NVG, Eskom werk saam aan staatskapingsake

Voorsitter van die kommissie, Raymond Zondo, het vroeër die eerste deel van die verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig (Foto: Presidensie/Twitter)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en Eskom het Donderdag ingestem om saam te werk om diegene wat by die kommissie na staatskaping se verslag betrek word, tot verantwoording te roep.

Dit volg nadat hoofregter Raymond Zondo in sy vierde gedeelte van die verslag bevind het dat die omstrede Gupta-familie ʼn plan deurgevoer het om die kragvoorsiener met die hulp van oudpres. Jacob Zuma te kaap.

Luidens die verslag is die Guptas se uitgesoekte amptenare in strategiese posisies by Eskom geplaas sodat Eskom se bates daarna tot die Guptas se finansiële voordeel herlei kon word.

Die NVG en Eskom het in ʼn gesamentlike verklaring gesê dat hulle ooreengekom het om hul bestaande samewerking te verbeter om die staatskapingsake en ander georganiseerde misdade teen Eskom doeltreffend te koördineer.

“Dit is ʼn prioriteit vir albei entiteite om diegene wat verantwoordelik is vir staatskaping en ander misdade tot verantwoording te roep, veral in ag genome die verwoestende uitwerking wat dié misdade op Suid-Afrika se ontwikkeling en ekonomiese vooruitsigte het.”

Volgens die entiteite sal hulle voorts meer inligting met mekaar deel, asook hoëvlak- en operasionele koördinering deel, terwyl die NVG se onafhanklikheid terselfdertyd beskerm word.

Waar moontlik, sal die NVG en sy ondersoekdirektoraat (OD) met Eskom-ondersoekers en regskenners beraadslaag om sy pogings tot aanspreeklikheid vir beweerde oortreders te verseker.

Eskom het reeds ʼn projekspan saamgestel wat deur sy interne en eksterne prokureurs ondersteun word, ten einde te verseker dat die kommissie na staatskaping se verslag hersien en verstaan word sodat gepaste stappe volgens die aanbevelings gedoen kan word.

“Onder leiding van Eskom se bestuur sal die paneel nou saamwerk om inligting, soos toepaslik, met die NVG te deel met die oog op die vervolging van staatskapingmisdade.”

Volgens die NVG het hy reeds vordering gemaak in sake wat staatsentiteite, waaronder Eskom, by Zondo se verslag betrek.

“Die NVG het hom daartoe verbind om dié sake in die komende maande deur te voer,” sê hy.

“Strafloosheid vir dié misdade wat teen Suid-Afrikaners gepleeg word, is nie meer ʼn opsie nie.”

Die entiteite beplan ook om saam te werk om ander misdade, soos kabeldiefstal en skade aan noodsaaklike infrastruktuur, te takel. Dié soort misdade belemmer Eskom se daaglikse bedrywighede en het reeds grootskaalse kragonderbrekings veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pietertjie ·

So, ons kan ‘n skerp toename in die Jacob-Zuma-sindroom verwag.

annie ·

… trapsuutjies in aksie… Moet net nie die diertjie skrikmaak nie dan verstar hy in aksie. En hy verander dadelik van kleur afhangende van die omgewing. Moet dus nie haastig wees in jul verwagtings nie. Onthou Eskom is nie in een dag gebou nie.

Sarel ·

Almal gaan skielik ‘n kwaal ontwikkel en te siek word om Hof by te woon of Tronk toe te gaan.. Gazn Eskom ooit die jare oorleef wat dit gaan neem om due mense te vervolg. Gsan dit ooit gebeur..

Pieter ·

Dis alles goed en wel, maar die Speaker – wat klaarblyklik die meeste gesag het – het gese dat geen vervolging mag geskied voor die volledige Zondo-verslag eers oorhandig is nie…… Dus kan ons nog ‘n paar maande wag voor daar eers BESLUIT word watter stappe teen enige geimpliseerdes geneem sal word.

Nie Verbaas ·

Ag asseblief. Wys ons. Nog nie een van die groot menere agter tralies nie. Net weer die gewone ou blah blah blah? Malema kan nie eers vir aanranding en onwettige vuur van n vuurwapen gevonnis word nie.

Renier johannes ·

Daar gaan niks van kom nie anc sorg vir al sy kaders

SjN ·

En Cyril werk saam met sy kaders en familie om eskom oor te neem!!!

Witbaard ·

Eskom se kaders soek iemand in die binnekring om seker te maak die ware feite word verdraai.

Winnie ·

Het die hospitale genoeg beddens vir die nuwe terminale pasiente wat skielik gaan uitspring?

Swerwer ·

Al die bewyse is daar maar Zuma is nog steeds nie agter tralies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.