Nuwe WhatsApp-regulasies: Kenners nie bekommerd

(Foto: pixabay)

WhatsApp-gebruikers was die afgelope week warm onder die kraag oor ʼn nuwe beleid met betrekking tot die inwin van hul persoonlike inligting. Gebruikers moet nou dié beleid aanvaar of hulle sal nie meer belangrike funksies van dié app kan gebruik nie.

Kenners met wie Maroela Media gesels het, meen egter dat dié nuwe beleid geen noemenswaardige gevolge vir gebruikers inhou nie, veral aangesien die inhoud van boodskappe steeds privaat is. Ander platforms soos Telegram blyk ook nie ʼn bruikbare alternatief te bied nie.

Die gewilde boodskapdiens WhatsApp het sy nagenoeg twee miljard gebruikers Donderdag gevra om nuwe bepalings te aanvaar wat hom gaan toelaat om meer inligting met sy moedermaatskappy Facebook te deel en advertensies en e-handel daarby in te sluit.

“Die nuwe regulasies wat WhatsApp aangekondig het, hou nie ʼn gevaar in vir die gewone mens wat nie vir die regering of die polisie wil wegkruip nie.” Só sê prof. Wian Erlank, ʼn kundige op die gebied van kuberreg en privaatheidsreg by Noordwes-Universiteit se regsfakulteit.

“As jy buitendien Facebook Messenger gebruik, gaan die nuwe reëls jou nie beïnvloed nie. Facebook gebruik baie meer van sy gebruikers se inligting as WhatsApp,” verduidelik hy.

Carla de Beer, sosialemediakenner van The Digital Law Co, beaam dit. Sy verduidelik dat WhatsApp steeds nie toegang tot die inhoud van gebruikers se boodskappe sal hê nie, aangesien WhatsApp ʼn instelling genaamd “end-to-end encryption” het, wat nie deur die nuwe bepalings belemmer gaan word nie.

“Dit beteken wanneer ek ʼn boodskap aan iemand per WhatsApp stuur, word die boodskap se inhoud deurmekaar gemaak sodat niemand anders as die persoon aan wie die boodskap gestuur word, dit kan verstaan nie. So, selfs al onderskep iemand jou boodskap, sal hulle nie kan uitmaak wat daarin staan nie.”

(Foto: pixabay)

Sy meen die grootste risiko wat WhatsApp se nuwe bepalings vir Jan Alleman inhou, is dat meer inligting oor jou sosialemediagewoontes openbaar gaan wees – soos met wie jy gesels, hoe lank jy op WhatsApp is en waarin jy belangstel. Gebruikers kan egter dié risiko bestuur deur hul sosialemediateenwoordigheid te beperk. “Hoe meer inligting jy van jouself op sosiale platforms plaas, hoe meer weet hulle van jou. So het ʼn persoon wat elke dag plasings op Facebook en Instagram laai, minder privaatheid as die persoon wat dit net een keer elke twee weke doen.”

Erlank meen een van die noemenswaardigste gevolge van die nuwe beleid is dat gebruikers baie meer advertensies op Facebook sal sien.

“Facebook het reeds ʼn swak reputasie wat betref die gebruik en misbruik van verbruikersinligting, want hulle verklaar nie altyd waarvoor hulle die inligting gebruik nie. Dit maak dus nie sin om WhatsApp af te haal en steeds Facebook en Facebook Messenger – wat baie meer van jou inligting versamel – te gebruik nie.”

Alternatiewe vir WhatsApp

(Foto: pixabay)

Die twee gewilde alternatiewe vir WhatsApp is Telegram en Signal. Gebruikers wat reeds na Signal geskuif het, vertel dat die funksies soos boodskappe, video’s, oproepe en media dieselfde as WhatsApp is. Een so ʼn gebruiker vertel dat sy hoofbeweegrede om te skuif nie soseer die goeie sekuriteit was nie, maar eerder die sensuur wat die groot IT-maatskappye tans op hul platforms toepas.

Marius Vermaak, wat onlangs vir die eerste keer Telegram geïnstalleer het om te sien hoe dit lyk en werk, is bekommerd dat kinders moontlik blootgestel kan word aan eksplisiete inhoud soos pornografie. Vermaak verduidelik wanneer jy na die opsielys in Telegram navigeer en die “people nearby”-opsie kies, verskyn mense wat ook in die omgewing woon en Telegram gebruik se profiele. Daarbenewens wys dit vir jou groepe wat deur administrateurs in die omgewing gestig is.

