. Hy het in dié tyd as uitvoerende hoof van drie van Transnet se afdelings gedien – die nasionale hawe-owerheid, vragspoorweë en haweterminale.

Nadat hy in 2015 by Transnet weg is, het hy as ʼn vervoer- en logistieke konsultant in Suid-Afrika en oor die res van die kontinent gewerk.

Morwe het ʼn BA‑graad in ekonomie van die Howard‑universiteit in die VSA, asook kwalifikasies van die Nasionale Universiteit van Singapoer. Popo Molefe, voorsitter van die Transnet-raad, meen Morwe se aanstelling bring ʼn magdom ondervinding na die maatskappy in ʼn tyd wat dit noodsaaklik is dat bestuursprosedures by Transnet versterk en konsolideer word.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Morwe se aanstelling goedgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.