Nuwe wet sal ‘afskuwelike porno maklik toeganklik maak’

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Die omstrede wysigingswetsontwerp op die film- en publikasiewet is hierdie week by die Nasionale Raad van Provinsies ingedien.

Dit word deur verskeie organisasies verwelkom wat ten gunste van vryheid van spraak en teen sensuur is, maar terselfdertyd veroordeel deur verskeie organisasies wat teen toegang tot pornografie gekant is.

Die wetgewing is baie omvattend en vervat verskeie veranderings in die bepalings oor pornografie in Suid-Afrika.

Die doelwitte van die wetgewing is om die definisie van kinderpornografie op te dateer om tred te hou met hofuitsprake, om die verspreiding van pornografie waarin slegs volwassenes voorkom op die internet te dekriminaliseer, om die klassifikasiestelsel van die film- en pubikasieraad te verander, om definisies van pornografie ook op digitale en rekenaarspeletjies van toepassing te maak en om sogenaamde “wraakpornografie” op sosiale media onwettig te maak.

Dit word gedoen deur kinders meer eksplisiet teen kinderpornografie te beskerm en die magte in hierdie verband deur die film- en publikasieraad uit te brei deur die instel van ’n strafkomitee.

’n Belangrike bepaling is die algehele verbod wat geplaas word op uitbeeldings van gewelddadige seks, bestialiteit, bloedskande, verkragting, eksplisiete geweldsuitbeelding of spesifiek erge gesinsgeweld.

Uitbeelding van gedwonge seks in enige verband sal voortaan aan ’n spesifiek streng ouderdomsperk onderhewig wees.

Nuwe bepalings oor hoe die publiek klagtes en versoeke om hersienings van klassifikasies by die film- en publikasieraad aanhangig kan maak, word in besonderhede in die nuwe wetgewing uiteengesit.

Die ander belangrike nuwe klousule van die wetgewing handel oor sogenaamde “wraakpornografie” – waar beelde of video’s van ’n persoon sonder sy of haar instemming versprei word. Dit gebeur veral dikwels waar iemand onwetend opgeneem of afgeneem word in ’n naakte of seksuele posisie, of waar ’n verhouding eindig en die ontevrede party dan sulke materiaal, hetsy dit met of sonder die instemming van die ander party opgeneem of afgeneem is, uit wraak versprei.

Die straf hiervoor is vasgestel op ’n maksimum van twee jaar tronkstraf, of ’n boete van R150 000, of beide. Dieselfde straf kan opgelê word vir opsweping tot oorlog, geweld of ander haatspraak, of die uitsending daarvan.

Die organisasie Cause for Justice, wat teen pornografie gekant is, meen die wetgewende proses moet van voor af begin omdat sekere veranderings aangebring is in die wetgewing sedert dit aanvanklik by die Nasionale Vergadering ingedien is.

Volgens Liesl Stander, regsadviseur van Cause for Justice, is hul hoofbesware teen die inhoud van die wetsontwerp dat dit “gruwelike vorme van pornografie, wat tans onwettig is, wettig deur die XX-definisie van verbode pornografie af te water, en die aanlynverspreiding van pornografie te wettig, wat pornografie makliker bekombaar sal maak.

“Die voorgestelde wysiging van die XX-definisie sal toelaat dat die uitbeelding van eksplisiete seksuele gedrag wat, alhoewel dit nie gepaardgaan met eksplisiete geweld nie, steeds die menswaardigheid van ’n persoon skend of daardie persoon se reg tot menswaardigheid nie respekteer nie, gedrag of handelinge wat ’n persoon verneder, en gedrag of handelinge wat skadelike gedrag aanmoedig of bevorder, wettig sal wees,” aldus Stander.

“Daar is ’n argument dat persone wat nie pornografie wil sien nie, bloot moet kies om dit nie self te gebruik nie en eerder ander moet uitlos om hul eie keuses ten opsigte hiervan te maak.

“Navorsing wys egter dat selfs mense wat nie self pornografie gebruik nie se lewens steeds deur die pornografie-gebruik van ander geaffekteer word. ’n Analogie wat gebruik kan word is: ’n persoon kan kies om nooit self te drink en bestuur nie, maar kan nog steeds ernstig of selfs noodlottig beseer word wanneer hulle betrokke is in ’n botsing wat veroorsaak word deur ’n ander persoon wat wel gekies het om te drink en bestuur,” het Stander aangevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

ZAR ·

Pornografie skend die natuurlikheid van die huweliksbed. Mag dit alles verbrand word.

SAR ·

@ZAR, as jy dink porno is só erg en die ergste is, dan leef jy met toe oë. Plaas die regering doen iets aan al die verkragtings, moorde ens.

Nettie ·

@ZAR – ek is nie getroud nie, maar het al pornografie gekyk – wat het dit vir mý geskend? Terloops, ek is aseksueel ………..