“Daar is swingers-groepe en allerhande ander verdagte groepe, en enigiemand met Telegram het toegang daartoe. Jy moet eers by die groep aansluit om fisiek te kan deelneem, soos om iets te skryf of ʼn foto of video te deel, maar jy hoef nie by die groep aan te sluit om die inhoud te sien nie. Die groepe wat ek vir interessantheid besoek het, was deurtrek met pornografiese materiaal. My bekommernis is dat kinders wat toegang tot ʼn selfoon het en Telegram gebruik, daarop kan afkom. Dit is só maklik,” sê Vermaak.

Ander gebruikers noem dat daar nog nie genoeg mense in Suid-Afrika is wat Telegram of Signal gebruik om ʼn skuif sinvol te maak nie, en dat groepe soos skole en kerke WhatsApp gebruik om te kommunikeer. Dit sal dus ʼn grootskaalse migrasie moet wees om werklik sinvol te wees.

Wat staan gebruikers te doen?

Erlank se raad aan die gemiddelde gebruiker is om ʼn produk te kies wat jy vertrou, iets soos Apple wat daarop fokus om privaatheid te beskerm.

“Dis inderdaad moeilik vir Jan Alleman om die koring van die kaf te skei, maar probeer om ingelig te bly, doen navraag. Moenie bloot enigiets op jou foon installeer nie, veral nie as dit gratis is en met ʼn klomp advertensies gepaardgaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Wielspore ·

Dit is niks anders as ‘n storm in ‘n koppie, as my buurman elke jaar ‘n nuwe Volkswagen koop is dit sigaar vir almal, tot watse mate gaan dit hom benadeel. As ek gereeld op Facebook lees van visvang en dit word deur die sagteware as ‘n eienskap van my gesien, hoe gaan dit my benadeel.
Aag nee wat, vir wat ‘n kuber botterkop (kruising tussen ‘n donkiemerrie en ‘n perdehings) wil wees.

Ruan ·

Ja….

Waar is die mense wat my nie geglo het nie nou. Hulle almal is baie stil.
Ek het van die begin af gese bly by WhatsApp jy maak n fout om te maar niemand wou luister nie.
Presies wat in die berig staan het ek sowat 3 dae terug met die familie gedeel en hul gesê maar niemand het geglo nie en nou beaam MM dit net.

Robert ·

My vraag is hoekom as die verandering nie gevaar inhou nie word dit in EU lande en Verenigte Koningryk toegepas nie? Hulle regulasies verbied juis wat WA wil doen deur data met Facebook te deel.
Ons POPI wetgewing is soortgelyk aan die EU General Data Protection Regulation 2016/679.
So ek vermoed die kenners is ingekoop by Watsapp en Facebook se planne.

Krista ·

In watse mate raak dit die mense wat glad nie op FB is en dus dan ook nie Messenger gebruik nie?

Jan GL ·

My hoof beweegrede is dat advertensies my data gebruik om af te lasi op my foon. Terloops ek het my Face Book rekening ook gesluit omrede ek nie Facebook Messenger daarop kan de aktiveer nie.

Danie ·

Aan almal wat die storie glo dat WA nou toegang tot jou banksake gaan he. Moenie jou kop oor dit breek nie want meeste van die wat die storie glo sal net n “ai foeitog” boodskap terug kry nadat hulle na ons banksake gekyk het.

Persheks Adri ·

Waar is ons grondwetlike reg vir privaatheid? Absoluut niemand het iets met my foon te doen nie dis privaat punt! Die regering het klaar 1 keer skelm die Covid app op gesit SONDER ons toestemming pffft!

Erik ·

Ek het self Signal en Telegram afgelaai, maar het Telegram amper dadelik weer delete. Dit is skokkend dat alle groepe ‘ge-search’ kan word en baie groepe is heeltemal sekulêr om dit mooi te stel. Signal is nes WhatsApp, maar nog min gebruikers.

My gevolgtrekking is dat ek maar net WhatsApp se voorwaardes gaan aanvaar en aanhou gebruik. Ek plaas in elk geval nie inligting op WhatsApp wat so privaat is dat ek bang is dit lek nie.

