Nuwe wapenamnestie goedgekeur en ook gekritiseer

Argieffoto: SAPD

Die volgende vuurwapenamnestie begin Saterdag (1 Augustus) en sal tot 31 Januarie duur, nadat die Nasionale Vergadering van die parlement dit Donderdagaand goedgekeur het.

Tydens die amnestie kan mense wat ongelisensieerde vuurwapens het en daarvan ontslae wil raak sonder om vervolg te word, dit by polisiestasies ingee. Enigiemand anders met ’n vuurwapen wat hulle nie meer wil hê nie, kan dieselfde doen.

Die polisie moet elke vuurwapen wat ingegee word ballisties toets om te verseker dit is nie vroeër in ’n misdaad gebruik nie. Die polisie is daarna verplig om die vuurwapens te vernietig.

Sowel die DA as die VF Plus het hul twyfel oor die doeltreffendheid van vuurwapenamnesties in Suid-Afrika uitgespreek; deels omdat dit so swak hanteer word, deels omdat dit eintlik deur die swak toestand van die polisie se vuurwapenregister veroorsaak word en deels omdat dit so totaal ondoeltreffend is vir die primêre doel wat die regering daarvoor aanvoer, naamlik om vuurwapens uit misdadigers se hande te hou.

Genl.maj. Ockie Terblanche, DA-LP, het uitgewys dat die polisie nog net ’n skamele 33 van die meer as 6 000 vuurwapens wat tydens die vorige amnestie ingegee is, ballisties kon toets – ’n nuwe patetiese laagtepunt van die konsep “slakkepas”.

Terblanche het voorts benadruk dat daar letterlik jare laas tydens ’n amnestie ’n vuurwapen ingegee is wat in ’n misdaad gebruik is; die amnestie misluk dus in sy doel.

Volgens Terblanche is die vuurwapen nie die probleem nie – dit hang af van in wie se hande die vuurwapen beland.

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het gesê dit is wensdenkery om te glo misdadigers gaan vuurwapens ingee binne die huidige bepalings van die amnestie.

“’n Vuurwapen kan net so min iemand uit sy eie dood as wat ’n pen uit sy eie verkeerd kan spel,” het Groenewald uitgewys.

Die realiteit van die huidige situasie is volgens Groenewald dat wettige eienaars, wat nie betyds hul vuurwapenlisensie hernu het nie, hul vuurwapens verbeur, terwyl misdadigers steeds gewapen is.

Wettige vuurwapeneienaars wat nie betyds hul lisensies hernu nie, moet eerder, soos in die geval van motorlisensies, die geleentheid gegun word om dit wel te doen met ʼn boete aan die agterstallige hernuwingsperiode gekoppel.

“Die probleem moet hanteer word deur die wet te wysig sodat mense nie hul vuurwapens verbeur indien hulle versuim om binne drie maande voordat hul lisensies verval, aansoek doen om herlisensiëring nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LANA is ELANè ·

So reg in die kraal van die regering, ontwapen ieder en elke wettige wapeneienaar in die land ~ dan kan kriminele sonder enige onsekerheid hul onwettige wapens opneem en met selfvoldaanheid plunder, moor, verkrag sonder vrees van teenstand. Hulle kan selfs mense tydens kerkdienste gaan teister en beroof want dit is so lekker sagte teiken.

Corne123 ·

Die hele vuurwapen wet is n klug.Jy moet 3 maande voor die tyd aansoek doen om hernuwing kyk of jy die nuwe ene binne 3 maande kry nie n kaans nie so hoekom? Dit net om die wettige wapeneienaar te ondwapen in die hoop hy versuim om betyds aansoek te doen

Isabella ·

Mense hul wil jul ontwapen elke skurk daar buite ht n wapen en hul gan dt gebruik teen elke onskuldige burger in hierdi land …laat di wat vuurwapens gesteel ht van wettige eienaars dt terug gee

Persheks Adri ·

Dink hulle ons is stupid? Moet nie my intelligensie onderskat nie! Groot hoed het mos gesê net SAPD sal wapens hê, maar dis juis hulle wat nie eers weet hoe om dit te gebruik nie en dit word so maklik van hulle af gevat dis nie eers snaaks nie! Moet nie vir my vertel hulle vernietig die wapens nie…

Mariana ·

Net nog wapens om te versprei tussen die oormag kriminele in die land. Vir hulle is dit mos wettig om onwettige wapens te hê. Ja totale ontwapening van die wat lisensies het. Hernu betyds en kry bewys van hernuwing in proses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.