NVG bekyk nog ‘spioenasiebande’-uitspraak

jacob-zuma-uniegebou

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê hy bestudeer nog die onlangse uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof dat die besluit om korrupsie-aanklagte teen pres. Jacob Zuma oor die sogenaamde spioenasiebande te laat vaar, irrasioneel was.

“Ons is steeds besig om die uitspraak te bestudeer en om daaroor na te dink voordat ons kan bepaal watter besluite oorweeg moet word,” het Luvuyo Faku, woordvoerder van die NVG, gesê.

Die DA voer ʼn sewe jaar lange stryd om weer die 783 aanklagte teen Zuma in te stel. Volgens die DA was Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, se besluit in 2009 om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg nie irrasioneel, onredelik en geneem met ʼn versteekte politieke motief.

Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na die bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was na bewering van mening dat McCarthy die proses vir versteekte doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma staatspresident word.

Adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba het op 29 April vanjaar in die eenparige uitspraak deur ʼn volbank regters bevind dat Mpshe se besluit van 1 April 2009 om die saak te laat vaar, irrasioneel was en tersyde gestel moet word. Ledwaba het gesê Zuma moet tereg staan op die aanklagtes soos uiteengesit in die akte van beskuldiging.

Daar word berig dat Mmusi Maimane, leier van die DA, aan Shaun Abrahams, hoof van die NVG, geskryf het om hom mee te deel dat die NVG tot Vrydag het om sy besluit oor die uitspraak bekend te maak. Maimane het gesê dit was die spertyd wat die hooggeregshof in sy uitspraak aangedui het.

Faku het egter gesê die 14 dae-spertyd sluit nie vakansiedae en naweke in nie. “Die sperdatum is 20 Mei, as ʼn mens 14 werksdae tel, en nie die 13 Mei nie. Ons het dus tot die 20ste om ʼn besluit te neem,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marietjie ·

Shaun Abrahams sal als moontlik doen om nie sy vriend zuma te vervolg nie. Waar in enige land
het n president soveel misdade gepleeg en klagtes teen hom, en loop nog skokvry. Die gewone
burger in SA sou lankal agter trallies gewees het, ons almal staan verstom oor wat besig is om te gebeur, en steeds steel zuma die land bankrot.

Gerd Lourens ·

Ek stem saam, Marietjie. Die kaders kyk of daar nie iewers ‘n tekortkoming in die uitspraak is om die groot skelm te beskerm nie.

Rynhardt ·

Wat wil NVG nou entlik bestudeer?? Daar was destyds gekonkel agter die skerms om 783 klagtes onder die mat te vee!! Zuma gaan nie die binnekant van n tronk sien nie! Kyk hoe word SA vinnig met betogings en stakings in chaos gedompel.Dit vererger elke dag!

Johann ·

Hahahha. Hoe lank IS 14 dae dan tog nou? Belaglik….uitstel en afstel van Regsimpliserende besluite, weereens. Moet seker net eers SEKER maak wie gaan wat van wie te se he.as sy edel Zuma wel aangekla word. Skandelike misbruik van mag….

Henk Venter ·

Hulle ken darem een deal vand die wet nehoorlik – daai een wat se naweke en vakansie dae tel nie….

Grassie ·

Die NVG-amptenare sit nou met ‘n groot tameletjie. Aan die een kant is daar ‘n hooggeregshofbeslissing wat sê dat reg moet geskied en aan die ander kant hul meester, Zoempas. Hulle is almal Zuma-dissipels. Hy het hulle aangestel en hy kan hulle in die pad steek as hy wil. Hulle moet kies – geregtigheid of hul poste wat ‘n vet salaris en plek op die soustrein insluit. Luthuli-huis wil nie van Zuma ontslae raak voor 2019 nie. Ek dink hulle gaan met ‘n vertragingstaktiek kom tot dan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.