Arnold ·

Die mense wat oorgaan Telegram of Signal toe is nie beperk tot SA nie dis ‘n wêreldwye tendens en mense is ook besig om Facebook en Twitter te verlaat,miskien soseer oor privaatheid nie maar oor sensuur. Ek is een van laasgenoemdes

Lourens CFG ·

Wel, ek stel nie belang daarin dat besighede sien waar ek oral “surf” nie, waar ek oral heengaan (location) nie, of selfs hoe ek lyk nie (facial recognition).
Nie dat ek skaam is vir niks nie, maar die prinsiep van die saak is dat jy oordonder word met alerhande snert spam advertensies.
Ek gaan lees nuus by sites wat ék kies, soek ‘n plek naby my wat iets verkoop wat ek op daardie oomblik soek ens.
Nou wil hulle my toegooi met CNN en ander snertnuus kanale, plekke wat verf verkoop, hardeware winkels ens.
Nee dankie.
DIT IS MÝ VRYE KEUSE EN KLAAR.
Nou wil “kenners” my kom sê om nie bekommerd te wees nie??
Ga!!!

Johanncb ·

Hou op stres mense! As jou toestel “Google” het, en alles word deur “Google” aangedryf, dan is ál jou bewegings bekend op internet! Ek ontvang maandeliks só ‘n verslag per e-pos van “Google”! Hulle weet alles……!

JJ ·

Dit is hoe dit werk. Met Zuckbook is jy die produk. Die besluit is basies eenvoudig. Staan jy vir die basiese reg van vryheid van spraak. Indien die antwoord “ja” is, moet jy kennis neem van die feit die Facebook, YouTube en Twitter ongekende stappe neem om mense van hulle platforms te verwyder, NET omdat hulle konserwatiewe waardes het. Ek het ‘n probleem daarmee dat ‘n maatskappy kan besluit wat ek mag se of nie kan se nie. Hulle skuil agter die feit dat hulle pivate maatskapye is. Kyk byvoorbeeld hoe “Big Tech” mededingers teiken. Parler is daarmee heen. GAB was slim en het die skriif aan die muur gesiien en hulself teen die gemors beskerm. My besluit is eenvoudig. Ek gaan beide Telegram en Signal gebruik en sodra die blokketting weergawe , Liberty – Digibyte loop, oorskakel daarheen. GAB vervang Facebook gemaklik. Brave Browser vervang Chrome gemaaklik. Dissenter is die Gab browser en dis uitstekend. DUST kan ook Watchapp vervang- en hulle boodskappe vee uit automaties.

JJ ·

Ek gebruik Telegram op my rekenaar. Ek kan sien wanneer mense in my adresboek aansluit by Telegram. gedurende die laaste 24 uur was dit ongelooflik baie

LD ·

Ek het nou self gaan rond krap op Telegram, dis verskriklik wat als daar op is! Ekt my amper dood geskrik! Ek gaan maar eerder Telegram delete en aangaan met Whatsapp. My tiener dogter is ook sopas haar Telegram kwyt! Ek kan nie toelaat dat sy so blootgestel word aan sulke pornagrafie nie! Dis werklik so maklik en jy hoef sowaar nie deel te wees van ñ groep om die inhoud te sien nie.

Nee wat, ekt niks om weg te steek nie en is so arm soos ñ kerkmuis. En as jy ñ toestel het wat kan Google, het hulle inelkgeval al jou informasie en kan hulle jou enige plek opspoor, alles is ook gelink met jou epos adres ens. Maar ek gaan beslis nie deel wees van Telegram nie.
Ek wil graag Signal probeer, aangesien my man nie Facebook het nie en sal hy dan seker nie meer WhatsApp kan gebruik nie maar dan eerder Signal.
Weet enige iemand of Signal “skoon” is van enige pornagrafie?

Kanjynoumeer ·

Dit is nie so eenvoudig nie.
Haal jou oogklappe af.
“Sekere mense” besit monopolie soos in die geval van Whats App / fb / twitter …
Daar moet gewaak word teen hierdie mense en hul besighede om nie aan hulle te veel mag te gee nie en daarom te kyk na alternatiewe kommunikasie.
Majority rule. Monopoly gives you power.
Haal af jou oogklappe.

Alexander ·

Die meeste van hierdie platforms is gekaap deur dissippels van globalisme, dis gevaarlike mense soos Bill Gates wat duistere motiewe het. Wees dus maar uiters versigtig en moenie sommer net die “kenners” se raad vir soetkoek opeet nie. Hulle mag dalk deel van die duistere agenda wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.