Nuwejaar begin met nagmerrie vir Jhb gesin

CJ Kotze in die hospitaal. Foto: Verskaf

CJ Kotze in die hospitaal. Foto: Verskaf

Nuwejaarsdag, ʼn dag wat vir meeste vol opwinding en feestelikhede is, het vir ʼn gesin van Randfontein aan die Wesrand in ʼn nagmerrie ontaard toe hul sesjarige seuntjie onverwags op ʼn glybaan ineengestort het.

CJ Kotze het Sondag saam met sy ouers, Jan (29) en Charlene (26), by familie in Kempton Park gekuier, waar die kinders heerlik op ʼn glybaan baljaar het. CJ het skielik inmekaargesak en sy bewussyn verloor. Sy pa was binne oomblikke by hom en het hom probeer bybring, maar tevergeefs. Die familie het daarna met hom na die Arwyp Mediese Sentrum in Kempton Park gejaag.

Volgens Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi Organisasie wat die gesin bystaan, was CJ met sy aankoms by die hospitaal tegnies gesproke dood. Hy het nie asem gehaal nie en noodpersoneel kon geen hartklop waarneem nie. “Dokters het gespook om hom te resussiteer en het hom elektriese skokke toegedien om sy hart weer aan die gang te kry. Ná 15 minute kon ʼn flou hartklop uiteindelik waargeneem word,” het Schoeman gesê.

Sy verduidelik CJ ly aan ʼn hartkwaal, maar dit het in die verlede nog nooit groot probleme veroorsaak nie. Op die glybaan het hy egter ʼn hartaanval gekry en nou moet hy dringend hartchirurgie ondergaan.

CJ Kotze voordat hy in die hospitaal beland het. Foto: Verskaf

CJ Kotze voordat hy in die hospitaal beland het. Foto: Verskaf

“Ongelukkig is tyd nie nou aan CJ se kant nie. Die grootste probleem nou is dat drie noodsaaklike skanderings gedoen moet word om die presiese omvang van die probleem en sy behandeling te bepaal. Die gesin se mediese fonds dek nie hierdie skanderings en CJ se behandeling in die waakeenheid nie. Daarom probeer Child Medi Organisasie om die gesin te help om die fondse in te samel sodat die skanderings gedoen kan word en dokters kan besluit oor die pad vorentoe,” het Schoeman gesê.

Sy sê dit is nie moontlik vir CJ om nou na ʼn staatshospitaal oorgeplaas te word nie, omdat daar nie tans vir hom ʼn bed beskikbaar is nie en hy te siek is om nou geskuif te word.

“Charlene en Jan is voortdurend by hul kind in die hospitaal, meer as 80 km van hul huis af. CJ word in ʼn geïnduseerde koma gehou en is op ʼn asemhalingsmasjien. Gister het hulle hom ʼn bietjie uit die koma gebring om te kyk hoe hy reageer, maar hy was nog steeds nie lekker nie en hulle het hom toe later weer terug in die koma gesit. Ons wag nog om te hoor of dokters hom vandag weer uit die koma gaan bring,” het Schoeman gesê.

Child Medi Organisasie is ʼn geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat die insameling van die fondse en alle mediese betalings namens die Kotze-gesin hanteer. Besoek hul Facebook-blad of webtuiste vir meer inligting of om ʼn donasie te maak.

Die onderstaande video is geneem nadat CJ vir ‘n ruk uit die geïnduseerde koma gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
snoefie

as die selektiewe betalings van mediesefondse deur staatswet afgedwing (volgens hulle) nie ongrondwetlik is nie, behoort dit te wees. hulle weier hierdie skanderings. hulle het groot bybetalings op feitlik alle medisyne, meeste mediese prosedures, tandheelkundige behandeling veral, is n luukse en moet feitlik heeltemal uit eie sak betaal word. tog word alle miv/vigs medisyne, tot volwasse grote nag doeke 100% gedek. hoe grondwetlik is dit?tog kom daar geen piep in protes uit af, as, vf+, medieselui of lidmate nie. dus been ek aan die hemelhoe mediesefondsbydraes om vigs/miv te dek vind byvak by almal, behalwe by my.

Johanna

Ai tog die mediese fondse waarvoor n mens so duur betaal en dan is daar altyd iets wat hulle nie betaal nie. regtig. dis nou n bedryf wat n mens stom slaan. Ek bid vir julle. Mag God hierdie ou seuntjie genadig wees. Met God is alles moontlik.

Francois

Ai dit maak my hart so seer.ek het ook 2 kindertjies Seuntjie 8 en dogtertjie 6.Jy het medies jy betaal jou allie af.En as so iets onverwags gebeur dan moet jy hoor ons dek dit nie.Hulle maak miljoene rande.Ek sal my lewe gee vir altwee my kinders en so ook elke ouer.Hoekom moet dit altyd net oor geld gaan.As ons n staatsdiens gehad het wat jy jou kind kon gevat het na staats hospitaal wat jy weet hy sal da gehelp word was dit n ander saak.Maar daar sal hy definitief dood gaan.Dai ou seuntjie se lewe het nog nie… Lees meer »

Henco

Name en shame die mediese fonds. Ek stem saam met Johanna – ‘n mems betaal so duur vir medies juis vir sulke gevalle en nou dek hul dit nie?! Dis iets wat ‘n mens nie eers jou grootste vyhand toewens nie.

Rene

Pateties. Die dokters en hospitale buit mense uit. Hulle maak net geld en het geen simpatie met siek mense nie. Hoekom is belangrike toetse wat gedoen moet word so duur? Daar is altyd ‘n verskoning by mediese fondse dat hulle nie wil betaal nie, of die lid het ‘n groot bybetaling . As jy as lid een maand se premie nie betaal nie is daar probleme vir jou.