Nuwe wet sal ANC volle beheer oor SAUK gee, sê DA

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Sondag gesê ʼn voorgestelde wet wat Vrydag aan die Nasionale Vergadering voorgelê is, sal die laaste bietjie onafhanklikheid van die SAUK wegneem en dit bloot ʼn instrument vir die ANC-regering se propaganda maak.

Phumzile van Damme, die DA-woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê die wet wat deur Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, voorgelê is, sal die regering volle beheer oor die nasionale uitsaaier gee.

Volgens Van Damme is die wysigingswetsontwerp op die uitsaaiwese aan die nasionale vergadering voorgelê, “oënskynlik in die hoop dat dit ongesiens gedoen sal word”. Sy het gesê die wet sal die parlement se rol in die aanstelling van die SAUK se nie-uitvoerende raadslede verwyder. Die president sal nou die nie-uitvoerende raadslede aanstel op aanbeveling van die minister en nie die parlement nie. Die minister sal dan van raad bedien word deur ʼn “nomineringskomitee” wat sy self sal aanstel.

Volgens die wet sal die getal nie-uitvoerende raadslede van 12 tot nege verminder word, die kworum sal van nege tot sewe verander en ʼn nuwe prosedure vir die raadslede se aanstelling, afdanking en bedanking sal ingestel word, het Van Damme gesê.

“Die wysigingswetsontwerp op uitsaaiwese is doodgewoon slegte nuus vir Suid-Afrika se demokrasie. Dit sal die laaste oorblyfsels van onafhanklikheid van die SAUK verwyder en die weg oopstel dat dit ʼn propaganda-instrument vir die ANC-regering word onder die beheer van minister Muthambi,” het sy gesê.

Sy het gesê die wetsontwerp tesame met die SAUK se akte van oprigting wat in September verlede jaar in die geheim deur Muthambi onderteken is, sal die minister van kommunikasie die reg gee om die SAUK-raad se magte te oorheers, wat beteken die ANC sal nou ten volle beheer oor die uitsaaier hê.

Van Damme het gesê die DA sal die wetsontwerp ten sterkste teenstaan en alles in sy vermoë doen om te verhoed dat dit deel van die Suid-Afrikaanse wetgewing word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Frederik ·

Dit beteken hul is minstens 300 jaar agter die huidige internasionale beskawingspeil.

Dawie ·

Absoluut komunisties.Hulle wil alles beheer een van die gaan ons moet toestemming vra om te braai ook.Sieklik wat hier besig is om te gebeur.Ek wonder of die DA die slaankrag het om iets reg te kry.

Pieta ·

Foeitog.
Het die DA dan nog nie ontdek dat die ESSYBIESIE alreeds na die ANC se spreekbuis ge-transformeer is nie???
Luister gerus na RSG se Monitor poging indien jy nog enige twyfel gehad het oor His Master’s Voice se baasskap oor die ou spulletjie PK aanbieders.
Sjym.
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Pieta ·

Maroela
Het julle ‘n probleem daarmee indien ek probeer sê dat die SABC reeds onder die beheer van die ANC regime is???

Mariné Lourens ·

Dagsê Pieta

Kommentaar moet soms per hand goedgekeur word en dan neem dit ‘n wyle voor dit op die webwerf verskyn.
Wanneer kommentaar dus nie onmiddellik wys nie, beteken dit nie noodwendig dis afgekeur nie.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

susan ·

Ek wonder self wat jy sodanig verkeerd gesê het dat dit per hand goedgekeur moet word. Seker die woordjie ANC wat maroela laat spring.

Francois ·

Die SAUK is al vir jare ‘n eenogige spreekbuis vir die ANC regime. Dit maak die SAUK myns insiens ‘n irrelevante organisasie wat nie daarmee vertrou kan word om die belange van die breë Suid-Afrikaanse bevolking te dien nie. Gelukkig maak tegnologie dit vir my moontlik om die SAUK heeltemal te vermy – ek het dit nie nodig om die nuus van dag te bekom nie (Maroela Media doen dit vir my) en vir sport en ontspanning bied die internet baie alternatiewe. Net jammer dat nie almal dié alternatiewe kan bekostig nie, en dat daar dus steeds van ons mense is wat van die SAUK afhanklik is en derhalwe met die regime se weergawe van nuus en vermaak opgeskeep moet sit.

Jef ·

Agge nee ek het n beter oplossing gee hulle n trom en n vuvuzela kan hulle hul eie orkes stig en ons behou die SAUK.
Almal weer gelukkig en bly.

Agter die klip ·

Een tree vorentoe & 3 treë terug. Demokrasie word stil vermoor, ons kan NIKS doen!

Pieter ·

Jay kan baie doen vir jouself. Trek Australië toe en los hierdie manne met hulle eie probleme. Koop ‘n strandhuis in Glentana en kom hou een maal ‘n jaar hier vakansie. Dis ‘n uitstekende opsie.

GES ·

Ons demokrasie het nou “demon-crasy” geword. Danke cANCer !!!

david ras ·

die SABC se “akte van oprigting ” geteken in 2014…….

