Nuwe wending in soektog na man wat 31 jaar vermis is

Dennis Haynes soos hy gelyk het toe hy vermis geraak het. Foto: Facebook

ʼn Nuwe wending het Dinsdag aan die lig gekom in die soektog na Dennis Haynes, die man van Bloemfontein wat 31 jaar gelede spoorloos verdwyn het.

Desireé Haynes, Dennis se suster, het gesê ʼn DNS-toets wat gedoen is om die DNS van haar ma en die man wat hulle vermoed het is haar broer te vergelyk, was negatief.

Haynes het vroeër vandeesmaand gesê dat ʼn eerste DNS-toets ʼn verband tussen haar en die man wat hulle geglo het Dennis is, getoon het. Volgens Haynes oorweeg sy nou om nog ʼn DNS-toets te laat doen, maar het die familie nog nie daaroor besluit nie.

Maroela Media het vroeër berig Dennis was 22 jaar oud toe hy in 1986 van Bloemfontein na Roodepoort vertrek het vir ʼn werksgeleentheid. Dennis het egter nooit teruggekeer nie en sy familie kon hom nie in die hande kry nie. Hy is as vermis aangemeld by die polisie, maar ʼn soektog na hom het niks opgelewer nie.

Nadat ʼn vriendin van Desireé ʼn Facebook-blad begin het om teen alle verwagting in te kyk of sy nie dalk vir Dennis kan opspoor nie, het ʼn vrou wat hulp aan haweloses in Pretoria gee Dennis se foto gesien en haar gekontak. Sy het gesê dat daar ʼn hawelose man in Pretoria is wat moontlik Dennis kan wees. Desireé is Pretoria toe om die man te ontmoet en hy het homself as Francois voorgestel, hoewel hy baie soos ʼn ouer weergawe van Dennis lyk wat 31 jaar gelede vermis geraak het.

Die Haynes-familie het sedertdien vir Francois ingeneem en help hom om weer op sy voete te kom. Foto: Facebook

Desireé het vroeër gesê die man ly aan erge geheueverlies en het ʼn vorm van breinskade opgedoen, vermoedelik nadat hy in ʼn tref-en-trap-ongeluk betrokke was. Die familie het hom sedertdien ingeneem en hom gehelp om weer op sy voete te kom. Desireé het verlede week aan Maroela Media gesê hoewel hy waarskynlik nooit weer sal werk nie, doen hy tans handewerk en maak onder meer sleutelhouers en armbandjies om homself besig te hou. Die familie wil hom ook by ʼn sentrum kry wat kan help om sy brein te stimuleer.

“Die reis is nog steeds nie verby nie. Ons sal nog steeds vir Francois help en hom die ondersteuning gee wat hy nodig het,” het Desireé Dinsdag gesê. “En ek sal beslis aanhou om na my broer te soek.”

Nadine Smal, Desireé se vriendin, het Dinsdagaand op die Facebook-groep oor Dennis geskryf Francois se glimlag het in hul harte gekruip en hulle gewys daar is altyd hoop ongeag hoe sleg omstandighede is. “Ons gaan nie die [Facebook-] blad sluit nie. Ons is jammer as daar mense is wat ons in ons soeke te na gekom of seergemaak het, maar ongelukkig is daar nie ‘n handleiding vir dié soort ding nie,” het sy gesê.

“Dennis Vivian Haynes, ek ken jou glad nie, ek weet nie hoe jou stem klink, hoe jy lyk of waarvan jy hou of nie hou nie, maar jy het diep spore in my gemoed kom trap. Ek het vir Desireé belowe ek sal nie ophou soek nie. Ek sal aanhou tot ek jou kry. Ter wille van jou en jou familie sal ons jou kry. Ek sal nie toelaat dat jy in ‘n oorvol stelsel bly wegraak en stof opgaar oor onbevoegde, onbelangstellende mense wat nie omgee nie. Ons sal jou kry en teruggee aan die mense wat al vir meer as dertig jaar elke aand gaan slaap met die wonder oor waar jy is en elke oggend opstaan met hoop dat jy gevind sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Maggies ·

Sterkte moet nie ophou soek nie. Hy is daar iewers en wag vir julle

Christine V ·

Desiree, laat doen asb nog ‘n toets. Maak heeltemal seker. Baie sterkte aan julle as ‘n familie.

MissDemeanor ·

Selfde pa, verskillende ma’s dalk? Of albei was aangeneem en die ouers het hul nie vertel nie?

