Nuwe wetsontwerp oor verblyfreg op eiendom vorder

‘n Woonstelblok op die Kaapse vlakte. (Foto: Facebook)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming het Dinsdag die bewoording van die langverwagte Wetsontwerp op die Uitbreiding van Verblyfreg (algemeen bekend as die ULTRA-wetsontwerp) afgehandel en sal dit na verwagting volgende week formeel na die Nasionale Vergadering verwys om ten gunste of daarteen te stem.

Die wetsontwerp het veral ten doel om eienaarskap van huise en erwe in townships waar swart mense tydens apartheid verplig is om te bly, oor te dra van die staat na die bewoners van die huis.

Daar is ook ʼn groot deel van die wetsontwerp wat handel oor verblyfreg en eienaarskap van wonings op tradisionele stamgrond, onder meer om te verseker dat vroue in die toekoms gelyke regte met mans in stamgebiede geniet.

Die implikasies van die wetgewing sal egter in sy huidige bewoording veel wyer gevoel word, met onbedoelde impak op byvoorbeeld boere, plaaswerkers en die inwoners van die soort woonstelblokke wat in die apartheidsdae in groot getalle in die destydse bruin groepsgebiede opgerig is. Dit behoort in baie gevalle aan die stadsraad en word deur inwoners gehuur.

Die wyer as beoogde onbedoelde gevolge is weens die feit dat hierdie wetsontwerp in sommige kringe bestempel word as een van die slordigste wetsontwerpe wat in jare deur die parlementêre proses is.

Sowel die DA se hoofverteenwoordiger op die portefeuljekomitee, Annette Steyn, as die VF Plus se verteenwoordiger, Tammy Breedt, het by navraag aan Maroela Media gesê die wetsontwerp is slordig, onduidelik, verwarrend, bevat teenstrydighede en gaan chaos veroorsaak wat die staat – en dus die belastingbetaler – in die toekoms baie geld gaan kos aan regsgedinge weens die regsonsekerheid wat deur die beweerde brouwerk met die skryf van die wetsontwerp veroorsaak gaan word.

Die DA, EFF en VF Plus het ook reeds aangedui dat hulle teen die wetsontwerp gaan stem.

(Argieffoto: Werner Beukes/SAPA)

Wat die objektiewe inhoud van die wetsontwerp betref, word bepaal dat die eienaarskap van alle huise en erwe, in wat onder apartheidswetgewing as swart townships bekend was, kosteloos oorgaan in eienaarskap vir die bewoners van die huis en erf.

Onder die apartheidstelsel was dit nie moontlik vir swart mense om die huise waarin hulle in townships woon, te besit nie omdat swart mense slegs eiendom in die destydse tuislande kon besit.

Van daardie punt af is daar nie weer in die wetsontwerp enige aanduiding dat daar spesifiek slegs na voormalige swart townships verwys word nie. Daar word later na stamgrond verwys, wat weer iets heeltemal anders is.

Dit is ʼn trefseker manier om ongrondwetlike wetgewing te verseker, want van die latere klousules sou duidelik ook van toepassing wees op gebiede wat onder apartheid townships vir bruin mense of Indiërs was – maar weens die rasonderskeidende aard van apartheidswetgewing is die werklikhede in bruin en Indiër-townships anders. Dit maak die wetsontwerp volgens die opposisiepartye prakties onuitvoerbaar sowel as ongrondwetlik omdat dit op rasgronde geografies diskrimineer. Dit is ʼn skending van ʼn presies bewoorde kernwaarde van die Grondwet.

Een van die praktiese kwessies wat volgens opposisiepartye die staat baie geld gaan kos aan suksesvolle hofsake deur burgers, is dat die eienaarskap van die huis en erf oorgaan na die huidige okkupeerders. Daar is egter geen register van wie die “amptelike” okkupeerders tans is nie, wat absolute chaos bykans onvermydelik maak.

Hierdie situasie word vererger deurdat die wetsontwerp geen voorsiening maak vir mense wat bykomend op die erf woon en dus ook okkupeerders is nie. Dit sluit in mense soos agterplaasbewoners, garage-bewoners of houthuis-bewoners.

Voorts is daar geen afsonderlike verwysing na die situasie in woonstelle nie. Dit gaan chaos skep in verband met eienaarskap en instandhouding van die erwe waarop die blyplekke geleë is. Apartheid se swart townships het nie woonstelle nie, maar wel hostelle wat destyds vir die huisvesting van manlike trekarbeiders gebruik is. Dit word egter ook nie na hostelle in die wetsontwerp verwys nie.

Waar die wetsontwerp, na die mening van opposisiepartye, boere kan raak, is dat dit die minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming bykans onbeperkte mag gee om ʼn plek tot township te verklaar. Kritici daarvan meen dit sou gebruik kon word om byvoorbeeld ʼn versameling arbeidershuise op ʼn plaas tot township te verklaar, met gevolglike eiendomsreg en verblyfreg vir die plaaswerkers.

Die wetsontwerp handel ook in besonderhede met stamgrond, maar dit is ʼn juridiese maalkolk wat slegs deur spesialiste aangedurf moet word.

Daar is nog ʼn lang pad voor vir die wetsontwerp deur die Nasionale Raad van Provinsies bekragtig kan word, maar opposisiepartye het Suid-Afrikaners gewaarsku dat die rooi ligte in hierdie verband selfs helderder as gewoonlik flikker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Al WEER apartheid! Ek gaan ‘n aar bars regtig blameer wit vir alles julle maak moeg tot my moeg is moeg vir dit!

Dries

Sjoe, dit vat die goewerment ook maar lank om hierdie ‘reg te stel’. Dit wys jou net waar hulle prioriteite le.

annie

Hier kom chaos en groot baklei. Wie se huis dit is/was en hoekom net party mense bevoordeel word… en hier gaan ons alweer…

Dup

Miskien het dit tyd geword dat die regering nou oop kaarte speel met sy landsburgers oor waarheen hy oppad is met al sy voorgenome planne.