Volgens wikipidia is die SABC amptelik gestig op 1 Augustus 1936 deur wet 200/1936 en was van daardie datum af befonds en beheer deur die SA regering.

Die befondsing was as ek reg onthou via die Poskantoor begroting jaarliks.

Kyk mens dan ook na die finansiele bronne vir die begroting is dit duidelik dat die blankes by verre die grootste deel verskaf het, en eintlik die grootste aandeelhouers in die SABC is.

Hoe word iets wat reeds bestaan weer “opgerig” ?

Of is hierdie oprigting maar net ‘n poging om ‘n gesteelde artikel se nuwe eienaarstatus in ‘n kleed van respektabelheid te bedek ?

Izzy ·

Weet nie hoekom is dit nou so ‘openbaring’ vir die DA nie. Die DA was nog altyd boetie-boetie met die ANC. Ouboet (ANC) het nou net moeg geraak vir al die mooi praatjies……nou vat hy eenvoudig dit wat hy wil he.

Johan ·

Wonderlike nuus – noudat dit n staats uitsaaier raak mag ons nie meer televisie lisensies te betaal nie.

Christine ·

TV het n afgod geword. Los die hernueing van jou lisensie en maak jou los van die skottel. Luister radio,spandeer meer tyd met jou gesin en doen iets positief met jou lewe. Dink net hoe baie jy kan bele in jou kinders wat hulp aan betref sodat hulle n hoopvolle toekoms kan he met God in hul lewe in plaas van al die gemors op n TV. En jyt ekstra geldjie elke maand in jou sak vir bederf saam jou gesin.

Fairness ·

Jinne Christine, vat jy die woorde nou so voor my vingers weg ( uit my mond). Wou presies dieselfde kommentaar lewer. Sit af die TV, begin ‘n groentetuin (dan hoef jy ook nie te kerm oor supermark pryse nie). Lees ‘n boek-baie gesonder vir die intellek. Gaan stap saam met jou kind (voordat iemand onveilig skreeu-sit ‘n CD op en dans saam met jou kind)-alles oefening en ‘child obesity’ is ook sommer iets van die verlede. Indien jy enkellopend is, vat daai boek en gaan lees dit vir ‘n vergete bejaarde. Kyk om jou, maak die ANC minder belangrik deur minder aandag en frustraie aan hul af te staan en bou ‘n gemeenskap van omgee sonder TV.

TM ·

Shame. Hierdie is nie meer die 80’s waar ons geen keuses gehad het nie en net die SAUK gehad het. Nou het ons internet, slimfone, ander uitsaaiers ens ens. So hulle kan probeer beperk wat ons sien en forseer wat ons moet sien maar die wêreld sal nog steeds op maniere uitvind wat hier aangaan. Absoluut geen begrip van tegnologie nie.

Genis ·

Julle mis die punt totaal. Die nasionale uitsaaidiens as propaganda instrument in die hande van die ANC is die ware kwessie, nie televisielisensies of die voordele van ‘n televisie-vrye leefstyl nie.

Eddie ·

In die eerste plek traak dit my nie om SABC te kyk nie. Daar is in elk geval net n klomp gemors op. Kan met alle eerlikheid se as die SABC more sy deure toemaak sal dit nie kom as n verrassing nie. Hulle wanbestuur hom al klaar en een van die dae gaan ons Signal shedding he waar sekere huise op sekere tye mag kyk. Aai die ANC weet ook maar net nie wanneer om te stop nie. Alles wat gewerk het is nou al ten gronde.

Schalk ·

Ons keer terug na die pre-1991 era toe die apartheidsregime die SAUK raad aangestel het. Alles het verander met die instelling van die OUO (Onafhanklike Uitsaai Owerheid) na aanvaarding van die taakgroep op die uitsaaiwese in SA se verslag (bekend as die Viljoen verslag) in 1992 en die voorstelle vir die liberalisering van die uitsaaigolwe, die toekenning van gemeenskapsradiostasie-lisensies, beheer van die radiospektrum deur die OUO (later hernoem tot ICASA) , die omskepping van die SAUK vanaf staatsuitsaaier na openbare diens uitsaaier (ODU_, en die aanwysing van ‘n SAUK raad na ‘n openbare parlementere prosedure en onderhoude. Nou keer ons weer terug na die apartheids-era se doen en late, en word die SABC andermaal omskep na “his master’s voice”. Dit is alles deel van die uitgediende Marxisties-Leninistiese benadering van totale beheer oor die staatshuishouding op alle vlakke.

Poplap ·

Waar was jy die afgelope 21 jaar?
Die ANC regime het reeds vanaf 1994 beheer oor die SABC en hul uitsendings, rade, aanstellings, programme ens., geneem.

Willem ·

Hierdie Minister is maklik die swakste en arrogantste lid van ‘n hopelose kabinet. Haar optrede, uitsprake en manier van doen laat die vraag ontstaan of sy oor die vermoë beskik om ‘n shebien te bestuur , Desnieteenstaande is sy in beheer van een van die die belangrikste portefeuljes in die kabinet “omdat sy naby aan die (ewe onbevoegde) President is”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.