$ ·

Hoe kan een toets positief wees en die ander negatief? Wat sê dit vir ons oor die betroubaarheid v dns-toetse as bewysstukke in hofsake?

MissDemeanor ·

Die kwaliteit / standaarde van forensiese en komersiele DNA toetse verskil. In forensiese laboratoriums word daar baie voorsorg getref om kontaminasie te voorkom en die toerusting wat hul gebruik verskil (bv pipet punte met spesiale filters vs gewone pipet punte). Maar klink eerder of die twee kinders verwant is, maar die ma en seun nie. Hul sal moet kyk of die ma en dogter verwant is. Ek dink hul is dalk aangeneem en nooit vertel nie.

Cheryl ·

Ek verstaan nou glad nie in die vorige berig het jul gesê die DNS toetse wat gedoen is tussen sy suster en hom was positief gewees… Nou hoe dan nou dat dit negatief tussen hom en sy ma is verstaan dit glad nie!!!! Ek onthou nog almal was nog so bly oor die goeie nuus!!!

Leahim ·

Die familie het n seun verloor die ou het n familie verloor aanvaar mekaar en maak op vir die verlore tyd daar is n doel dat julle by mekaar uitgekom het.

Piet Snot ·

Jy’s reg. Al blyk dit uiteindelik hulle het die verkeerde man beet, gebruik die mooi wat hieruit gekom het.
Wees ‘n familie vir hom en laat hy’n surrogaat wees vir die geliefde wat julle verloor het.

Gideon ·

Dit moet dié familie se seun wees, anders sou daar mos lankal iemand anders na vore gekom het om hom aan ‘n ander familie te verbind. Veral met die wye media dekking van die afgelope tyd.

Jaco Grobler ·

Al die sensasie en dekking het sy tol geeis, mense tree op sonder om goed te deurdink. Hoe sal ek nou my ma deur so iets sit? Wat doen die arme tannie nou, hoe voel sy? Emosies seker die hele plek vol. Dink mense… Moebie hals oor kop optree as daar ‘n kamera op jou gemik is nie.

Saartjie ·

Ek stem. Dit is bitterlik onverantwoordelik om so op te tree. Hierdie hele storie gaan nog baie diep hartseer bring. Daar is emosionele besluite geneem wat bitter lang trane tot gevolg gaan hê. Ek kry die tannie en “seun” baie jammer. Wat gaan van hom word ??. Gaan hul vir hom sorg tot in lengte van dae? Of hom later terug vat strate toe?? Nie baie mooi gedink nie

The Oracle ·

Belaglik. Daar is dan twee weke berig dat die dns toets positief was. Seker die pers se manier op soeke na sensasie…

se iets ·

Hulle het in n vorige berig gese hyt n vrou en n dogtertjie? Nou hoekom kom hulle nie na vore en doen ook toetse nie? Ek vra net, waar is hulle dan

Zet ·

As die DNS toets tussen suster en “broer” positief was en die toets nou negatief is tussen “broer” en ma, moet suster dalk ook ‘n DNS toets doen tussen haar en ma????? Sterkte vir al die rolspelers. Verwagtinge is geskep en nou moet mense daarmee saamleef.

Saartjie ·

Hy was dalk in die hospitaal omgeruil? Doen dans op sy dogter!

E.K. ·

Hoop- maar alles word uitgesorteer maar eintlik wil ek sommer net hier, op hierdie forum vir alle vroue vandag ‘n heerlike vrouedag toewens!

John ·

Gewonder hieroor. Die gesigstrukture verskil. Die ‘verlore seun’ weet skalks dis ‘n leuen, maar wie hou nie van geborgenheid nie. ‘n Gebroke familie… weereens.

madels ·

As die DNS toetse positief was dat dit haar broer is maar negatief dat dit sy ma is, dan beteken dit dat hulle altwee dalk aangenome kinders is. Miskien boetie en sussie wat aangeneem is deur die tannie…. dit sal darem n verskriklike ding wees om dit so uit te vind as dit waar is

Asmain ·

Was my eerste gedagte ook, maar die ma behoort mos te geweet het die DNS sou, igv aanneming, bewys dat daar nie n band tussen haar en die “kind” kan wees nie…hoekom voirtgegaan met die toetse?

Dirkie ·

So baie mense se kommentaar was moenie te vinnig bly word nie. Daar was menigte mense wat gese het ja hy lyk soos die ou op die foto. Kyk na sy ken en Wang bene etc. Nou na soveel blydskap weer trane. Hulle moes eers DNS toetse gedoen het en as positief dan die man aan sy ma voor gestel het. Mens weet mos wat is die regte ding om te doen.

lynni ·

Vir iemand van in die vyftig het hy nie een grys haar. Dalk gekleur.

