Nuwe wet oor munisipaliteite goedgekeur

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Die Nasionale Vergadering het Donderdagmiddag eenparig ’n wetsontwerp aanvaar wat ʼn omvattende impak op die funksionering van munisipaliteite sal hê.

Die Wysigingswet op Plaaslike Regering en Munisipaliteite stel ’n gedragskode vir munisipaliteite in en verhoed enigeen wat aan die oortreding daarvan skuldig bevind word om binne ’n tydperk van twee jaar weer tot raadslid verkies te word.

Dit stel ook munisipale oorsigkomitees oor openbare rekeninge in, en bepaal dat alle munisipale verslae in die openbaar ter tafel gelê moet word.

Yl bevolkte munisipaliteite, spesifiek in die Noord-Kaap, sal voortaan tot 20% meer raadslede kan hê as wat die kwota toelaat. Rade met meer as veertig lede se hoofsweep sal voortaan voltydse posisies beklee.

Daar is ook verskeie tegniese veranderings aan die regulasies vir munisipale verkiesings.

Kevin Mileham, DA-LP, het gesê hoewel sy party die wetsontwerp steun, gaan dit nie ver genoeg om munisipaliteite wat deur die ANC regeer word te red nie, veral omdat die ANC weier om op te tree teen hul lede wat misdade pleeg in munisipale bestuur.

As voorbeeld het hy die ANC -LP Zukiswa Faku, voormalige burgemeester van die Buffalo City-metropool in Oos-Londen, genoem.

Daarteenoor het Mileham gesê DA-bestuurde munisipaliteite soos Johannesburg en Tshwane in Gauteng, Thabazimbi en Modimolle in Limpopo, Kouga (Humansdorp) in die Oos-Kaap het bewys dat al wat nodig is om sukses te behaal, die wil is om volgens die regulasies te regeer en skoon administrasies te bestuur.

Die EFF het ook gesê die wet gaan nie ver genoeg nie, en die ANC steel wat hulle kan, want hulle kan. Die IVP het gevra dat die ANC ophou om vanuit die regering staatsmag te gebruik om IVP-beheerde munisipaliteite onregverdig te teiken.

Wouter Wessels. Foto: Facebook

Wouter Wessels, VF Plus-LP, het gesê sy party steun die wetsontwerp, al gaan dit nie ver genoeg nie. Hy meen die ANC word deur onwettige gedrag gedefinieer want hulle “beskou wetgewing bloot as ’n riglyn”.

Volgens Wessels wil die ANC alle mag sentraliseer en stel hulle munisipale bestuurders aan wat onbekwaam is. Hy meen die kiesers gaan die ANC op stemdag straf vir swak dienslewering.

Namens Cope het Willie Madisha gesê dis in elk geval net die opposisie wat die wet toepas.

Ter afsluiting van die debat het Mkhize gesê die ANC en die regering sal hul foute in die toekoms regstel, en het die DA gewaarsku dat ’n oudit van die Tshwane-metro dalk nie heeltemal so positief mag wees as wat hulle hoop dit sal wees nie.

Die wetsontwerp is vir oorweging na die Nasionale Raad van Provinsies verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wonder net ·

Help ek verstaan nie!
Hoofsweep word in sommige gevalle nou ‘n voltydse posisie. Wat is al sy voltydse pligte?
Nog meer raadslede in ylbevolkte gebiede?
Hoe gaan munisipaliteite binne begrotings bly met meer personeel?
Gaan dienslewering verbeter, korrupsie verminder?
Vir my lyk dit asof die salarisrekening net gaan groei.

marco polo ·

En wie betaal vir die ekstra raadslede vir die ylbevolkte munisipaliteite? Dis juis hulle wat dit die minste kan bekostig. Die soustrein stoom voort.

Cherokee ·

Dit is juis waaraan ek onmiddellik gedink het; nie slegs die land word oorbevolk nie maar selfs munisipaliteit-besture ook. Yl bevolk beteken yl finansiëring. Dit klink asof hulle dit nie verstaan nie.

Johan H. ·

Gaan die lot ook tiepe van mediese toetse deur om te kyk of hulle kan werk,kyk ook sommer vir kriminele rekords asb. Is dit net . Bbbbeee ?Want as dit is ,is dit gedoem van die staanspoor!

Riaan ·

Ek kan nie glo datvek vir eenkeer saam met ‘n CancER minister stem nie?

Ek se al lankal dat Tshwane onder msimanga nie lekker is nie. Miskien is dit hoekom msimanga gevlug het? Spaar ons as hy premier word!!!!

Bosvarkie ·

“The Phoenix that rises from the ashes” Die lands wapen, die land en alles in die land is nog nie ashes nie… wonder wie en wat gaan die Phoenix wees…. seker nog ñ zupta

Afrikaner ·

‘n Teenvoeter vir werkloosheid, as jy twee mense vir een pos kan aanstel, waarom nie, kyk hoe gaan dit in al die staatsdepartemente, die Munisipaliteite, die Staats entiteite, als wat hulle doen het net een doel voor oë en dit is om mense in poste geplaas te kry. Dis hoekom daar twee munisipale trokke met elk sy eie werkers by ‘n enkel waterpyp wat aandag nodig het opdaag.

Hans ·

Besparing word aan ons voorgehou maar wat soen die regering?

Anton ·

Pleks hulle ‘n wet maak dat raadslede slegs ‘n minimale toelaag vir bywoon van vergaderings ontvang. Dan sal daar nie so baie soustrein drywers wees nie en darem paar rand oorbly vir dienslewering. Verstommend dat daar so min insig in die parlement is dat dat hulle dink om plaaslike rade met nog meer halfgeletterde lede uit te brei enige iets sal oplos. Die probleem gaan net vererger.

Akademi Buktu ·

Meer voltydse poste, nog minder geld oor vir dienslewering.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.