Nuwe wet bring groter deursigtigheid oor geld in SA politiek       

(Foto: Maroela Media)

Pres. Cyril Ramaphosa het uiteindelik die proklamasie vir die aanvang van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye onderteken, en dit sal van 1 April af geld.

Dit sal groot veranderings beteken wat die manier betref waarop politieke partye geld deur skenkings, asook van die staat, kan bekom.

Wat skenkings betref sal politieke partye voortaan kwartaalliks alle skenkings van meer as R100 000 van individue of maatskappye moet verklaar aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), wat dit jaarliks sal publiseer.

Dit beteken dat mens makliker sal weet wie die groot finansierders van politieke partye is, want tot dusver is die finansiering van politieke partye as ’n interne kwessie beskou.

Die R100 000 sluit ook die waarde van skenkings in natura (soos die verskaffing van dienste of goedere) in.

Politieke partye mag geen geld van buitelandse regerings, persone of entiteite ontvang nie, en ook nie van staatsorgane of staatsbeheerde maatskappye en entiteite nie.

Elke politieke party moet ’n rekenkundige amptenaar aanwys en oortreding van die wet kan uitloop op tronkstraf van vyf jaar of ’n boete of albei.

Voorts word geld wat soos tevore uit belasting verkry word, voortaan steeds deur die OVK beskikbaar gestel aan politieke partye sodat hulle behoorlik kan funksioneer.

Dit sal bekend staan as die Verteenwoordigde Politieke Partyfonds. Hiervan word ’n derde gelykop verdeel tussen alle partye met setels in die parlement en/of provinsiale wetgewers. Die ander twee derdes word proporsioneel tussen partye met sulke verteenwoordiging verdeel.

Daar word ook ’n Veelparty Demokrasiefonds gestig vir private skenkings wat op dieselfde wyse deur die OVK bestuur sal word.

Ramaphosa het die afgelope paar jaar onder groeiende druk van burgerlike organisasies en politieke partye deurgeloop om die wet van krag te maak.

Die Vryheidsfront Plus het spesifiek Ramaphosa se ondertekening van die proklamasie verwelkom as ’n meer regverdige manier om finansiering van politieke partye te reguleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Nou gaan skenkers net eenvoudig R99999.99 skenk onder mutlipal name.

Sarel

Geld dit net vir Opposissie Partye