Ronel ·

As jy na grys hare wil wys. My ma het op 65 eers begin grys word. En nee sy het nooit har hare gekleur nie.

Dewald ·

Ek ken paar mense van bo 50, selfs bo 60 wat natuurlik baie jonger lyk. Net bloot goeie gene. Weet van mense in hul tagtigs wat nog natuurlike haarkleur het sonder ‘n grys haar.

Hannelie ·

Ek het al my eerste grys hare op 25 gekry, my pa was vroeg grys. My ma aan die ander kant was 65 jaar oud en ons het nog die grys hare gesoek, en sy het nie haar hare gekleur nie. Dit hang af van die gene. Maar ten minste is die man wat nou by hul is, versorg en hy voel “geliefd”. Ek hoop hul vind sy familie.

Hendrik van George ·

Ai tog! Nou wie is die man wat nou so lekker kuier?

Nick ·

Die man is nie dennis nie, dit is francois venter ek het saam sy ooms groot geword ek ken hulle my lewe lank een oom bly in cullinan en die ander bly in oranje hulle het hom al baie probeer help. Ek kry die tanie baie jammer dat dit nie haar seun is nie

lynni ·

Op kykNET nuus vanaand gesê hy is 31. Groot verskil van 51.

Riaan ·

Ma en suster moet DNA toetse doen…..ek glo Dennis en sy suster is verwant maar dat hulle i ander ma het…..

Toy ·

Op kanaal 147 kyknet is daar n vrou wat mense help om familie op te spoor. Hul moet haar dalk kontak, sy doen dit op die regte manier. Die program is Waar Begin Ek Soek.

LS ·

Mense, lees Nick se kommentaat hier bo, dit is nie Dennis nie, dit is Fransious Venter.
Nou wonder ek net hoekom het sy eie mense nie na vore gekom en gesê hulle het die verkeerde persoon nie?
En as sy ouers hom soveel keer probeer help het soos Nick hier bo noem, hoekom kom vreemde mense reg met hom, maar sy eie mense “probeer”.
Shame, hy lyk sommer heel gelukkig saam ‘n familie wat nie syne is nie.
Ai, sterkte julle, ek hoop van harte dat julle vir Dennis sal opspoor, ek kan net dink hoe moeilik dit vir julle moet wees om te wonder…….

not in wonderland ·

Dalk het hulle genoeg van hom gehad. “…..hulle het hom al baie probeer help”.

LS ·

Ek verstaan net nie hoe die sussie en Fransious se DNA ooreenstem nie………..

Suzie ·

Nick, ek wil graag net weet hoekom het jy nie al van dag een af hierdie punte genoem nie – as jy het, vra ek verskoning, want dan het ek iewers iets gemis.

RB ·

Ja dit lyk of daar mense was wat meer inliging gehad het en die familie verstaanbaar emosioneel en dalk oorhaastige besluite geneem het.

Ps ·

Die hele land is koerup so ook die dns ook . Noem n plek waar geen koerup is nie Noem maar net uit n leek

Laurika ·

As Nick hier bo reg is, en hy ken wel hierdie man, is hierdie Francois Venter een siek knaap om so in die ou tannie se boesem te lê en die aandag en liefde te geniet, wetend dat hy nie die lang verlore seun is nie. Soek hy dalk haar laaste ou bietjie pensioen geldjie? So ‘n skirminkel….

Anneline L ·

Laurika
Jy kan nie vir Francois verantwoordelik hou vir sy optrede nie… hy het breinskade.. hierdie sussie en vriendin moes eers regtig ingegaan het op al die feite en inligting voor hul op hol gegaan het… hoeveel lewens is nou nie vernietig hierdeur… ek hoop net hul die ordentlikheid om na als die regte professionele hulp vir Francois te kry om vir hom te kan verduidelik hoekom sy omstandighede nou weer gaan verander…
die arme man word heen en weer aangegee soos n klein hondjie..

Dirkie ·

As Hy breinskade het met respek gese moet Hy in n staatsinstansie wees.

RB ·

Dirkie. Ja dan sou niemand ooit van hom nie geweet het nie. Daar is baie gevalle soos hy. Hulle bly nie by die naasbestaandes nie en so gaan dit aan tot die staat hulle vat en wat dan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.