Nuwe wending in saak oor Herold-skool

Ds. David Elias.

Ds. David Elias, die predikant wat sedert die begin van die jaar indringende samesprekings met die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gevoer het om die Franken Primêre Skool op Herold by hom te koop, moes reeds in 2018 afgetree het en het onregmatig met die WKOD onderhandel.

Volgens die kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) is Elias dus tans onwettig die leraar van die De Villiers- en Waboomkraal-gemeente en 12 verdere wyke in die omgewing. Boonop het die termyn van die kerkraad wat deur Elias gelei word ook lankal verstryk wat die voorgenome kooptransaksie in sy geheel nietig maak.

Dié inligting het aan die lig gekom toe ds. Steven Anthony van die ring van Zoar se kommissie vir regsake lidmate gister oor die aangeleentheid toegespreek het. Anthony het die gemeente om verskoning gevra dat hulle in die steek gelaat en afgeskeep is en lidmate bedank vir hul volgehoue lojaliteit teenoor die VGK “terwyl die kerk onder wanadministrasie gebuk gaan”.

Foto: Verskaf

Met spesifieke verwysing na die skool se verkoop het hy gesê: “Daar is ʼn grondwetlike rede wat ons sou kon gebruik, óf in die hof óf in enige ander kerklike strukture soos die ring of die sinode, hoekom hierdie proses nie kan voortgaan nie.”

Die vergadering het plaasgevind nadat die burgerregteorganisasie AfriForum en die Vryheidsfront Plus onderneem het om die gemeenskap van die Langkloof by te staan in hul stryd om hul skool te behou. Van die lidmate is oor groot afstande met busse aangery om die langverwagte vergadering by die kerk op Herold by te woon.

Die ringskommissie het verlede week in ʼn brief aan AfriForum se Arno Greyling gesê dat hul skrywes aan die kerkraad en Elias grootliks onbeantwoord gebly het en dat hul opdrag dat Elias moet aftree nie uitgevoer is nie. “Ds. Elias se teenwoordigheid in die gemeente hou ernstige implikasies vir homself, die gemeente en die kerkraad in,” aldus die brief.

Foto: Verskaf

Franken Primêre Skool wat op die kerkterrein op Herold gebou is, was sedert 2017 feitlik onder beleg toe Elias geweier het om ʼn verdere huurkontrak met die departement te sluit voordat verskeie, byna onmenslike voorwaardes, nie nagekom is nie.

Skoolbusse kon nie langer by die skoolhek stilhou nie omdat die pad anderkant die hek ʼn servituut is op die plaas van Theo Adams, Elias se vriend en sogenaamde adviseur. Adams is besig om die piepklein Herold in ʼn historiese toeriste-aantreklikheid te omskep waarby ʼn behuisingsprojek ingesluit is.

Foto: Verskaf

Verdere voorwaardes was dat die skool ook die biomassa-verwarmingstelsel vir die klaskamers verwyder en die boorgat toegemaak word omdat Elias glo nie toestemming daarvoor gegee het nie. Die WKOD het aan al hierdie eise toegegee maar Elias het later besluit dat die departement die skool moes koop en nie huur nie.

Die departement se woordvoerder het sedert Julie hierdie jaar herhaaldelik aan Maroela Media gesê dat die WKOD met die kerk se regmatige verteenwoordiger onderhandel en teen die einde van November was die terugvoering dat die kooptransaksie reeds by die departement van openbare werke vir goedkeuring is. Intussen het die gemeente volgehou dat hul skool nog nooit te koop was nie en dat die dominee geen mandaat het om te onderhandel nie.

Ouers het vroeër die week na die skool opgeruk.

Die Franken-skool is sedert 1933 stelselmatig en eiehandig deur die ouers van leerlinge, lede van die gemeente en plaaslike inwoners opgerig, maar hulle moes moedeloos toekyk hoe hul teenkanting teen die transaksie deur al die partye geïgnoreer word.

Volgens die lidmate het Elias aangevoer dat die skool verkoop moes word omdat die gemeente hom geld skuld en hy nie ʼn pensioenskema het nie. AfriForum het nou ʼn mandaat ontvang om namens die lidmate ʼn PAIA-aansoek in te dien om toegang tot die gemeente se finansiële state te verkry nadat dit bekend geword het dat Elias vroeër ook stil-stil twee wyk-kerke verkoop het.  Niemand weet skynbaar wat van die geld geword het nie.

Intussen het Elias gisteraand in ʼn TV-onderhoud ontken dat die skool se verkoop sy pensioen moet aanvul. Hy beweer die skool word deur die kerk in stand gehou maar Maroela Media het voorheen berig dat die skool eintlik die kerk onderhou en dat Elias se salaris deur die huurgeld van die WKOD betaal word.

Daar sal waarskynlik ook hierdie week nog oor Elias se onwettige teenwoordigheid in die gemeente besluit word sowel as oor sy uitsetting uit die pastorie wat hy dus ook onwettig bewoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie J ·

Gogga maak vir baba bang; Baba se ouboet trap gogga se alie vas!

Sarel ·

Hoekom het die Kerk sy lidmate in die steek gelaat.
Die wiel van geregtigheid draai soms stadig nasr hy draai.
Hoekom het die Kerk nie ‘n pensioen skema vir sy Leeraas nie

Bernard ·

“Nuwe wending” is dieselfde as agteruit reverse oor die bulldog-hond

Hannelie ·

Yo…..klink soos een skelm Ds….ok maar mens ek veronderstel

Blomme ·

As lede vd gofirment dit kan doen.. Hoekom dan nie ń arme sondaar in die vorm van die geestelike herder nie… Hahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.