Jannie ·

Al hierdie gruwelikhede bevestig dat ons midde-in die Eindtyd verkeer!! Die Woord waarsku dat dit verskriklik is om in die Hande van Die Lewende GOD te val!!!

Lizette Uys ·

Amen Jannie. En nou gaan daar hope mense wees wat dit goedpraat. Pornografie maak demone van lust wakker. Daar is net 1 van 2 keuses…God of satan. Geen middeweg.

Reti ·

Mooi man! Nou kan meer verkragtings plaasvind! Meer verslawings aan die goed!!!! Dalk is dit deel van ons wonderlike regering se werkverskaffing.

Staal ·

Ek dink die wat n beswaar het teen die nuwe wetsontwerp mis dalk die groter prentjie. Die bepalings wat n totale verbod plaas op ekstreme pornografie en die opdatering van die definisie vir kinderpornografie is prysenswaardig.

Stuiwer ·

Staal, ek stem saam me jou. Daar is positiewes ook. Miskien het die mense dit net nie raakgelees nie…

firestone ·

Dieselfde straf kan opgelê word vir opsweping tot oorlog, geweld of ander haatspraak, of die uitsending daarvan. Geld dit ook vir politici van die ANC en EFF wat hulself gereeld hieraan skuldig maak?

LB S ·

DIT is hoekom Julias so maklik sy mond uitspoel met aanhitsing, haat en oorlogspraatjies, want dis niks vir hom om R150 000 te betaal nie, hy wen baie meer veld deur sy ondersteuners.

Sodom en Gomorra ·

S A is Sodom en Gomorra . Dit beteken net een ding – die land gaan swaar gestraf word.
Dit is oppad.

Keke ·

@Sodom, en jy wat hare sny, klere dra en beslis die 10 gebooie breuk? of is jy een van daais wat net sommige van die Bybel toepas, en die ander is “outyds”

Stuiwer ·

Sodom en Gomorra, jy kan bly wees jy bly nie in Amsterdam nie. Gaan loop ‘n bietjie daar rond en dan laat weet jy my of SA nog steeds so sleg is. Ek stem nie saam dat pornografie in die eerste plek wettig moet wees nie, maar die voorgestelde wetgewing het positiewes ook. Gaan lees gerus weer die artikel.

DHK ·

Keke en Stuiwer, as ‘n glas 95% suiwer bevat en die oorblywende 5% is Temik gif en jy drink dit, waaraan gaan jy dood? Beslis nie van die 95% water nie! Julle argument is belaglik. Daar is volwassenes wat nie eens die boosheid van pornografie kan verwerk nie, wat laat julle dink dat kinders wat “gedekriminaliseerde” pornografie waarin “slegs volwassenes” voorkom te siene kry se kindergemoedere sal dit kan verwerk? Om die wet strenger te maak teen kinderpornografie (dis pornografie waarin kinders VOORKOM nie KYK nie) is soos om die Temik na 2% te verminder. Dit gaan jou steeds doodmaak. Julle reaksies blyk dat julle eintlik pornografie steun maar dit net nie reguit wil sê nie. En moet asseblief nie vir my sê hierdie wetsontwerp gaan voorkom dat kinders pornografie te siene kry nie. Skrik wakker…

Mickey ·

ZAR stem 100% saam met jou. Pornagrafie plant saadjies in mense wat definitief nie in iets gesonds ontaard nie.

Riaan ·

Dit is waarna die Regeering streef.Pleks hulle die wette verander en swaarder strawwe vir die misdadigers instel.

Siek ·

Jy kan PORN kyk moet net nie rook en ‘n bier drink nie, dan is jy ‘n uitvaagsel en word tronk toe gestuur .ook as jy die k woord se maar PORN . niks daarmee verkeerd nie . kyk soveel as wat jy wil .. no problem …

Stuiwer ·

Siek, niemand dwing jou om daarna te kyk nie…..as jou waardes in plek is, waaroor al die bohaai?

Ontevrede ·

Ekself kan die strooi nie aanvaar nie jammer…. dit skend ‘n huwelik en veral as dit ‘n vrou is en jou man kyk dit. dis so vernederend en dit nog so oop maak vir kinders dis ‘n skande. ?Ja nee reg is reg en verkeerd is verkeerd. En ook moorde, verkragtings, dwelms ens is nie reg nie, maar pornografie maak ander deurtjies oop en kan net verseker weet mense raak verslaaf en kan uiteindelik besluit op buite egtlike verhoudings. so huwelike en gesinne kan uitmekaar getrek word. My opinie staan steeds dis verkeerd !!!!!

Stuiwer ·

Ek is ook gekant teen pornografie. Ongelukkig is dit jare terug gewettig. Soos ek die voorgestelde wetgewing verstaan, is daar wel positiewe veranderinge wat voorgestel word met die doel om veral kinders te beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.