Nuwejaarsdag: Geen traumagevalle by Chris Hani vir eerste keer ooit

Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto se leë trauma-eenheid vanoggend. (Foto: Facebook)

Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto in Johannesburg het vir die eerste keer in dié hospitaal se geskiedenis op Nuwejaarsdag tot dusver nog nie ’n enkele pasiënt by sy trauma-eenheid behandel nie.

Dít nadat ’n aandklokreël Oujaarsaand reeds 21:00 van krag was en ’n verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol ingestel is in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus te beperk midde ’n tweede virusgolf in die land.

Die hospitaal wat onder normale omstandighede oorval word met pasiënte, het Vrydagoggend foto’s van verskeie leë hospitaalbeddens in sy trauma-eenheid op sosiale media gedeel.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër verduidelik dat die verbod op alkohol ingestel word aangesien die gebruik van alkohol traumagevalle in hospitale verhoog.

“Roekelose gedrag omdat iemand onder die invloed van drank is, het bygedra tot verhoogde oordrag. Alkoholverwante ongelukke en geweld plaas druk op ons hospitale se ongevalle-afdelings,” het die president vroeër vandeesweek gesê toe hy verskerpte maatreëls aangekondig het in ʼn poging om die Covid-19-pandemie te stuit.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys, het intussen in reaksie op die hospitaal se plasing op sosiale media gesê dit dui as bewys dat diegene wat alkohol misbruik druk op die land se gesondheidstelsel plaas.

Die LUR meen die regering moet voortgaan om die verkoop van alkohol tot sekere dae te beperk en selfs die prys van alkohol te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.