NVG bevestig strafregtelike klagte teen drie beamptes

Mxolisi Nxasana. Foto: GCIS

Mxolisi Nxasana. Foto: GCIS

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Sondag bevestig dat hy strafregtelike klagte teen drie senior beamptes aanhangig gemaak het.

“Ja, dit is korrek,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die NVG, in antwoord op ‘n SMS van Sapa af gesê.

Nomgcobo Jiba, voormalige waarnemende NVG-hoof, Sibongile Mzunyathi, direkteur van van openbare vervolging vir Gauteng-Noord, en Lawrence Mrwebi, hoof van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, word van meineed aangekla.

City Press berig die aanklagte volg na hofbevindinge wat verlede jaar oor die NVG se leierskap gemaak is.

Dit was nadat die organisasie Freedom Under Law ‘n aansoek gebring het vir die herinstelling van strafregtelike klagte en tugstappe teen Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid.

Mdluli is Maandag terug in die hof. Hy word glo onder meer van ontvoering, aanranding en intimidasie aangekla.

Mncube het bevestig dat Mdluli in die Palm Ridge-landdroshof moet verskyn maar kon nie uitbrei oor die aanklagte teen hom nie.

Volgens City Press het Mxolisi Nxasana, die nasionale direkteur van openbare vervolging, aan president Jacob Zuma geskryf en gevra dat hy Jiba, Mrwebi en Mzinyathi moet skors, hangende ‘n ondersoek oor hul bevoegdheid.

Zuma het Nxasana vroeër die week in kennis gestel dat hy oorweeg om hom te skors.

Volgens mediaberigte is Nxasana in 1985 vir moord aangekla maar is hy later vrygespreek na sy weergawe van selfverdediging. Hy het glo ook erken dat hy in September verlede jaar vir roekelose bestuur en verset teen arrestasie in hegtenis geneem is.

Hy is glo ook 12 jaar gelede met R2 000 beboet en vir drie jaar geskors deur die KwaZulu-Natalse Prokureursorde weens wangedrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.