NV aanvaar wetsontwerp oor partyfinansiering

Argieffoto

Die Nasionale Vergadering het ʼn belangrike wetsontwerp aanvaar wat ʼn groot invloed op partypolitieke finansiering kan hê.

Die Wysigingswetsontwerp op die Bevordering van Toegang tot Inligting bepaal dat alle politieke partye, asook onafhanklike kandidate, vir vyf jaar lank volledige rekord moet hou van skenkings uit enige spesifieke bronne wat meer as R100 000 per jaar bedra.

Daardie rekords moet vir vyf jaar gehou word en moet gratis aan die publiek verskaf word.

Die omstrede deel van die wetsontwerp is die drempelbedrag van R100 000. Rekords vir skenkings onder daardie drempel deur ʼn enkele individu of instansie in ʼn jaar hoef nie gerapporteer te word nie.

In die debat het die ANC-sprekers Gratitude Magwanishe en adv. Hishaam Mahomed gesê die wetsontwerp voldoen aan die vereistes wat die hof gestel het vir deursigtigheid van partyfinansiering.

Namens die DA het adv. Glynnis Breytenbach aangevoer hoewel die verandering noodsaaklik was omdat die hof dit gelas het, sal die impak daarvan op geldinsamelingspogings van spesifiek opposisiepartye nog gesien moet word.

Ook dr. Mbuyiseni Ndlozi van die EFF het gesê dit was noodsaaklik om die wet te wysig, maar dat dit baie geld vereis om ʼn verkiesingsveldtog te veg.

“Dit lei in ʼn mate – soos wêreldwyd – tot die kommodifisering van verkiesings. Wit sakebelange sal moeilik geld gee vir partye wat hulself toewy aan die belange van arm, swart mense, spesifiek in landelike gebiede. Swart mense wat geld gee aan opposisiepartye word ook geteiken deur die ANC,” aldus Ndlozi.

Hy het diegene wat werklik demokrasie wil bevorder dus aangeraai om eerder inbetalings te doen by die OVK se demokrasiefonds, wat alle partye met parlementêre verteenwoordiging bevoordeel.

In sy inset het prof. Christian Msimang, IVP-LP, gesê hoewel die wysigingswetsontwerp ʼn belangrike stap vorentoe verteenwoordig, is dit jammer die finansiering van interne partyverkiesings word nie ook daardeur gereguleer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Arak ·

Ek wonder of ons nou gaan sien hoeveel geld die “Open Foundation” aan die DA, ANC en EFF gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.